Название: Pruimtwak en skaduboksers
Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Жанр: Языкознание
isbn: 9780624073284
isbn:
Dié fliek het ’n jazz-klankbaan gehad, maar Johnny Strabler was die argetipiese rocker. Elvis en James Dean het hul bakkebaarde by Brando se Johnny afgekyk, maar sy rock ’n’ roll het nie in die kotelette, die swart leerbaadjie, motorfiets of klankbaan gelê nie. Dit was in die hele houding waarmee Johnny die noodlot, gesag, ja, die lewe en dood uitgedaag en getart het.
“THE PIÑA COLADA SONG” – DIE DROOM VAN ONTVLUGTING
If you like piña coladas and getting caught in the rain
If you’re not into yoga, if you have half a brain
If you like making love at midnight in the dunes of the cape
Then I’m the love that you’ve looked for, write to me and escape
Só gaan die refrein van een van my gunsteling- “one-hit wonders” – Rupert Holmes se nommereen-treffer uit die jaar 1979, “Escape (The Piña Colada Song)”. Daar’s iets onweerstaanbaars in die 70’s-kitsch van die klank en die oordrewe dramatiese ironie in die storie van die ou wat reageer op die bogenoemde persoonsberiggie net om uiteindelik vas te stel die vrou wat dit geplaas het, is sy eie lewensmaat – dié een met wie hy so verveeld was: “I was tired of my lady, we’d been together too long / Like a worn-out recording of a favourite song”.
Nadat my eerste digbundel, In die buitenste ruimte, in 2006 verskyn het, het ek “Escape” een aand weer op die Shrek-klankbaan raakgehoor en gedag, ja, om poësie te publiseer, is baie soos om so ’n beriggie in die hoekie vir eensames te plaas.
Voordat dit gepubliseer word, hoop en bid jy half onbewus dat daardie beriggie, oftewel jou eerste dun bundeltjie, jou oorweldigende, verwarrende klein lewetjie bestaansreg sal gee; dit sal transformeer in iets groters en beters. Nie lank daarna nie besef jy: maar jy sit steeds effe platsak met die kopseer van die wêreld en jouself. En nou moet jy boonop aan ander maniere probeer dink om daaroor te skryf sodat jy as ’t ware jou eie noodtoestand kan vernuwe.
Die beste ding van publikasie is egter dat jy, soos die verteller van “Escape”, opnuut in aanraking kom met mense wat jy dalk verwaarloos het. Jy ontmoet ook ’n rits nuwe reisgenote wat op soortgelyke manier as jy aan die lewe ly (en ook nie in joga belangstel nie).
Maar van die bittersoet storie agter die “Piña Colada Song” hou ek selfs nog meer as van die liedjie. Want sien, Holmes is eintlik ’n veelsydige, dikwels ook ernstiger kunstenaar. Hy het verskeie Broadway-stukke agter sy naam, onder meer Say Goodnight, Gracie en The Mystery of Edwin Drood. Hy het liedjies geskryf wat opgeneem is deur Barbra Streisand, Judy Collins en Britney Spears, die televisiereeks Remember WENN geskep en die roman Where the Truth Lies geskryf. Sy werk is al met Tonys, Emmys en Edgars bekroon. Maar ten spyte daarvan is hy net waarlik bekend vir sy “Piña Colada Song”.
In ’n onderhoud met songfacts.com het Holmes dit só gestel: “Ek vermoed as ek ’n hele brandende weeshuis van ’n vlammedood red, sal iemand wanneer ek die laaste kind op my skouers uitdra en halfverkool daar staan, sê: ‘Is jy nie daai ou wat die Piña Colada Song geskryf het nie?’”
’n Verdere ironiese stertjie aan die storie is dat Holmes nog nie eens ’n piña colada oor sy lippe gehad het toe hy die lirieke geskryf het nie. Die oorspronklike reël was: “If you like Humphrey Bogart and getting caught in the rain.”
