Название: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman
Автор: Herman Charles Bosman
Издательство: Ingram
Жанр: Публицистика: прочее
isbn: 9780798164474
isbn:
Dit is meesterlik.
Die applous is strykdeur oorverdowend. Aan die einde van elke stuk trek die kaffer die gordyn voor Manie toe, en ons sit vir ’n paar minute en wag totdat die gordyn weer opsy getrek word. Maar ná daardie eerste keer word daar nie weer oor die prosedure gelag nie. Die uitvoering duur omtrent ’n uur en ’n half, en die applous aan die einde is selfs harder as aan die begin. Manie verlaat in daardie negentig minute net een keer sy stoel, toe daar probleme met die gordyn is en hy opstaan om die kaffer ’n skop te gee.
Aan die einde van die uitvoering kom Manie nie, soos ons verwag, uit om met ons hand te skud nie. In stede daarvan glip hy agter die groen gordyn by die kombuis in en laat weet dat ons hom by die agterdeur kan kom sien. Aanvanklik vind ons dit vreemd, maar Letta Steyn sê dis korrek so. Sy verduidelik dat in ander lande die groot musikante en verhoogspelers almal hulle bewonderaars aan die agterkant van die teater ontvang. Jan Terreblanche sê as daardie akteurs hulle kombuise gebruik om hulle besoekers te onthaal, wonder hy waar hulle kook.
Hoe ook al, die meeste van ons gaan agter om na die kombuis toe, en ons geniet dit baie om Manie Kruger geluk te wens en sy hand te skud; en Manie wy uit oor sy musikale toekoms en oor die segetogte wat in die groot stede van die wêreld op hom wag, wanneer hy voor die gordyn sal staan en buig vir die applous.
Manie gee nog ’n aantal uitvoerings ná daardie een. Hulle is almal ewe wonderlik. Die probleem is dat hy aaneen moet oefen en nie veel aandag aan sy boerdery kan gee nie, met die gevolg dat sy plaas tot niet gaan en hy in die skuld gedompel word. Die balju’s kom en lê op die helfte van sy vee beslag terwyl hy besig is om vir sy vierde uitvoering te oefen. En hy is besig om vir sy sewende uitvoering te oefen toe hulle sy ossewa en muilkar vat.
Uiteindelik, toe Manie Kruger se musikale loopbaan die punt bereik waar hulle sy ploeg en die laaste van sy osse vat, verkoop hy die res van sy aardse besittings en verlaat die Bosveld, onderweg na daardie groot stede waaroor hy so dikwels gepraat het. Die afskeid wat die Marico hom gee, is spoggerig. Die predikant en die Volksraadslid steek albei toesprake af oor hoe trots die Transvaal op sy seun is. Toe kom Manie se antwoord. In plaas daarvan dat hy sy gehoor bedank, begin hy ons links en regs beledig, noem ons ’n bende skorriemorries en siellose filistyne, en sê hoe hy ons verag.
Ons is uiteraard uit die veld geslaan deur hierdie uitbarsting, aangesien ons altyd goed vir Manie Kruger was en hom aangemoedig het soveel ons kon. Maar Letta Steyn verduidelik dat Manie nie regtig die gemene goed bedoel wat hy sê nie. Sy sê dis maar net dat dit van elke groot kunstenaar verwag word om so te praat van die plek waar hy vandaan kom.
Toe verstaan ons dat dit in orde is, en hoe meer beledigend die dinge wat Manie oor ons kwytraak, hoe harder skree ons: “Hoor, hoor vir Manie.” Daar is dawerende toejuiging toe hy sê ons weet omtrent soveel van kuns af as ’n boomslang. Sy taal is driftiger as enigiets wat ek al ooit gehoor het – op een geleentheid na. En dit was toe De Wet gesê het wat hy dink van Cronjé se oorgawe aan die Engelse by Paardeberg. Ons kan hoor dat Manie se toespraak die ware jakob is. Ons juig ons behoorlik hees daardie dag.
En so is Manie Kruger vort. Ons kry een brief om te sê dat hy Pretoria bereik het. Maar daarna hoor ons nie weer van hom nie.
Tóg, telkens wanneer Letta Steyn oor Manie praat, is dit soos wanneer ’n kind oor ’n droom praat, en altyd, met die stem van ’n verlangende kind, vertel sy my eendag, eendag sal hy terugkeer. En dikwels, teen skemer, sou ek haar op die stoep sien sit terwyl sy oor die veld die aand in tuur, wagtend op die minnaar wat nie na haar sou terugkeer nie.
