Reënboogmelodie. Anzil Kulsen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen страница 6

Название: Reënboogmelodie

Автор: Anzil Kulsen

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796322166

isbn:

СКАЧАТЬ het aanvanklik nie besef dis ’n siekte nie. Hierdie bulimia nervosa, waarvan hy haar met eindelose geduld help genees het.

      Toe hulle begin uitgaan, het hy hom altyd verwonder aan die mooi, skraal vrou wat kos net soveel soos hy kon waardeer. Sy het haar nie deur ’n steak laat onderkry nie. Sy kon ’n bier wegsluk en het haar nie aan die gevolge gesteur nie. Dit was vir hom vanselfsprekend dat sy direk na ete badkamer toe gaan; hy het nooit onraad gemerk nie.

      Hy het gedink sy het ’n besonderse metabolisme, want anders as hy, het sy nooit die binnekant van ’n gym gesien nie. Nooit het hy geweet hy is besig om haar oor die afgrond te help nie. Hy kon bygedra het tot haar dood as hy nie betyds uitgevind het wat aangaan nie.

      As sy eers aan hom behoort, sou hy die bierdrinkery stopsit, het hy die eerste keer gedink toe hy haar daaroor uitvra.

      “Jy is so skraal, maar eet en drink soos ’n man.” Hy onthou hoe hy sy mooiste glimlag opgetower het.

      “Pla dit jou?” Sy het onseker die bier op die tafel neergesit en toe na sy botteltjie Appletizer gekyk. Haar besonderse aptyt het hom al hoe meer begin opval.

      “Glad nie. Ek vind ’n gesonde eetlus baie sexy. Boonop hou jy jou figuur so mooi, dis al wat saak maak.” Hy weet hy het deur sy tande gelieg. Die reuk van bier het na ete om haar gehang en hy het haar daardie eerste keer nie gesoen nie. Stelselmatig het hy haar laat afsien van die bier sonder om een keer sy humeur met haar te verloor.

      Soms kan hy nie glo dat sy haar eetversteuring so goed weggesteek het totdat hy haar die eerste keer uitgevang het nie.

      Eers was hy woedend. Hy kon nie glo dat sy vir jare met die geheim saamgeleef het nie. Hoe kon haar ma so dom wees en nie die gevaartekens raaksien nie? En hy? Hy is nie onnosel nie. Hy moes vroeër al die tekens gesien het. Gelukkig kon hy haar betyds help. Iets waarvoor sy hom ewig dankbaar behoort te wees. Maar nou …

      “Ai, Dianè,” fluister hy toe hy terugdink aan daardie dag. “Ek was so kwaad oor die skade wat jy jouself aangedoen het. En kyk waar sit ons vandag, kyk wat het ék aangevang die afgelope paar jaar.”

      Hy skud sy kop toe die skuldgevoelens aan hom begin knaag. As sy maar net kon verstaan dat hy die nuwe Dianè onweerstaanbaar vind, en dat hy altyd kry wat hy wil hê. Verdomp, hy het haar gehelp! Nagte waarin hy soms gefantaseer het, haar sterker en mooier voorgestel het in sy verbeelding, meer waaghalsig. Hy moes soveel geluk ontbeer tydens haar herstelproses. Sy skuld hom ’n bietjie plesier. Maar sy soeke daarna buite hulle huwelik het begin hand uitruk, die adrenalien wat daarmee saamgegaan het. Soms was die internet goed genoeg, maar die ware Jakob – elke keer meer intens, met meer seksmaats – dit is wat hom op ’n high gehou het die paar jaar van getroude lewe.

      Op die passasiersitplek begin sy selfoon lui. Hy herken dadelik die nommer toe hy dit met sy linkerhand optel. Verminder eers spoed omdat hy die oproep wil neem, maar dan besluit hy daarteen en snel voort.

      As hy ’n verandering wil maak, sal hy uit die versoeking moet bly. Hyself sal genesing moet kry. Hy gaan die ding wen, op sy eie, sonder dat Dianè ooit hoef uit te vind.

      Hy verminder spoed en bring die Fortuner tot stilstand in die bossies langs die pad. Vryf deur sy hare en sug toe die stilte van die veld ’n roering in sy onderlyf veroorsaak. Die perfekte plek en tyd om nou …

      Liewe Here in die hemel, wees my net genadig, bid hy toe hy weer die voertuig in beweging bring. Hier moet hy liewer wegkom. Hy moet alles vermy wat hom aan seks laat dink. Dis bykans onmoontlik, besef hy toe hy na ’n hoër rat oorskakel, want alles – vroue, plekke, sy selfoon, álles – is ’n trigger.