Toe reken Holmes sy vorige albums was reeds vol fliekverwysings en hierdie vrou wil ontsnap na ’n tropiese eiland en op daardie eiland wil sy nie ’n Budweiser bestel nie, maar ’n mengeldrankie in ’n uitgeholde pynappel met ’n lang strooitjie en vlaggies in, iets soos ’n piña colada.
En terwyl Holmes nog wonder hoe ’n piña colada nou eintlik proe, besef hy dié twee woorde werk boonop beter as “Humphrey Bogart” in terme van klem, lettergrepe, klank en assosiasie.
Holmes sê hy het dié verandering gemaak omtrent vyf minute voor hy begin het om die liedjie op te neem, maar dit het gewerk soos ’n bom. Voor “Escape” ’n nommereen-treffer in Amerika was, het min kroeë en restaurante piña coladas op die spyskaart gehad; daarna was dit oral verkrygbaar.
Die verhaal van Holmes en sy een groot treffer wys jou dit is eenvoudig nie waar dat almal kan doen en bereik wat hulle wil met genoeg toewyding en harde werk nie. Hoekom hierdie mite, wat so duidelik die uitsondering tot ’n reël verhef en daarmee 99 persent van die mensdom mismoedig stem, so graag oraloor verkondig word, is ’n raaisel. Die wêreld en sy toevallighede is duidelik sterker as enige individu en in watter mate jou sukses of jou mislukkings en teleurstellings jou definieer, is nooit heeltemal in jou hande nie.
Een van die roerendste tonele in Steven Soderbergh se rolprent oor Liberace, Behind the Candelabra (2013), is wanneer ’n uitgemergelde Liberace op sy sterfbed aan sy voormalige minnaar Scott Thorson sê: “I just don’t want to be remembered as some old queen who died of Aids.” (Die einste Rupert Holmes dra terloops by tot die Candelabra-klankbaan.)
Net soos Liberace tot op die laaste gerebelleer het teen die rol wat die Groot Draaiboek aan hom wou opdring, is Holmes sekerlik meer as die man agter die “Piña Colada Song”. Ook ek wil soms sê maar hier’s iewers ’n fout, meneer, ek is nie regtig hierdie verwarde geskeide man met ’n oortrokke bankrekening en gestampte motor nie.
Maar van een ding is ek seker, as ek sou weet hoe om ’n speelse one-hit wonder soos “Escape” te skryf, doen ek dit nou dadelik.
KAN NIE KLA NIE
Die een gedig in Loftus Marais en Heilna de Plooy se Nuwe stemme 5-bloemlesing wat ek wens ek geskryf het, is Desmond Painter se “Aanvaarding”:
Ek aanvaar die lewe waarin ek gebore is.
Ek aanvaar my gesig, die kleur van my vel.
Ek aanvaar hier en daar, ek aanvaar
Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval
vir my uitgesteek het, al die kwynende klanke.
Ek’s ’n man en ek aanvaar dit. Getroud, kinderloos
nog aanvaar ek, soos dat ek bogronds dwaal
maar ondergronds dood sal wees.
Ek aanvaar die slae van die lewe:
die fronsende gesig, die tewerige tong.
Ek aanvaar die bedelaar en die honger kind.
Daar’s ’n oorlog, ek aanvaar dit; die bittereinder,
die vredesduif, die koerantverkoper,
en elke slaaf van God aanvaar ek.
Kontinente en valleie, koepelsvol son.
Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar.
Painter se gedig is geskoei op “Acceptance” van die Turkse digter Ziya Osman Saba, maar soos ’n geïnspireerde cover-weergawe van ’n liedjie verstel hy die klem en die perspektief treffend. Saba se vers gaan oor essensiële magteloosheid en die menslike toestand; Painter s’n meer spesifiek oor die (oorwegend wit) Suid-Afrikaanse middelklasvariant van dieselfde toestand.
СКАЧАТЬ