Reënboogmelodie. Anzil Kulsen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen страница 3

Название: Reënboogmelodie

Автор: Anzil Kulsen

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796322166

isbn:

СКАЧАТЬ pa sou hom summier afskryf as hy dit moes weet, en hoewel sy ma dit nie goedgekeur het nie, het sy hom nie veroordeel nie. Sy was meer oor sy veiligheid bekommerd.

      “Ek staan by die ingang, Ma, en ek hou die ouens dop wat amok wil maak. Ek doen niks verkeerds nie. Ek drink nie en ek dans nie en ek is sterk. Dis nie sommer net vir aanrand nie,” het hy haar verseker.

      Hy het gelag oor haar kommer, maar kon sy ma swaar hoor sug. Hy was pas klaar met sy nagraadse studies en wou sy eie potjie krap. Hy wou sy eie geld verdien, meer as genoeg daarvan, sodat hy nooit na sy pa hoef te gaan vir hulp nie.

      “Dis nie die plek vir ’n predikant se seun nie. Jou pa het ’n gerespekteerde naam en reputasie in hierdie dorp van ons. Wat sal die gemeente sê as hulle moet hoor waar jy naweke tot laatnag uithang?”

      Hy onthou hoe ontsteld sy was toe hy weer saggies lag. Hy vee die lastige traan van sy wang af. Waar kom hierdie wipplank-emosies van hom vandaan?

      “Die gemeente sal net weet as hulle ook in die club uithang. Maar word Ma dan nie vandag geopereer nie? Ma het tog ander dinge om op te fokus as op my doen en late. Ek is mooi groot, regtig. Ek belowe ek sal julle nie in die skande steek nie.”

      Hoeveel keer daarna het hy nie al dié belofte verbreek nie? As sy langer geleef het, sou hy die kans gehad het om sy belofte gestand te probeer doen. Die lewe is so onregverdig teenoor hom! Om sy ma se onthalwe sou hy beter keuses gemaak het.

      Daar was dae dat hy sy pa verwens het. Wat veronderstel was om “net vrouekwale” te wees, het sy ma se lewe gekos. As sy pa net meer aandag aan haar gegee het.

      “Belowe my jy sal ophou werk by daai plek.”

      “Nee, Ma. Ag tog, ek kan Ma mos nie vir geld vra nie. Ek het studieskuld om af te betaal en ek wil op my eie voete staan. Ontspan Ma nou, asseblief, en dan praat ons vanaand met besoektyd.”

      Daar was nie die aand geleentheid om tydens besoektyd met haar te gesels nie. Sy was in ’n diep slaap, maar die dokters het hulle verseker die histerektomie was suksesvol en dat sy binnekort weer op die been sou wees. Sy moes haar net vir ses weke rustig gedra. Die komplikasies wat haar lewe sou eis, het hulle te laat ontdek.

      Hy was die volgende aand weer op sy pos by die nagklub. Dit was warm en hy was sweterig en redelik kort van draad. Die slegte vibes tussen die twee studente kon mens van ’n afstand sien, die besitlike hand van die jong man op die meisie se lae rug en die meisie wat heeltyd probeer wegdeins. Hy het hulle dopgehou, en toe die ou aan die meisie begin klap na te veel drankies, het hy ingegryp. Dit het nie veel inspanning geverg om die mannetjie uit te sit nie, hoewel “uitsmyt” ’n meer gepaste woord was.

      Die meisie self was ook goed aangeklam en baie dankbaar toe hy sy hulp aanbied. Sy skof was klaar en hy wou nog bietjie gaan slaap voor hy by sy ma sou gaan inloer die volgende dag. Maar die meisie was hartseer en het iemand nodig gehad om mee te praat. Sy was so broos en kon maklik die prooi word van die een of ander sadis daarbuite. Hy kon haar nie op haar eie laat nie; sy het ook nie vervoer gehad of geld vir ’n taxi huis toe nie. Hy was haar enigste hoop, het sy hom oortuig.

      Die herinnering aan daardie nag oorweldig hom en hy kap sy kop oor en oor teen die Fortuner se stuurwiel. In sy beige Datsun SSS het die meisie feitlik op sy skoot gesit op pad na die krotbuurt waar sy gewoon het. Hy was jammer vir haar en sy was taamlik gewillig om hom te bedank vir sy weldaad. Daar in die kar, reg voor haar huis in die stikdonker nag.

      Alles haar skuld, besef hy nou. Hy sou ’n maagd bly totdat hy die regte vrou kry. Dis immers hoe hulle in die kerk geleer het, hoe sy ma hom geleer het. Respekteer vroue en respekteer jouself.