’n Lang tyd verloop voor ek Manie Kruger weer sien. En dit is in Pretoria. Ek is daar om ’n onderhoud met die Volksraadslid oor ’n verkiesingsbelofte te voer. Dis blote toeval dat ek Manie sien. En hy is besig om die konsertina te speel – beter as ooit, na my mening. Ek maak my vinnig uit die voete. Maar wat my onkant vang, is die vinnige kyk wat ek kry van die groen gordyn van die kroeg waarvoor Manie Kruger sit en speel.
DIE PAD NA MAFEKING
AS MENSE MY VRA – soos dikwels gebeur – hoe ek dit regkry om die beste stories van almal in die Transvaal te vertel (sê oom Schalk Lourens beskeie), dan verduidelik ek vir hulle dat ek leer bloot deur te kyk hoe die lewe met mans en vroue omgaan. Wanneer ek dit sê, knik hulle hulle koppe en sê hulle verstaan, en dan knik ek my kop ook, en dit lyk of hulle tevrede is met die verduideliking. Maar wat ek hulle vertel, is natuurlik ’n leuen.
Want dit is nie die storie wat tel nie. Wat tel, is hoe jy dit vertel. Dis belangrik om te weet presies wanneer om jou pyp teen jou velskoen uit te klop, en op watter plek in die storie jy oor die skoolkomitee op Drogevlei moet begin gesels. ’n Ander noodsaaklike ding is om te weet watter deel van die storie om uit te laat.
En dis dinge daardie wat jy nooit kan aanleer nie.
Kyk nou vir Floris, die laaste van die Van Barnevelts. Daar bestaan geen twyfel dat hy ’n goeie storie het nie, en daar is geen rede waarom hy nie mense kan oorreed om daarna te luister nie. En tog steur niemand hulle aan hom of aan wat hy te vertelle het nie. Bloot omdat hy nie die storie behoorlik kan vertel nie.
Gevolglik maak dit my telkens hartseer wanneer ek na hom luister. Want ek kan sien presies waar hy droogmaak. Hy kan nooit verstaan wanneer dit die regte tyd is om die as uit sy pyp te klop nie. Hy gee altyd sy mening oor die Drogevlei-skoolkomitee op die verkeerde plek. En, erger nog, hy weet nie watter deel van die storie om uit te laat nie.
En dit sou vergeefs wees vir my om hom te probeer leer, want, soos ek gesê het, dis iets wat jy nooit kan aanleer nie. Elke keer as hy dus sy storie klaar vertel het, sien ek hoe hy wegdraai van my met ’n miserabele uitdrukking op sy gesig, en stadig, met hangskouers, in die pad af loop, die laaste van die Van Barnevelts.
Teen Floris se voorkamermuur is ’n lang familiestamboom van die Van Barnevelts. Jy kan self gaan kyk. Dit gaan meer as tweehonderd jaar terug, na die Van Barnevelts van Amsterdam. Vroeër het dit selfs verder teruggegaan, maar dit was voor die rysmiere bo begin en ’n hele klomp van die Van Barnevelts weggevreet het. Nietemin, as jy na daardie lys kyk, sal jy sien heel onder, onder Floris se eie naam, is die laaste inskrywing, “Stephanus”. En ná “Stephanus”, tussen twee krom strepies, lees jy die woorde “Obiit Mafeking”.
Met die uitbreek van die Tweede Boereoorlog is Floris van Barnevelt ’n wewenaar met een seun, Stephanus, wat sewentien jaar oud is. Die kommando uit ons deel van die Transvaal vertrek in ’n vrolike luim. Ons lyk indrukwekkend, met ons perde en ons breërandhoede en ons bandeliers, en met die son wat op ons mausers se lope blink.
Jong Stephanus van Barnevelt is die opgewekste van ons almal. Tog is daar een ding van oorlog waarvan hy nie hou nie, sê hy, en dit is dat ons uiteindelik oorsee sal moet gaan. Hy sê, nadat ons die hele Kaap verower het, sal ons kommando Engeland per skip moet gaan aanval.
Maar ons gaan nie oorsee nie, nie toe al nie. In plaas daarvan vertel ons veldkornet ons dat die burgers uit ons streek opdrag gekry het om aan te sluit by die groot kommando wat Mafeking beleër. Ons moet ’n man by name Baden-Powell daar gaan skiet.
Ons kry koers in ’n westelike rigting. Ná ’n ruk kom ons agter dat ons veldkornet dikwels van sy perd afklim en met verbygaande kaffers gesels nadat hy hulle eers ’n hele entjie van die pad af weggelei het om dan ernstig met hulle te praat. Dis natuurlik reg van ons veldkornet om aan die kaffers te verduidelik dat ons nou in СКАЧАТЬ