Dis mooiweer en liefde. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dis mooiweer en liefde - Wilmari Jooste страница 9

Название: Dis mooiweer en liefde

Автор: Wilmari Jooste

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624049586

isbn:

СКАЧАТЬ ek kan doen.”

      “Dankie, Menantheau. My ma het gesê dat sy jou graag wil ontmoet voordat jy huis toe gaan. Maar kan ek jou ’n guns vra?”

      Hy skuif ongemaklik rond en Menantheau glimlag. “Ek sal niks verklap nie.”

      “Dankie. Jy’s ’n pel. Sy dink jy het die goed gisteraand op ’n skoolfunksie vir my gegee.”

      Hulle eet klaar, en dan neem Steve haar na Anna toe. Die ouer vrou groet Menantheau soos ’n ou bekende.

      “Kom sit, my kind. Hoe voel jy? Numpie sê jy was maar nog olik gewees vandag. Is jy nie te haastig om huis toe te gaan nie? Jy is meer as welkom om nog ’n rukkie te kuier, hoor.”

      “Dankie, tante, maar ek moet môre terug werk toe gaan.”

      Anna kan met die eerste oogopslag sien dat Menantheau ’n meisie is van wie sy baie kan hou. Sy kan maar net hoop en bid dat wat Numpie so ’n rukkie gelede vir haar kom sê het, die begin is van ’n verhouding tussen dié meisie en Nick. Dit sal dalk die jare lange gemis aan haar eie twee dogters so effens stil.

      Sy steek haar hand uit na Menantheau en trek haar nader om op die bed te sit. “Ag, maar ek moet nog dankie sê vir die boeke wat jy gestuur het. Steve het dit ’n bietjie nat laat word, maar daar is gelukkig geen skade nie.”

      “Dis ’n plesier, tante. Ek sal gereeld saam met Steve vir tante ander stuur. Hy gaan smiddae daar in die biblioteek kom werk ... As dit met u goedkeuring is, natuurlik?”

      Menantheau sien die dankbaarheid en verligting in die ouer vrou se oë, en sy weet dat Anna ook maar bekommerd is oor Steve. Maar moontlik het die knaap groot genoeg geskrik dat hy van nou af op die regte pad sal bly.

      “Maar natuurlik is dit met my goedkeuring. Solank sy huiswerk nie daaronder ly nie, het ek geen probleem dat hy smiddae werk nie. Maar jy hoef dit nie net saam met hom te stuur nie. Jy kan self ook maar gereeld hier kom inloer.”

      Anna se moederlikheid raak Menantheau op ’n vreemde manier. Haar ma was nooit só nie, en sy weet nou dat sy baie gemis het. Sy knipper haar oë teen die onverwagte trane.

      “Dankie, tante, maar ek wil nie ’n oorlas van my maak nie. Steve kan maar reguit ná skool biblioteek toe kom. Ek sal sorg dat hy iets te ete kry, en dan kan hy sommer sy huiswerk daar in die studielokaal doen.”

      “Jy is ’n pragtige mens, Menantheau. Dis geen wonder al twee my seuns het net die hoogste agting vir jou nie.”

      Dis nuus vir Menantheau. Agting is nie werklik wat sy gedink het Nick sou voel nie. Nie nadat sy so ... beskikbaar vir hom was nie. Mans het nie agting vir maklike meisies nie. Dít het haar ma haar meer as een keer vertel, en haar daarteen gewaarsku terwyl sy die verhouding met Kobus gehad het.

      “Hoe het jy en Nick mekaar ontmoet?” wil Anna onverwags weet.

      Menantheau skrik. Om leuens uit te dink kom nie vir haar natuurlik nie, en sy weet nie wat het Nick sy ma alles vertel nie. Haar redding kom weer eens van Nick toe hy van die deur af praat. Sy was so ingedagte dat sy hom nie eens hoor inkom het nie.

      “Jou motortjie is weer reg, Menantheau. Hy sal jou nie weer in die steek laat nie. Jy sal my net asseblief moet terugneem biblioteek toe dat ek my motorfiets daar kan kry.”

      Menantheau weet hy het sy ma se vraag gehoor en ’n antwoord namens haar verskaf wat die minste vrae sou uitlok.

