Donkermaan. André P. Brink
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donkermaan - André P. Brink страница 10

Название: Donkermaan

Автор: André P. Brink

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780798158664

isbn:

СКАЧАТЬ sy maar by die bottel gaan troos soek het. En by mans. Dis nie dat ek haar blameer nie, ek meen, watter keuse het sy gehad? Maar dit was tough op my en Stephen – my broer, hy was twee jaar ouer – en later het die Welsyn ons na ’n kinderhuis toe gestuur. Toe ons na ’n paar jaar terug is na haar toe, wou sy nog steeds niks met ons te doene hê nie.” Met dié, verduidelik sy, het sy en haar broer baie na aan mekaar gebly. Hy was haar bondgenoot en vertroueling. Totdat hy haar “verraai” het. Glo iets wat Tessa in die grootste geheim aan hom vertel het toe sy sewentien was en wat hy aan haar ma gaan verklap het. Wat beteken dat nóg ma nóg broer haar nou kan uithelp; en selfs al sou hulle kon, sou sy verseg om te vra. Sy wil ook nie vriende daarmee opsaal nie. “Ek moet my eie battles fight.”

      Sy is te reguit vir my, ek kan dit nie hanteer nie. Sy sit en kyk na my asof sy verwag ek moet verder uitvra, maar ek sien nie kans nie: netnou antwoord sy. Wat sou haar beweeg om my soveel vertroulike dinge te vertel? Om my laaste verdediging te oorrompel? Om my te “toets”? Om my vir die gek te hou? Of sommer net om aan ’n impuls toe te gee?

      “Is daar g’n kans dat dinge met jou gewese verloofde kan regkom nie?” vra ek, net om uit die doodloopstraat te kom.

      “You must be joking,” sê sy met ’n snuif. “Om die waarheid te sê, hy’s die een wat wil terugkom. Hy’t nog vroeër vanaand daar by Margie se flat opgedraai, net toe ek wou regmaak om hiernatoe te kom.”

      “Dan was hy die pyn-in-die-gat besoeker wat jou vanaand kom pla het?”

      “Exactly. Jy kan nie glo watse scene hy gemaak het nie. Sê ek is wreed en harteloos, soebat vir nog ’n kans, druk ’n bos rooi rose in my hand, vreet die mat halfpad op. Ek dink nie ek sal mans ooit verstaan nie. ’n Maand gelede gooi hy my uit, verkoop al my meubels, doen ’n scorched earth op my lewe. Vandag kom kruip hy hande-viervoet. Ek het daar gestaan en afkyk na hom toe en gedink: Liewe Here, is dit nou die man wat ek so min of meer aanbid het? En nou sal ek nie eens ’n second-hand kar by hom koop nie.”

      “Dit kon tog nie sommer in jou klere gaan sit het nie?”

      “Nee, seker nie. Maar eintlik was dit good riddance. Besef jy, dit was die langste affair wat ek nog in my lewe gehad het? Genoeg om mens se derms te laat draai.”

      “Hoekom is dit vir jou so erg?”

      “Ek weet nie. Sommer net die gedagte. Ek meen, om mens vir jou hele lewe te commit.” Sy kyk ondersoekend na my. “Hoe lank was jy getroud?”

      “Vier-en-twintig jaar.”

      “Jisses.”

      “Jy laat dit soos ’n vonnis klink.”

      “Dis seker maar ’n generation ding.” Sy verskuif, vou haar lang bene onder haar in, leun agteroor teen die vormlose ou rusbank wat ek en Riana nog by ’n vendusie gekoop het: dit was ons eerste behoorlike meubelstuk na die bed. Ons het destyds nog nie eens ’n eettafel gehad nie, net ’n ou deur wat ons op vier stapeltjies bakstene staangemaak het. “En was julle gelukkig saam?”

      “Natuurlik.”

      “Ek kry altyd hond se gedagte as mense sê: ‘Natuurlik’.” ’n Pouse. Sy laat haar kop agteroor sak om op te kyk na die skaduwees teen die plafon. “Ek bedoel nie dat ek jou nie glo nie. Dis net dat ek omtrent nie kan dink aan ’n enkele couple onder my vriende wat gelukkig getroud is nie.”

      “Net oor jou ma julle verwaarloos het …”

      “Dit het niks met die saak te doen nie. Ek praat van my vriende. In die begin gaan hulle te kere soos bleddie konyne, daarna is dit kat en hond. Ek wonder partykeer of dit hulle manier is om te sê: ‘Ek het jou lief.’ Jy weet? Woorde beteken nie meer veel nie, nou try hulle maar iets anders. Was dit nie met julle ook so nie?”

