Название: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman
Автор: Herman Charles Bosman
Издательство: Ingram
Жанр: Публицистика: прочее
isbn: 9780798164474
isbn:
Net voor ons daar weg is, sterf een van Ferreira se dogters. Ons grawe ’n vlak gat in die sand en begrawe haar.
Dis toe dat ons besluit om terug te trek.
Ná sy dogter se dood gaan Abraham Ferreira na Gerhardus toe en sê hom dat, as ons vroeër sy voorstel aanvaar het om om te draai, sy dogter nog sou geleef het.
“Jou dogter is nou dood, Abraham,” sê Gerhardus. “Dit help nie ons praat verder oor haar nie. Ons moet almal eendag sterwe. Ek het vroeër geweier om terug te draai. Nou het ek besluit om terug te draai.”
Abraham Ferreira kyk Gerhardus reg in die oë en lag. Ek sal altyd die klank van daardie lag in die woestyn onthou. In Abraham se stem is daar die skorheid van sand en dors. Sy stem is gebroke deur wat die woestyn aan hom gedoen het; sy gesig is vol skerp lyne en sy lippe is swarterig. Maar niks omtrent sy voorkoms verraai iets van sy smart oor sy dogter se dood nie.
“Jou dogter lewe nog, oom Gerhardus,” sê Abraham Ferreira, en wys na die wa waar Gerhardus se vrou lê, baie verswak, en ook die kind aan wie sy ’n paar maande gelede die lewe geskenk het. “Ja, sy lewe nog … tot dusver.”
Ferreira stap laggend weg, en’n rukkie later hoor ons hoe hy met krakende stem vir sy vrou vertel van die grap wat hy gemaak het.
Sonder om iets te sê, staan Gerhardus Grobbelaar en kyk hoe die ander man wegstap. Tot dusver het ons Gerhardus deur alles heen gevolg, en ons het groot vertroue in hom gehad. Maar noudat ons besluit het om terug te trek, het ons ons geloof in hom verloor. En ons het dit eensklaps verloor. Ons besef dat die beste ding sal wees om terug te trek, en dat om voort te gaan sal beteken dat ons almal in die Kalahari sal sterf. En tog, as Gerhardus gesê het ons moes voortgaan, sou ons dit gedoen het. Ons sou saam met hom deurgedruk het tot aan die einde. Maar noudat hy so te sê erken het dat die woestyn hom geknak het, het ons geen geloof meer in Gerhardus nie. Dit is waarom ek sê dat Paul Kruger ’n groter man as Gerhardus was. Want Paul Kruger was die soort man wat ons steeds verafgood het, al het hy besluit om die stryd gewonne te gee. As dit Paul Kruger was wat ons aangesê het om terug te draai, sou ons met moed in ons harte omgedraai het. Ons sou presies dieselfde liefde jeens ons leier gekoester het, selfs al het ons geweet dat hy verslaan was. Maar van die oomblik wat Gerhardus sê ons moet terugdraai, weet ons almal dat hy nie meer ons leier is nie. Gerhardus weet dit ook.
Ons weet wat tussen ons en Malopolole lê en daar is groot twyfel in ons harte terwyl ons ons waens omdraai. Ons trekdiere is baie swak, en ons moet almal inspan wat kan loop. Ons het nie genoeg jukke nie, en daarom sny ons gate in pale wat ons van die enkele bome kap en aan die trekkettings vasmaak. Aangesien ons ook nie skeie het nie, moet ons die nekke van die osse met stroppe direk aan die jukke vasmaak, en heelparty van die osse word doodgewurg.
Toe kom ons agter dat Koos Steyn van sy kop af is. Want hy weier om terug te draai. Hy span sy osse in en maak reg om verder te trek. Sy vrou sit doodstil op die wa met die baba; waar haar man ook al gaan, sou sy hom volg. Dis natuurlik te verstane. Party vroue groet haar met ’n soen, en sommige huil. Maar Koos Steyn se vrou huil nie. Ons probeer met Koos redeneer, maar hy sê hy’t klaar besluit om deur die Kalahari te trek en hy gaan nie vir enige nonsens terugdraai nie.
“Maar, man,” sê Gerhardus Grobbelaar, “jy’t niks water om te drink nie.”
“Dan sal ek koffie drink,” antwoord Koos Steyn en lag soos altyd, en tel die sweep op en stap aan langs die wa. En Webber is saam met hom weg, en waarskynlik net omdat Koos Steyn vir hom goed was, dink ek. Dis hoekom ek gesê het Engelsmanne is vreemde goed. Webber moes geweet het dat, as Koos nie inderdaad van lotjie getik was nie, was sy optrede waansinnig, en tóg het hy by hom gestaan.