      Hy het die meisie nooit weer gesien nie. Hy weet nie eens wat haar naam was nie. Maar hy onthou die skuldgevoelens. Hierdie skuldgevoel wat hom deesdae al hoe meer begin verteer.

      Want daar, die aand kort nadat sy ma gesterf het sonder dat hy haar kon groet, het hy vir die eerste keer te doen gekry met die ekstase van ’n lyflikheid wat jou laat vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom. Daai aand het hy ’n anderster soort beheer leer ken: ’n houvas oor die lyf, joune en ander s’n, want as jy die ding nie kan beheer nie, beheer hy jou … hierdie ding sonder naam. Hierdie lyflike wat besig is om sy lewe oor te neem.

      Die naweek ná sy ma se begrafnis was hy weer op sy pos by die nagklub. Hy het gehoop om die meisie weer te sien, dat sy hóm dié keer kon troos. ’n Rilling kriewel teen sy rug af toe hy onthou hoe maklik dit was om daardie aand iemand anders te kry. ’n Ander gewillige meisie, iemand by wie hy sy wonde kon lek.

      Dianè

      “Lara, wil jy nie net ’n bietjie sagter sing nie?” Dianè probeer glimlag om die byt uit haar stem te hou. Die salon en Lara se borrelende geaardheid was nog altyd haar veilige plek, maar sy sukkel vanoggend.

      Sy het die laaste twee aande ekstra sleg geslaap met Robert wat sonder ’n woord die pad gevat het, en haar lyf voel of ’n trein haar getrap het. Om alles te kroon was beide die seuns baie moeilik. Berto kerm omdat hulle pa hom nie gegroet het nie, en Johan is sy gewone self. Net Johan is blykbaar Saterdagaand al ingelig dat sy pa dringend moet weggaan.

      Sy sweer die seuns het op hierdie Maandagoggend vir goud gegaan met hulle gestoei en geskreeu.

      Lara hou op sing en kyk Dianè skewekop aan. Sy is so lief vir musiek, dink Dianè by haarself, maar glad nie lekker nootvas nie. Lara is haar regterhand in die salon, al doen sy afbreuk aan Juanita du Plessis se gospelliedjies.

      “Is die woorde nie vir jou mooi nie? O, dis so mooi. Ek voel weer vanmôre so gesalf.” Dianè kners op haar tande. Gesalf. Een van Lara se gunstelingwoorde.

      “Dit is mooi.” Net nie vandag nie, wil sy byvoeg, maar vlug liewer by die salon uit na buite.

      Hulle volgende kliënt kom eers oor so vyftien minute. Sy moet dink, besluit wat sy gaan doen.

      “Ek lê jou … ek lê jou by Jesus se voete neeeeerrrr,” tref die woorde haar hier buite op die sypaadjie. Dis sweerlik waar sy nou sou wou wees. Figuurlik. By Jesus se voete, maar ai. Sy byt op haar tande en sluk die trane terug.

      Soms speel Lara gospelmusiek in die salon en neurie sag saam, en van die kliënte vind dit aangenaam. Maar as hier vandag ’n kliënt inkom wie se siel so seer is soos hare, dink Dianè, gaan hulle almal op ’n streep begin huil.

      Om haar kop besig te hou, gaan Dianè in en slaan die afspraakboek oop. Dit lyk maar beroerd: een gereelde kliënt vanoggend en ’n onbekende naam vir vanmiddag. Sy sug. Ook hier sal sy ’n ingrypende verandering moet aanbring.

      Die kompetisie in die dorp raak al hoe strawwer, veral met salonne wat ’n eenstopdiens aanbied waar mense hulle naels en vel ook kan laat behandel.

      Lara glo haar liedjies is profeties. Soms sing sy liedjies wat sy self aanmekaargeflans het. Boodskappe waarin die Here tot haar spreek. As sy wat Dianè is, eerlik wil wees, moet sy erken dis soms spot on.

      Robert het Saterdagaand gedreig hy sal sy kinders vat en haar los om alleen op te snork toe sy greep byna alle lewe uit haar gewurg het. Sy sidder as sy dink wat sou gebeur het as Johan nie op hulle afgekom het nie.

      Hy sal nie ’n dag alleen regkom met Johan nie, laat staan nog die twee saam. ’n Mens sou dink Robert sou meer begrip hê omdat hulle albei so swaar kry met hierdie vreemde oudste seun van hulle, maar hy voel sy vrou skeep hom af: in die bed en in die kombuis. Dis haar groot sonde. As hy maar net weet hoe moeg sy is, sou СКАЧАТЬ