Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Herman Charles Bosman
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman страница 10

Название: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman

Автор: Herman Charles Bosman

Издательство: Ingram

Жанр: Публицистика: прочее

Серия:

isbn: 9780798164474

isbn:

СКАЧАТЬ lelikste een “Frans Welman se plaas” te noem.

      Toe, een oggend, kom hy baie opgewonde by my aan.

      “Ek het haar weer gesien, oom Schalk,” sê hy, “ek het haar laas nag gesien. Onvergelyklik beeldskoon. Presies om middernag. Sy het saggies oor die veld na my tent toe aangekom. Die nag was warm en lieflik, en die sterre was dol en singend. En daar was sagte musiek waar haar wit voete aan die gras raak. En soms het dit gelyk asof haar mond lag, en soms was dit hartseer. En haar lippe was baie rooi, oom Schalk. En toe ek my arms uitsteek, gaan sy weg. Sy het tussen die maroelas verdwyn, soos die fluistering van die wind. En daar was ’n gesuis in my ore. En in my hart was daar ’n groen geur, en ek het gedink aan die bleek daglelie wat in die paradysvelde groei.”

      “Ek weet nie van die paradys nie,” sê ek, “maar as so ’n ding in my mielielande groei, sal ek toesien dat die kaffers dit dadelik uittrek. Ek hou niks van hierdie spooknonsens nie.”

      Toe gee ek hom ’n stukkie goeie raad. Ek sê hom om op te pas vir die maan, wat toe amper vol is. Omdat die maan vreemde dinge aan jou kan doen in die Bosveld, veral as jy in ’n tent bly en die volmaan is reg bo jou kop en daar is vreemde skadu’s tussen die maroelas.

      Maar ek weet hy sal hom nie steur aan enigiets wat ek hom vertel nie.

      Verskeie kere daarna kom hy met dieselfde storie oor die nooi van die veld. Ek begin moeg raak daarvoor.

      Toe hy een oggend weer opdaag, sê die uitdrukking in sy oë sommer alles. Ek het jou reeds van daardie kyk vertel.

      “Oom Schalk,” begin hy.

      “John de Swardt,” sê ek hom, “ek wil niks hoor wat jy te vertelle het nie. Al wat ek jou vra, is om jou goed te pak en my plaas onmiddellik te verlaat.”

      “Ek sal vanaand gaan,” sê hy. “Ek belowe ek sal teen moreoggend weg wees. Laat my net nog een dag en ’n nag bly.”

      Sy stem bewe toe hy praat, en sy knieë is baie onvas. Maar dis nie om hierdie redes of ter wille van hom wat ek toegee nie. Dis oor die uitdrukking in sy oë dat ek ordentlik met hom praat.

      “Goed dan,” sê ek, “maar jy moet reguit teruggaan Johannesburg toe. As jy padlangs loop, sal jy die Goewermentslorrie na Zeerust kan vang.”

      Hy bedank my en loop. Ek het hom nooit weer gesien nie.

      Die volgende dag is sy tent steeds daar agter die maroelas, maar John de Swardt is weg, en hy het al sy prente met hom saamgevat. Almal, behalwe die nooi van die veld. Ek veronderstel hy het geen nut meer daarvoor gehad nie.

      En die rysmiere het buitendien reeds daarmee begin. Daarom kan ek wat oor is daarvan openlik teen die muur in my voorkamer hang, en die predikant teken geen beswaar aan nie. Want die rysmiere het feitlik alles behalwe die gesig weggevreet.

      En wat Frans Welman betref, het dit baie lank geneem voor hy opgehou het om die Marico te deurkruis op soek na sy jong vrou, Sannie.

      DIE MUSIEKMAKER

      NATUURLIK WEET EK VAN GESKIEDENIS – sê oom Schalk Lourens – dis iets wat die kinders op skool leer. Juis die ander dag, by Thys Lemmer se poskantoor, begin Thys se seuntjie Stoffel uit sy geskiedenisboek voorlees oor ’n man genaamd Vasco da Gama, wat die Kaap besoek het. Dirk Snyman begin dadelik vir klein Stoffel vertel van die keer toe hy die Kaap besoek het, maar klein Stoffel steur hom nie veel aan hom nie. Wys jou net, merk Dirk Snyman op.

      In elk geval, sê Dirk Snyman toe, wat hy vir klein Stoffel wil vertel, is dat ’n kaffer reg langs hom op die trem kom sit het toe hy laas in die Kaap was. Erger nog, gaan Dirk Snyman voort, niemand het iets daarvan gedink nie.

