Название: Dis mooiweer en liefde
Автор: Wilmari Jooste
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624049586
isbn:
Met dié woorde draai Nick skerp op sy hakke om en storm met ’n donker frons tussen sy oë kombuis toe, waar Numpie grootoog staan.
“En watse dreigende storms hang nou weer oor hierdie huis waar jou mamma nog ’n uur van rus en vrede behoort te kry?” wil sy kwaai weet.
“Jy raas met die verkeerde persoon, Numpie. Steve is die sondebok. Jy het ’n ekstra pasiënt vandag. In my kamer lê ’n meisie en slaap. Haar naam is Menantheau le Clerque. Sy het verlede nag natgereën en sy is baie koorsig. Ek het vir haar pille gegee, maar ek sal die apteek bel vir medisyne en reël dat hulle dit vroeg kom aflewer. Ek het geld op die kombuistafel gelos. Maak net seker sy drink dit.”
Numpie slaan haar hand met ’n teatrale beweging oor haar oë. “Watse sondes gaan vandag in hierdie huis aan, Nick Bender? Jou oorle pappa draai in sy graf om as hy weet dat sy oudste ’n vroumens in sy kamer aanhou!”
“Dan gaan hy maar net weer moet terugdraai, Numpie. Ek het verlede nag in Steve se kamer geslaap. Dit was ’n noodgeval. As ek nie die meisie hierheen gebring het nie, was sy vandag dood. Dáároor sou my pa in sy graf omgedraai het. Gaan jy nou na haar kyk vandag?”
“Ja, Nickie-kind, natuurlik sal ek na haar kyk,” vermurwe Numpie soos gewoonlik.
Sy en Anna is soos susters, en die twee seuns voel partymaal soos haar eie kinders. Sy stap nuuskierig na Nick se kamer toe en kyk lank af na die slapende meisie in Nick se hemp.
Toe Anna wakker word, gaan doen Numpie verslag oor die vreemde gebeure onder hulle dak.
“En daar sê Nick vanoggend vir my van die vreemde meisie wat siek daar in sy kamer lê. Ek het gaan inloer, en die arme dingetjie is skoon gloedig van die koors.”
Anna frons verward. “ ’n Meisie in Nick se kamer?”
“Ja, een met sulke spierwitte hare wat seker maar uit ’n bottel kom, want so iets het ek nog nooit in my lewe geaanskou nie. En sy lê nogal daar met onse Nick se klere aan haar lyf. Siek soos ’n hond. Brand omtrent van koors. Hy sê sy het verlede nag natgereën en koue gevat.”
Anna se voorkop is in ’n diep frons geplooi soos wat sy dink oor alles wat Numpie te vertel het. “O. Het hy gesê wie sy is? Ken ons haar?”
“Gmf! En van wanneer af sal ons ’n meisie van Nick ken? Hy het mos nie so iets nie. Maar hierdie dingetjie het in elk geval ’n naam wat g’n siel kan uitspreek nie. Haar van is De Klerk.”
“De Klerk?” Anna se oë helder op. “Ek wonder of dit die meisie van die biblioteek is wat gister vir my die boeke en lekkergoed gestuur het? Haar van is Le Clerque.”
Sy frons. “Ek wonder net waar het Nick aan haar gekom, en wat het met haar gebeur? Miskien het haar motor gebreek. Maar gelukkig ken Nick sy storie wanneer dit kom by enjins.”
“Ek weet darem nie. Nick het nog nooit voorheen iemand huis toe gebring nie. En hierdie dingetjie ... oor haar het ek ’n snaakse gevoelentheid in my binneste. Sy laat my dink aan ’n verpiepte optelhondjie ... Een van daai wat kinders aandra huis toe en wat dan nooit weer koers kry nie.”
“Nou maar gaan kyk eers of sy oukei is, dan kan jy my kom help was, Numpie.”
Dis al laat die middag toe Menantheau wakker skrik. Sy kyk om haar rond in die vreemde kamer en probeer dink hoe sy hier gekom het. Word dan bewus van die feit dat iemand in die stoel sit.