Ons paaie skei. Ons waens begin stadig in die rigting van Malopolole terugbeweeg. Koos Steyn se wa beweeg dieper die woestyn in. My wa vertrek laaste. Ek kyk terug na die Steyns. Op daardie oomblik kyk Webber ook om. Hy sien my en wuif. Dit herinner my aan die dag tydens die Boereoorlog toe daardie ander Engelsman, wie se vriend ek geskiet het, ook omgedraai en gewuif het.
Uiteindelik bereik ons Malopolole met twee waens en ’n klompie vee. Ons het die ander waens agtergelaat. Vreeslike dinge het in daardie woestyn gebeur. ’n Paar kinders is dood. Gerhardus Grobbelaar se wa was reg voor myne. Op ’n keer sien ek ’n bondel deur die kant van die wakap val. Ek weet wat dit is. Gerhardus sou nie die moeite doen om sy kind te begrawe nie, en sy vrou lê in die tent, te swak om te beweeg. Daarom klim ek van my wa af en skraap ’n hopie sand oor die bondeltjie. Al wat ek van die res van die tog na Malopolole onthou, is die son en die sand. En die dors. Hoewel ons in ’n stadium dink ons het verdwaal, maak dit nie eintlik vir ons saak nie. Ons is verby die punt waar ons enigiets voel. Ons kan nie bid of vloek nie, ons droë tonge kleef aan ons verhemeltes vas.
Tot vandag toe is ek nie seker hoeveel dae ons terugtog geduur het nie, tensy ek gaan sit en dit uitwerk, en dan voel ek steeds ek is verkeerd. Ons was terug by Malopolole en water. Ons het gesê ons sou nooit weer daarvandaan weggaan nie. Ek dink nie eens die ouers wat kinders verloor het, het oor hulle getreur nie. Hulle was afgestomp deur wat hulle deurgemaak het. Maar ek het geweet dat alles later sou terugkom. Dan sou hulle onthou van vlak grafte in die sand, en Gerhardus Grobbelaar en sy vrou sou aan ’n bondeltjie dink wat iewers in die Kalahari lê. En ek het geweet hoe hulle sou voel.
Later rus ons ’n wa toe met vars osse; ons vat ’n ruim voorraad water saam en gaan terug woestyn toe om die Steyn-gesin te gaan soek. Met die hulp van Setsjoeana-kaffers wat spore kan sien wat ons nie kan sien nie, kry ons die wa. Die osse is uitgespan; ’n paar lê dood langs die wa. Die kaffers wys voetspore in die sand uit wat aandui in watter rigting die twee mans en die vrou geloop het.
Uiteindelik kry ons hulle.
Koos Steyn en sy vrou lê langs mekaar in die sand; die vrou se kop rus op die man se skouer; haar lang hare het losgekom en waai liggies in die wind. ’n Groot hoeveelheid fyn sand het oor hulle liggame neergesif. Naby hulle lê die Engelsman, gesig na onder. Ons het nooit die baba, Jemima, gekry nie. Sy moes iewers langs die pad gesterf het en Koos Steyn moes haar begrawe het. Maar ons stem saam dat die Engelsman, Webber, verskriklike dinge moes deurgemaak het; hy kon nie enige begrip meer gehad het van wat die Steyns met hulle baba gedoen het nie. Hy het waarskynlik, tot die oomblik van sy dood, gedink dat hy die kind dra. Want toe ons sy liggaam oplig, kry ons, steeds in sy dooie en stokstywe arms vasgeklem, ’n paar ou flenters lap en die klere van ’n kind.
Dit het vir ons gevoel asof die wind wat altyd in die Kalahari waai daardie oggend baie stil en sag waai.
Ja, die wind het baie sagkens gewaai.
NOOI VAN DIE VELD
EK WEET WAT DIT BETEKEN – sê oom Schalk Lourens – as jy so oor die veld praat. Ek ken mense wat nes jy oor die veld sit en droom, en vreemde goed kwytraak, en begin glo in wat hulle die siel van die veld noem, tot die veld uiteindelik iets anders vir hulle as vir my beteken.
Ek weet net die veld kan gebruik word om mielies te verbou, en dis ook nie baie geskik daarvoor nie. En dit beteken baie harde werk vir my, om mielies te verbou. Daar’s die ploeëry, byvoorbeeld. Ek het altyd rug- en skouerpyne gekry van die ganse dag lank op ’n klip aan die rand van die veld sit, terwyl ek kyk hoe die kaffers en die osse en die ploeg op en af beweeg, en vore maak. Hans Coetzee, hy was ’n Boere-krygsgevangene op St. Helena, het my vertel hoe siek hy op see geraak het van kyk hoe die skip op en af, op en af gaan, die hele tyd.
En dis dieselfde met ploeg. Die enigste kuur vir hierdie ploegsiekte is om stil op ’n riempiesbank op die stoep te sit, met jou bene effens gelig, en koffie te drink tot die ploegseisoen verby is. Die meeste van die boere in die Marico-bosveld СКАЧАТЬ