      Ja, dis ’n vreemde gedoente om deel van die geskiedenis te wil wees.

      Vat nou byvoorbeeld die geval van Manie Kruger.

      Manie Kruger was een van die beste boere in die Marico. Hy het geweet presies hoeveel mampoer om vir die belastinggaarder te skink om seker te maak hy knik droomverlore op alles wat Manie sê. En in droogtetye kon niemand vinniger na die Goewerment toe hardloop vir hulp as Manie Kruger nie.

      Toe, op ’n dag, lees Manie Kruger ’n artikel in die Kerkbode oor ’n musikant wat gesê het hy weet meer van musiek af as Napoleon. Daarna – nadat hy eers ’n ander artikel gelees het om uit te vind wie Napoleon was – is Manie Kruger ’n ander mens. Hy kan oor niks anders praat as sy plek in die geskiedenis en sy musikale loopbaan nie.

      Natuurlik het almal geweet dat as dit kom by konsertina speel, daar in die Marico niemand was wat Manie Kruger se gelyke was nie.

      Geen Bosvelddans was volledig sonder Manie Kruger se konsertina nie. Wanneer hy ’n vastrap speel, kon jy jou voete nie stilhou nie. Maar nadat hy besluit het om die soort musikant te word waaroor daar in geskiedenisboeke geskryf word, was dit vreemd hoe Manie Kruger verander het. Om maar een ding te noem, hy het gesê hy speel nooit weer by ’n dans nie. Ons het almal afgehaal gevoel. Dit was nie maklik om aan toekomstige Bosvelddanse te dink nie. Daar sou mampoer in die kombuis wees; in die voorkamer sou die dansers se voete deur die passies van die seties en die polka en die wals en die masurka gaan, maar op die riempiesbank in die hoek, waar die musikante sit, sou daar geen Manie Kruger wees nie. En hulle sou “Die vaal hare en die blou oge” en “Vat jou goed en trek, Ferreira” speel, maar dit sou iemand anders se vingers wees wat oor die konsertina se knoppies gly. En wanneer, met die dansery en die mampoer saam, die jongkêrels “Dagbreek toe!” uitroep, sou dit nie Manie Kruger se kop wees wat sak om die applous te ontvang nie.

      Dit was hartseer om aan al hierdie dinge te dink.

      So lank was Manie Kruger altyd die hoofmusikant by die Bosveld­danse.

      En van almal wat die verandering betreur het wat oor Manie gekom het, kon ons sien dat niemand meer bedroef was as Letta Steyn nie.

      En Manie het partykeer sulke aardige goed gesê. Op ’n keer het hy gesê, wat hy sal moet doen om in die geskiedenisboeke te kom, is om in die arms van ’n prinses aan tering te sterf, soos ’n ander musikant van wie hy gelees het. Maar ongelukkig is dit moeilik om tering op te doen in die Marico, want die klimaat is so gesond.

      Hoewel Manie opgehou het om sy konsertina by danse te speel, het hy wel dikwels by ander geleenthede gespeel. Hy het begin om uitvoerings te gee, soos hy dit genoem het. Ek het ’n hele paar van hulle bygewoon. Hulle was baie indrukwekkend.

      By die eerste uitvoering wat ek bywoon, is Manie se voorkamer van hoek tot kant volgepak met rye banke en stoele wat hy by van sy bure geleen het wat nie omgee om hulle etes van kersbokse en omgekeerde emmers te nuttig nie. Aan die ander kant van die voorkamer is ’n breë groen gordyn oor ’n stuk tou gespan. Toe ek daar aankom, is die plek stampvol. Ek druk my op ’n bank in, tussen Jan Terreblanche en ’n jong meisie met ’n blou kappie. Jan Terreblanche probeer die nooi se hand vashou.

      Manie Kruger sit agter die groen gordyn. Hy is reeds daar toe ek opdaag. Ek ken hom uit aan sy velskoene wat onder die groen gordyn uitsteek. Letta Steyn sit voor my. Nou en dan, wanneer sy omkyk, sien ek daar is ’n blos op haar wange en ’n uitdrukking van donker opwinding in haar oë.

      Uiteindelik is alles gereed, en Joel, die plaaskaffer aan wie Manie dié taak toevertrou het, trek die groen gordyn stadig opsy. ’n Paar van die jonger kêrels roep “Middag, ou Manie,” en Jan Terreblanche wil weet of dit nie baie benoud en bedompig is om so agter die groen gordyn te sit nie.

      Toe СКАЧАТЬ