Dis ’n jong seun, sien sy, en die gesig lyk vir haar vaagweg bekend.
“Juffrou Le Clerque? Nick het gesê u is baie siek. Voel u nou beter?”
Nick. Herinneringe aan die vorige nag se gebeure sny deur haar en sy pluk die laken op tot onder haar ken, maar haar oë rek toe sy besef sy het iets aan. ’n T-hemp. Nick s’n? wonder sy. Maar wie sou dit vir haar aangetrek het?
Sy kyk weer na die seun in die stoel. “Jy is Nick se broer?” Sy skrik haar disnis toe sy haar eie krakende stem hoor. Sy is so hees soos ’n kraai.
“Ja, juffrou, en ek wil net kom sê ek is baie jammer oor wat ek gedoen het. Ek het die goed gegryp en weggehardloop sonder om aan die gevolge te dink.” Hy buk en tel haar handsak op om dit na haar uit te hou.
“Ek het dit weggesteek nadat ek die geld uitgehaal het.” Hy bloos bloedrooi. “Dit het ek ongelukkig nie meer nie, maar ek sal ’n werk soek wat ek namiddae kan doen en u terugbetaal.”
“My boeke?”
“Ek het dit vir my ma gegee om te lees. Sy sal dit mooi oppas.”
Menantheau neem haar handsak by hom en knip dit oop. Sy skrik toe sy sien dat die biblioteek se sleutels nie daarin is nie, maar Steve stel haar dadelik gerus.
“Ek het vanoggend vroeg al die handsak gaan haal, en Nick het die sleutels biblioteek toe geneem. Hy het vanoggend al die munisipaliteit gebel en gesê wat gebeur het en dat u te siek is om te gaan werk. Hulle het spaarsleutels waarmee hulle kon oopsluit.”
“Wat is jou naam?” kraak Menantheau hees. Haar keel brand soos ’n kool vuur en sy wens hier was ’n slukkie koue water om te drink.
“Steve.”
Sy dink ’n oomblik na. “Ek onthou jou gesig. Jy kom gereeld na die biblioteek vir hulp met jou skoolprojekte.”
Steve word ’n aksie rooier. “Ja, en juffrou het al ’n hele paar keer vir my fotostate verniet gemaak as ek nie geld gehad het nie.”
“Noem my Menantheau, Steve. Kan ek jou ’n vraag vra? Maar jy moet dit net antwoord as dit ’n volkome eerlike antwoord is.”
“Ja?”
“Hoekom het jy dit gedoen, Steve?”
“Ek ... My ma is sieklik en bedlêend. Sy was maar af die laaste paar dae. Ek het die boeke vir haar gegee en gesê jy het dit vir my gegee by ’n skoolfunksie. Ook ’n pakkie sjokolade en suiglekkers wat ek met juffrou se geld gekoop het. Die ander geld het ek vir ’n ou by die skool gegee vir wie ek geld geskuld het. Hy het die wêreld vir my warm begin maak.”
Menantheau weet instinktief dat hy die waarheid praat. “Dankie dat jy eerlik was met my. Ons sal praat oor daardie werk-idee van jou. Dit klink vir my na ’n goeie idee. Kan ek nou eers vir jou vra om vir my ’n bietjie water te bring? My keel voel soos ’n rasper en my kop wil bars.”
“Ek gaan vir Numpie roep. Sy het gesê as juf- ... as jy wakker word, moet ek haar kom roep. Nick het vir jou medisyne van die apteek af laat kom wat jy moet drink.”
“Numpie?”
“Dis die vrou wat my ma bedags versorg.”
Dis seker dan die vrou wat haar aangetrek het, dink Menantheau skaam. Sy wonder wat die vrou gedink het om haar poedelnakend hier in die bed aan te tref.
Soos blits is Steve by die kamerdeur uit, en ’n paar minute later is Numpie daar met die medisyne.
“Die apteekman het gesê hierdie is vir die koors. Daardie blou pilletjie is vir die kop- en lyfseer. СКАЧАТЬ