Donkermaan. André P. Brink
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donkermaan - André P. Brink страница 12

Название: Donkermaan

Автор: André P. Brink

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780798158664

isbn:

СКАЧАТЬ was vir die gevoel van gevaar wat blykbaar onontbeerlik geword het vir sy paringsnood nie, het hy opgehou om sy vrou die slaapmiddel in te gee. Van toe af, lyk dit, het dit hom op ’n perverse manier bevredig om sy wawydwakker vrou te treiter met die geluide van sy geilheid skaars ’n paar tree van haar af. En ’n verduideliking het hy altyd gehad. Die verstommendste was dat sy vrou dit alles vir soetkoek opgeëet het – vermoedelik omdat sy om die een of ander rede doodbang was dat hy haar sou laat staan. Maar een nag het Willem so ver gegaan om Antje binne-in die bed by hom te neem; en selfs vir die liggelowige Susara was dit eens te veel. Toe sy uiteindelik haar vrees vir die donker te bowe kom en ’n kers aansteek, het sy die twee op heterdaad betrap. Willem se enigste bedekking was ’n jurk en ’n slaapmus, Antje was poedelnakend. Susara het haar man toegetakel met ’n koper kolepan wat sy gebruik het om die bed warm te hou. Maar hy het die houe afgeweer en opnuut met ’n verbluffende orasie vorendag gekom om te verduidelik wat gebeur het. Of dit aan sy welsprekendheid te danke was of aan Susara se patologiese vrees om die waarheid in die oë te kyk, feit is dat hy haar oortuig het dat dit die slavin was wat hom uit ’n nagmerrie kom wakker maak het deur by hom in die bed te kruip om te sê hy moet kom kyk, daar word by die kelder ingebreek.

      Vir die soveelste keer het sy vrou voor die aanslag van sy versinsels geswig; maar dié keer het sy in ’n patetiese bevestiging van onafhanklikheid uitgeskuif na ’n spaarkamer aan die agterkant van die huis, en Antje met haar saamgeneem. Saans is die deur gesluit en die sleutel onder haar kopkussing gebêre. ’n Paar dae lank het Willem die kat uit die boom gekyk terwyl hy sy nood verlig het deur Antje dan en wan gedurende die dag na verborge hoekies van die huis, die buitegeboue of die kelder te lok. Daarna het hy ’n vanselfsprekende maar gewaagde oplossing bedink: Antje is aangesê om die knip van die venster oop te skuif wanneer sy in die aand gaan slaap, en daarna sou die twee slawemans, Adonis en Cupido, ’n leer buite onder die venster staanmaak. Net om die situasie ’n bietjie te kruie, het Willem hulle beveel om die leer weg te vat nadat hy ingeklim het en eers weer teen hanekraai terug te kom.

      Een nag, vermoedelik na ’n besonder luidrugtige uitvoering, het Susara dit weer gewaag om ondersoek in te stel. Toe sy die gordyne oopskuif en in die maanlig die onbehoorlike spektakel op haar kamervloer gewaar, het sy ’n stoel gegryp en die stoeiende paar daarmee begin toetakel. Willem het by die oop venster uitgespring en hom byna disnis geval, maar net ’n verstuite enkel opgedoen; maar Antje is onhebbelik deurgeloop. Susara het die swaar stoel op haar flenters geslaan. Die gevolg was ’n miskraam – die heel eerste aanduiding dat die slavin swanger was aan haar baas se kind.

      Selfs ’n lankmoedige en lydsame mens bereik vroeër of later breekpunt, en vir Susara was dit nou tot sover en nie verder nie. By die eerste daglumier het sy ’n perdekar laat inspan en saam met twee van haar slavinne Kaap toe laat vat, waar sy by verlangse familie van haar eerste man onderdak gaan vra het. Binne ’n uur na haar aankoms het sy haar opwagting gemaak by die pastorij van dominee Le Boucq, en kort daarna is die godsman saam met haar na die kamers van die Raad van Justisie in die Kasteel om ’n egskeidingsaak teen haar man aanhangig te maak. Hiermee het die saak ’n ernstige wending geneem, want soos Penn dit stel (op. cit., p. 37): “Divorce was regarded as a very extreme step indeed.”

      Dit was nie net die skande wat Willem sou verontrus het nie (en mens moet in gedagte hou dat hy, hoe verregaande dit ook al mag klink, ’n ouderling en staatmaker in die kerk was): daar was ook die gevaar dat hy alles kon verloor wat hy ooit besit het, Antje inkluis, omdat dit alles op Susara se naam was. Sodra hy ’n snuf in die neus gekry het van wat aan die gang was, het hy Antje – nog steeds ernstig krank van die slae – aan die ander slawe se sorg oorgelaat en te perd die pad Kaap toe gevat. Nes Susara is hy eers by die pastorij aan, waar hy duidelik ’n gans ander storie vertel het, gerugsteun deur ’n flinke bydrae tot die kerk se tesourie (ongetwyfeld buitgemaak uit Susara se geldtrommel, wat al vroeg in hul huwelik nie meer teen sy aanslae bestand was nie). So geslaag was die besoek dat dominee Le Boucq hom persoonlik na Susara se tydelike verblyf vergesel het om sy saak te gaan stel. Daar word vertel dat Willem letterlik op die vloer voor die formidabele vrou se voete gaan kruip het en haar skoene natgehuil het terwyl hy voor God en sy ganse heirskare belowe om haar nooit weer seer te maak nie. ’n Hele paar kiste vol geskenke het gewig aan sy woorde verleen. Dit was die duiwel wat in hom gevaar het, het hy snikkend verduidelik; maar danksy die dominee se belofte om vir hom by God Almagtig voorspraak te doen, was hy nou gesterk in sy hoop en geloof dat hy vir goed uit daardie kloue van vuur en swael verlos sou word, om tot in lengte van dae getrou te bly aan die enigste vrou wat hy nog ooit opreg liefgehad het, Susara Uytenbogaert. Dit spreek vanself dat sy dit so aanvaar het, en mits dese is die egskeidingsgeding laat vaar.