      “Hierdie ding is besig om my op te vreet, om my baas te word, en ek is besig om myself vir die gek te hou. Dis nie van Dianè wat ek weghardloop nie. Dis van myself.”

      Hy skrik toe sy selfoon weer lui. Jacques se naam verskyn op die skerm.

      Hierdie oproep sal hy moet vat. Hy sal Jacques bedank vir sy woonstel en hom vertel van sy besluit; hy is klaar met die ou lewe. Hy het hierdie twee dae aan homself bewys hy kan sy drange beheer. Dis natuurlik makliker as ’n mens so in afsondering bly. Een dag op ’n slag sal hy die versoekings kan weerstaan.

      “Neef?” Hy probeer doelbewus opgeruimd klink.

      “Ou Robbie, het jy lekker in my plek gebly en die alleenwees darem ten volle benut?” Hy sug toe hy hoor waarop Jacques sinspeel.

      “Is jy op pad terug Potch toe? Victor sê jy het nou uitgecheck en jy was heeltyd alleen, niks rondgeloop nie. Wat gaan aan met jou, of het jy hom net goed geflous? Ek het lekker aksie vir ons opgeline vir ná gym vanmiddag. Hoe laat is jy hier?” Jacques snorklag en klink skoon kortasem by die vooruitsig.

      “Jacques, ek kan nie, ek het die pad gevat. Ek is op pad Kaap toe. Ek sal jou alles vertel sodra ek daar my sake gereël het. Ek kan nie meer so aangaan nie. Dianè …”

      “Jou vrou sal nooit uitvind nie, wat vreet vandag aan jou? Ek belowe jou, jy gaan die tyd van jou lewe hê ná die droogte van die afgelope paar dae. Dis gewillige cherries hierdie wat ek vir ons gekry het, drie van hulle net vir ons twee. Ek het klaar met hulle reggemaak, as dit geld is wat jou pla. Hulle is nuut ook, jonk … moontlik studente, sê ek jou.”

      “Ek kan nie meer nie.” Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om die Fortuner om te draai en terug te gaan Potch toe; die jong studente klink vir hom baie aanloklik. Hy kon nog nooit enige van die versoekings weerstaan wat Jacques stel nie. Die ander opsie is om die selfoon in Jacques se oor dood te druk.

      “Ek het Dianè weer rondgestamp, dit gebeur al hoe meer. Ek het haar seergemaak en die ding ruk nou hand uit. Dit grens aan waansin, Jacques. Ek moet wegkom en ek moet hulp kry.” Jacques hoef nie nou al te weet van die simpel vrou wat hom deesdae probeer afpers nie. Sodra hy dit self uitsorteer het, sal hy sy neef daarvan vertel. Aan die ander kant is hy skaam …

      “Jy lieg seker, jy maak nie sin nie. Watse gewetenswroegings het jy deesdae, en van wanneer af moet mans soos ons hulp soek? Dianè sal oukei wees, ek kan jou dit belowe. Sy kan haar sterre dank om ’n man soos jy te hê. Alle vroue word maar so nou en dan deur hulle mans opgepolish, dit hou hulle op hulle plek.” Jacques snorklag weer. Word dan skielik ernstig. “Gaan jy weghol, my ou? Dit begin nou eers lekker word, en solank jy nie jou gesin afskeep nie, is als mos oukei.”

      “Ek … ek bestuur nou, Jacques, ek praat later weer met jou.” Hy druk die foon dood, smyt dit op die sitplek langs hom neer en klou met beide hande aan die stuurwiel vas.

      Jy gaan dit nie so maklik regkry nie, koggel ’n stemmetjie in sy binneste. Jy’s nie sterk genoeg nie, jy’s nie ’n man se dinges nie …

      Hy slaan hard met sy hand op die stuurwiel en trek dan eerder van die pad af. Die kar is nie Dianè nie, hy gaan homself verongeluk. Hoe de hel gaan hy van homself en sy drange ontsnap?

      Toe hy die woede in hom voel bedaar, trek hy weer sy selfoon nader en kry sy nuuskierige buurvrou se nommer op die skerm. Sy antwoord byna dadelik.

      “Mevrou Nieuwoudt, hoe gaan dit?” Hy glimlag vir homself in die truspieëltjie. Hierdie truuk help altyd om sy ewewig te herwin en vriendelik te klink, al voel hy nie so nie.

      “Goed, hartjie. Is jy al weer uitstedig? Hoe kan ek help?”

      “Ag, Mevrou. Ja, ek is weer vir ’n paar dae weg, ek moet aan belangrike besigheid aandag gee. Ek worry mos maar altyd oor my vrou as ek so weggaan. Veral met die seuns wat so moeilik is.”

СКАЧАТЬ