      Anna val dadelik daarvoor. “Dan was ek reg!” roep sy uit. “Ek het vir Numpie gesê dis seker hoe julle mekaar ontmoet het.”

      Sy kyk met duidelike trots in haar oë na Menantheau. “Nick is baie goed met enjins. Het hy jou gesê hy is ’n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige? As hý aan jou motor gewerk het, sal dit geen probleme meer gee nie.”

      “Ek hoop nie so nie, tante. Maar nou moet tante my asseblief verskoon. Ek het lank genoeg op julle nekke gelê. Dis tyd om huis toe te gaan.” Sy is bang dat Anna wil weet hoe dit gekom het dat Nick kwansuis sou weet dat haar Kewertjie probleme gegee het, dus wil sy so gou as moontlik hier wegkom.

      “Kom kuier weer, kindjie!” groet Anna.

      “Ek sal so maak, tante.”

      Menantheau stap met ’n stywe rug voor Nick uit. Haar geel motortjie staan voor die agterdeur. Nick maak vir haar die passasiersdeur oop en sy klim in. Hy klim agter die stuur in, maar ry nie dadelik nie.

      “Oor wat gebeur het ...”

      Sy weet hy verwys nie na Steve se dinge nie, maar sy hou haar doelbewus dom. “Daar is geen werklike skade gedoen nie. Moenie jou verder oor Steve bekommer nie, Nick. Hy het self besef hy is op die verkeerde pad en hy is gretig om dit reg te maak.”

      Met ’n frons tussen sy oë skakel Nick die motor aan en ry biblioteek toe. Hy vat sy valhelm wat agter op die sitplek lê en klim sonder ’n verdere woord uit. Met ’n wuif van sy hand stap hy weg om op sy motorfiets te gaan klim.

      Teleurstelling brand soos vuur in Menantheau. Sy kan haarself nie verstaan nie, en sy weet dis met hierdie wisselvalligheid van haar dat sy Nick van haar af weggestoot het. Maar sy kan nie anders nie. Al steek Nick ’n vlam van begeerte in haar aan, is sy bang vir hierdie gevoel. Sy het seer genoeg gekry toe Kobus weg is.

      Toe Nick die volgende aand laat tuis kom, brand Anna se kamerlig nog. Hy stap soontoe en sy kyk op toe hy inkom.

      “Hallo, Ma.”

      “Hallo, Nick. Moeg?”

      “Nee, wat. Dit was ’n rustige aand. Ek sal nog ’n paar uur se studie kan inkry. Was Steve toe biblioteek toe?”

      “Ja, maar Menantheau was nie daar nie. Sy is blykbaar nog siek, en die dokter het haar vir vier dae afgeboek.”

      Anna sien die kommer in Nick se oë en sy por subtiel: “Weet jy of daar darem iemand is om haar te versorg by haar huis?”

      “Nee, sy bly alleen.”

      “Miskien sal die bure ’n ogie hou,” sê Anna.

      “Ja, miskien. Ek gaan kamer toe.”

      “Nick, hoe het jy geweet dat Menantheau se motor probleme gegee het?”

      “Ek wou seker maak dat Steve se storie oor die boeke waar was. Haar munisipale rekening was in een van die boeke. Ek het van ’n telefoonhokkie af gaan bel, en toe ek nie by haar huis antwoord kry nie, het ek haar by die enigste logiese plek gaan soek ... die biblioteek.”

      “Maar sy was dan gisteraand by ’n skoolfunksie. Dis waar sy die boeke vir Steve gegee het?” frons Anna.

      Nick haat dit om vir sy ma te jok, maar dis beter dat sy nie die volle waarheid weet nie.

      “Sy is blykbaar ná die funksie terug biblioteek toe om iets te gaan haal wat sy vergeet het.”

      Anna is tevrede met hierdie verduideliking, en Nick kan uiteindelik na sy kamer gaan. Hy haal sy boeke uit en gaan sit voor sy lessenaar, maar die woorde in die boeke maak vanaand geen sin nie.

      Uiteindelik gooi hy die pen neer en gryp sy leerbaadjie waar dit oor sy СКАЧАТЬ