      “Nee,” sê ek vasberade. “Ons het natuurlik ons rusies ook gehad. Maar by haar dood, sy was toe een-en-vyftig, was ons nog net so verlief as toe ons die eerste keer saamgeslaap het.”

      “En dis nou die gospel truth?”

      “Miskien was ons nog méér verlief aan die einde. As mens soveel saam deurmaak, soveel goed en kwaad met mekaar deel …” Ek raak seker nou bietjie aangetas deur die wyn; ek was nooit veel van ’n drinker nie. En daar is te veel in my wat al te lank aan die opgaar was, om nou die vloedwater te probeer teëhou. Daar is soveel wat gelyk wil uitkom. In die begin is daar begeerte wat alles bymekaar hou. Riana was ’n ongelooflike mooi meisie. Maar soos mens ouer word, begin liggame verander, hulle sak uit en verslap. Dis nie dat mens teleurgestel raak met die liggaam en dit op ander maniere probeer sublimeer nie: dis eerder dat jy ontdek dat ’n liggaam op ander maniere mooi kan wees. As jy jonk is, is dit ondenkbaar dat die liggaam ooit kan oud word of sy fleur verloor. Maar as dit met twee mense saam gebeur, dan verskuif jy jou definisies. ’n Beleë lyf wat swaargekry het, en leer verduur het, en oorleef het, raak mooi op ’n manier wat jy, my liewe Tessa, jou nie eens kan voorstel van waar jy vandag is nie. Elke rimpel, elke spataar, elke plooi of vetlaag, elke grys haar, word ’n teken van wat julle gedeel het, van wat jy liefhet.

      Hoeveel hiervan het ek regtig hardop vir haar gesê, hoeveel het onuitgesproke in my kop gebly? Dit maak skaars saak. Ek moet genoeg gesê het om haar te erger, want ek onthou nog hoe sy dwarsweg geantwoord het: “Dit klink of jy jouself probeer oortuig.”

      “Jy sal nie verstaan nie,” kap ek kortaf terug.

      Hoe sou sy kon weet wat dit beteken om in die nag op te staan en die leë ruimte langs jou te voel en te weet dat niks wat jy op aarde kan doen, iets daaraan kan verander, of haar kan terugbring nie? Om jare aanmekaar met dié leegte saam te lewe en aan niks anders te kan dink as aan wat jy verloor het nie, en hoe jy by die dag swakker en ouer word, en elke oomblik daarvan verafsku? As dit maar net vinnig wou gebeur, maar jy kom dit skaars agter so van die een dag op die ander, en dis net in uitsonderlike oomblikke dat jy dit nie kan ontken nie, dat die dissipline verslap, dat jy jouself in die oë durf kyk – en dan staan jy elke keer voor nuwe tekens van verval. Eendag sal dit genadiglik verby wees, maar dit lyk asof jy nooit regtig daar uitkom nie. Al wat daar is, is hierdie trae agteruitgang, namate jy al meer en meer verander in die ding wat jy altyd verafsku het, die ding wat jy altyd gevrees het. En al wat jy kan doen, is om al dringender en al naarstiger terug te gryp, na die verlede, na wat jy verloor het, na die een herinnering aan wat die lewe die moeite werd gemaak het, na liefde. Elke dag glip daar iets meer deur jou vingers. Maar jy hou aan, ag Here God, jy hou maar aan, want jy weet – jy weet dit so verskriklik, so desperaat – dat daar ’n tyd was toe jy gelukkig was, o ja, jy was, ’n tyd toe jy liefgehad het, en dat dit moet padkos wees vir hoe ver jy ook al deur die leegte moet aanhou. Tomorrow and tomorrow and tomorrow.

      En weer kan ek nie sê hoeveel hiervan ek regtig uitgespreek het nie. Al wat ek onthou, is dat ek in een of ander stadium skielik opgehou praat het; skaam, half verwilderd. En gemompel het: “Ekskuus, dit was ongevraag.”

      “Jy hét haar liefgehad,” het die meisie stilweg geantwoord. “Jy’s reg, ek dink nie ek kan dit verstaan nie. Maar ek dink tog ek glo jou. En ek belowe ek sal nie weer interfere met wat jy onthou nie.” Toe het sy haar hand na my uitgesteek en gevra: “Hoe lyk dit met nog wyn?”

      “Ek het klaar te veel in.” Ek het uit die diep stoel opgestaan. Nog iets wat stadigaan moeiliker raak, al is ek nie altyd daarvan bewus nie: die effense stramheid laag in my rug, die knieë wat kraak. “Wat van koffie?”

      “Koffie én wyn. Ek sal saamgaan.”

      4

      Op СКАЧАТЬ