      Die gebeurtenis was nietemin ’n waterskeiding in Willem Mostert se kleurryke bestaan. Één gedagte het nou soos ’n paal bo water in sy kop gestaan: sy vrou moes dood. Selfs afgesien van die drang om Antje vir goed by hom te hou, was daar die vrees dat hy alles kon kwytraak wat hy nooit gehad het nie. Die besluit om Susara te vermoor, was op sigself nie so erg as die maniere wat hy daarvoor beplan het nie. Met nog meer vermetelheid as tevore het hy sy vrou se toestemming gaan vra om ’n rit Kaap toe te onderneem, vergesel van niemand anders as Antje nie. Dit was natuurlik nie hoe hy die saak verduidelik het nie. Wat hy gesê het, was dat Antje se teenwoordigheid ’n oorlas vir hul huwelik geword het en dat hy haar so gou moontlik in die dorp aan die eerste die beste aanvaarbare bieër wou gaan verkoop. Hierdie daad van opoffering het die goedgelowige vrou so ontroer dat sy waarskynlik sou toegestem het selfs sonder sy aanbod om Fatima, een van die ouer slavinne, as chaperone saam te neem.

      Met dié is die paartjie daar weg op ’n wittebroodsreis van twee weke. Fatima se samewerking is verseker met ’n belofte van vrystelling. Onder skuilname het hulle hul intrek geneem in ’n herberg wat hoofsaaklik huisvesting aan matrose van verbygaande skepe gebied het; en wanneer hulle nie in die greep van hartstog rondgewriemel het nie, was Willem op besoek by dominee Le Boucq en ander invloedryke kennisse aan wie hy met ’n groot vertoon van diepe kommer uitgewei het oor sy vrou se swak gesondheid (wat glo al meer tekens van dementia begin vertoon het), terwyl die twee vroue ure lank rondgedwaal het tussen die mankolieke kraampies en skermpies teen die laer hellings van die Galgeheuwel op soek na ’n vreesaanjaende versameling doepa. Onder die items wat later by die moordverhoor vermeld is, was daar lekkernye soos “een mixtuur van poeder en haeren”, “verpoederde gebeente van gestorvenen”, “huid geschoren van de ledematen van aan de galg gehangen moordenaers”, “navelsnoer van een doodgheboren kind”, “excretie van tijgers en wolven” – ’n onheilige spul wat deur een historikus beskryf is as “’n middel waarvan die krag vermoedelik eerder deur nekromansie as deur farmakologie bepaal is” (Vermeulen, p. 114).

      Na twee weke is die drietal terug na Papenboom met hul voorraad eksotiese middels. Susara se skok om Antje weer te sien, is gou besweer deur Willem se verduideliking, gestaaf deur Fatima, dat dit net tydelik was, terwyl hy wag op bevestiging van ’n gunstige aanbod deur een van die amptenare van die Kompanjie om die slavin oor te neem. Susara se enigste voorwaarde was dat Antje voortaan snags op solder toegesluit moes word, met ’n wag voor die deur. Hierdie hindernis is gemaklik oorkom deur twee lere met taai rieme aan mekaar te bind en hulle deur Adonis en Cupido te laat vashou. En toe die doepa so ’n week later begin werk, het dit nog makliker geraak.

      Susara het afgryslik siek geword: hoofpyne, floutes, krampe van elke slag en soort. Met prysenswaardige toewyding aan sy vrou het Willem minstens een maal per week dokter Junniaar Bronssvinkel die hele pad uit die Kaap laat kom; tussenin, met ’n vertoon van kommer wat die hele nedersetting se simpatie gewek het, is Willem self telkens Kaap toe, natuurlik vergesel van Antje, om nuwe medisyne te gaan haal. Susara se toestand het gestadig vererger. Weldra kon sy glad nie meer opstaan nie, ’n situasie waarvan Willem gretig gebruik gemaak het om Antje uit die solder los te laat en soos vroeër met haar hoogty te vier vlak voor die bed waar Susara lê en stuiptrek en kerm in haar lyding.

      Wanneer sy nog af en toe die krag gehad het om te protesteer, het hy lankmoedig verduidelik dat dit hallusinasies is waaraan sy ly, veroorsaak deur die duiwels wat in haar ingevaar het. Selfs wanneer hy ingeplant lê tussen Antje se dye, sou hy die teken van die kruis oor Susara se beswete kop СКАЧАТЬ