Vir die voëls. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vir die voëls - François Bloemhof страница 4

Название: Vir die voëls

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624080473

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Skoert of ek gooi jou weer!” hoor sy die aaklige stem agter haar aankom toe sy reeds halfpad terug hekkie toe is.

      “Mamma!” roep sy op pad na die kar toe, maar haar ma is nie meer daar nie, sy moet in die huis wees.

      Swem-swem deur die trane sien sy die ligblou voordeur groter en groter raak, maar sy word tot stilstand geruk, sodat haar skouer seerkry.

      Haar pa wat haar beethet. Sy vingers hou vás.

      “Wat het ek gesê?”

      Sy vergeet meteens om te huil, nes sy vergeet het wat hy beveel het.

      Hy trek haar na die stoepie toe, sak neer op die trappie en sy weet wat kom op dieselfde tyd as wat hy dit doen: haar oor sy knie trek. Sy haat dit om so klein te wees, dat hy dit so maklik regkry.

      “Wie.”

      Die bekende geluid.

      Klap!

      Die net so bekende brandgevoel waaraan jy nooit gewoond raak nie, en sy wonder of daai skepsel van langsaan sien wat hier gebeur. Die houtheining tussen die twee erwe hang papperig, hy kan maklik bo-oor loer.

      “Nie. Wil.”

      Ritmies val die houe. Sy kan dit nie vat as haar pa op maat van die slanery praat nie. Dan weet jy dit stop nie voor die woorde op is nie, en sewe kan blerrie baie wees!

      “Hoor. Nie.”

      Klap! Klap!

      “Moet.”

      Klap!

      “Voel.”

      Klap!

      Hy laat los haar en Irma dans eenkant toe. Jissie, dis seer, was lank laas so erg, haar boude brand só dat sy nie weet –

      “Weg nou!” beduie hy. Sy kan die drank op sy asem ruik.

      Agter hom, in die voordeur, wat intussen oopgegaan het, sien sy haar ma. Sy staan net daar.

      Kaalvoet-dogtertjie wat in die straat afhardloop. Geen beter tyd as nou om uit te vind hoe Queenstown lyk nie.

      Sy stap na ’n ruk. Kyk die meeste van die tyd reg voor haar.

      Stap.

      Ure later ken sy die dorp. Sy kan nog nie sê hoe laat die son toe hier gesak het nie, want sy het nie ’n horlosie nie. Dit het wel gevoel of dit langer vat as op ander plekke. Dalk wys dit hoe stadig die tyd hier sal verbygaan. Hoe sal sy lekker hier kan bly as dit só begin het?

      Die huis is daai kant toe, nie te ver nie. Maar sy wil nie nou al teruggaan nie, al is haar voetsole gevoelig. Laat hulle ’n bietjie worry. Laat haar pa dink sy het weggeloop.

      Sal hom leer!

      Sy is in die arm deel van die dorp, hulle sal haar nie hier kom soek nie. Van die mense het haar aangekyk en wonder seker wat die wit meisiekind hier maak. Die huisies is klein, maar by meer as een het sy in die verbygaan ’n laggery of vrolike gesels gehoor en dan was sy só jaloers.

      Sy kom by ’n straatlamp en sak op die sypaadjie neer – maar lig haarself dadelik, haar boude is te seer. As sy nou haar geel trui by haar gehad het, kon sy dit gebruik het om op te sit, nou hurk sy maar.

      Vat ’n stokkie en krap op die sement. Sommer net strepies.

      Niemand kom verby nie. Sy het min mense raakgeloop en toe het sy gemaak of sy anderpad kyk.

      Dalk het hulle gedink sy’s upstairs.

      Dan sien sy iets blink. Sy weet egter dis te goed om waar te wees, dis nie rêrig ’n muntstuk wat …

      Dit is!

      Tien sent!

      Sy raap dit op en begin dit tussen haar palms blinkvryf. Toe tóg ’n goeie teken. Of sy besluit dis ’n goeie teken.

      Anders, as dit net ’n tiensentstuk is en niks meer nie, is dit nog steeds iets wat sy gekry het op ’n plek waar sy gedink het daar’s niks vir haar nie!

      2

      Die orrel kreun aan die lewe en gemeentelede kom die kerk drupsgewys binne.

      Irma wonder op wie se plekke sy en haar pa en ma dalk kom sit het, hier in die tweede ry van voor af. Jy is gewoonlik veilig as jy op ’n nuwe dorp hiér inval, want haar ma het al gesê nie baie mense sien kans om op ’n Sondagoggend so vlak onder die dominee se neus te sit nie!

      Sy hoop die mense sien haar ma raak. Seker omdat dit die eerste keer is dat hulle hier kom, het Ma Alta haar mooiste rok aan, half pienk, half perske, en dis so sag soos satyn moet wees. Haar ma het vanoggend vroeg haar hare gedoen, krullers ingesit sodat die onderkante so liggies van haar ken af wegwaai. En bo-op haar kop het sy die hare vasgesteek om ’n mooi bol te vorm. Daarby die oorbelle wat amper soos regte pêrels lyk.

      Haar pa dra sy pak klere. Sy snor is gekam, maar sy hare lyk vir haar soos ’n donker, vormlose mussie oor sy kop.

      Daar kom ’n jong tannie in met ’n rok wat bo haar knie sit, sies.

      Hier kom Ouma ook nou. Sy woon nog al die jare hier op Queenstown. Dis deur haar wat Pa Ivan die werk gekry het, maar hy het baie kwaad geraak toe Ma Alta dit sê.

      “Jammer, ek het dit nie so bedoel nie.”

      Haar ma is altyd aan die jammer sê, maar as haar pa iets omstamp, vra hy nooit verskoning nie, hy wil weet hoekom staan die goed so oral, al is daar net ’n paar goed in die vertrek.

      “Mag ek maar hier langs jou kom sit?”

      Irma lag. Ouma weet mos sy hoef nie te vra nie! Sy skuif ’n entjie opsy om nog plek te maak, want Ouma het nogal groot geraak vandat sy haar laas gesien het. Sy was gister by hulle aan, maar sy lyk vetter met die rok met die blommetjies wat so styf oor haar boude en tieties pas. Irma maak of sy dit nie raaksien nie.

      Irma probeer stil sit. Haar boude is darem nie meer seer nie, die slanery was mos eergister al.

      Gister het hulle die huis reggeruk. Pa was in ’n goeie bui. Hy hou daarvan as hy dinge gedoen kry.

      Maar gister was natuurlik Saterdag. Hy sal dalk party aande oorslaan, maar nooit ’n Saterdag nie. Met al die lopery deur die dorp is sy Vrydag by twee drankwinkels verby; sy wonder by watter een hy gaan koop het en hoe lank dit hom gevat het om dit te ontdek. Of hy het dit seker onthou van toe hy destyds hier gebly het.

      Maar, herinner sy haarself en glimlag, dit was een van die Saterdagaande wat hy nie geraas het nie. Sy was in haar kamer, maar weet dat hy in die sitkamer op die bank aan die slaap geraak het.

      “Wat glimlag jy so?” Ouma leun oor. Sy ruik lekker, na blomme en vrugte. Toe sy gister kom help het, het sy dieselfde parfuum gedra.

      “Glimlag sommer, Ouma.”

      “Altyd ’n goeie ding.”

СКАЧАТЬ