Vir die voëls. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vir die voëls - François Bloemhof страница 3

Название: Vir die voëls

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624080473

isbn:

СКАЧАТЬ Sy sien hom hier voor haar en wonder hoe hy so seker kan wees.

      Die dae van speletjies speel en verbeel is jare gelede verby. Sy het die dogtertjie verloor wat haar allerhande dinge kan wysmaak; kan nie meer ’n lewe met boeties en gelukkige ma en nugter pa optower nie. Selfs toe sy kon, was dit net vir rukkies.

      Sy het te vinnig grootgeword. Sterk geword. Haar eie mens. En juis deur daardie sukses is daar dinge wat sy verloor het.

      Mense is altyd so seker oor dít wat sy vandag hier wou kom aanvang. Dit lyk so maklik as ander dit doen.

      Maar sy weet doodeenvoudig nie of sy haar lewe met hierdie man wil deel nie.

      Of sy haar lewe met énige man wil deel nie.

      En nou skok sy almal wat gekom het om deel te wees hiervan, en vir Sampie ook, en sy is self geskok, want dis die dag wat meisies van kleins af glo hulle mooiste gaan wees, maar niks val in plek soos dit moet nie. En noudat sy nie ’n antwoord op die Groot Vraag kon gee nie, noudat daar soveel ander vrae voor haar opdoem, is daar een wat reg teenaan haar kom staan het en nie langer geïgnoreer sal word nie.

      Hoe op dees aarde het sy hier beland?

      1967

      1

      So, dít gaan die nuwe huis wees. Dis vir die agtjarige dogtertjie moeilik om te dink die leë plek met die vertrekke wat so eggo, sal nog ’n plek word waaraan sy gewoond is.

      Sy weet sy sal, want aan elke nuwe huis het sy gouer gewoond geraak as aan die vorige een.

      Sy beweeg oral rond, bekyk alles.

      Die huis is van rooibaksteen. Roesbruin, het haar ma gesê, en die kleur is nie veel anders as dié van haar hare nie, maar dit lyk vir Irma rooi en klaar. Die rooi trappies lei op na ’n stoep agter die rooi muurtjie. Darem ’n ligblou voordeur.

      Spoorweghuis – dis seker ’n tipiese spoorweghuis, want dit lyk baie soos die voriges. Pa Ivan is ’n masjinis. Hy moenie net die lokomotief bestuur nie, het hy al aan haar verduidelik, hy versorg dit ook. Hy het altyd sy bliktrommeltjie by hom wanneer hy stasie toe loop.

      Die lorriebestuurder en sy helper dra af. Stoele. Beddens. Die rusbank. Dit moet alles in die huis in.

      Sy is kaalvoet, soos gewoonlik. Sy weet haar lint, net so geel soos haar rok, is nie meer gestrik nie – elke nou en dan wip-wip dit hier langs haar gesig.

      Haar ma sit nog in die kar. Donkerbril.

      “Irma!”

      Sy skrik. “Ja, Pa?”

      Hy frons van agter sy bril. Sy oë is mos nie so goed nie. Sy hare is natgesweet teen sy voorkop.

      “Jy’s in die pad.”

      Sy hoor hoe die “s” klink soos “th”. Die mense kan darem nie die bottel sien nie, dis in die kar. Dis in elk geval leeg.

      “Ek kan help, Pa.”

      En sy kán. By die vorige skool het sy teen Bennie Niemand arm gedruk. Bennie het die meeste van die ouens in hulle klas geklop, maar nie vir haar nie.

      Haar pa gee ’n kwaai tree nader. “Gaan speel by die bure, ons pak af.” Asof sy nie kon sien hulle pak af nie.

      “Maar …”

      “As ek jou hier kry voor sononder, is daar groot moeilikheid.”

      Irma maak haar uit die voete. Wonder hoe lank dit nog sal wees voor die son sak. Hoe laat dit hierso sak. Alles lyk vreemd, al is dit maar net ’n stofstraat en huise met dakke en vensters soos op enige ander plek.

      Sy kan mos nie sommer hier langsaan gaan speel nie, wie sê hulle het kinders? Tog hang sy ’n bietjie by die bure se hekkie rond – nie opsigtelik nie, sy buk om kamma haar enkel te vryf. As sy skoene aangehad het, sou sy hulle nou stadig vasgemaak het.

      Die huis lyk nes hulle s’n, maar die grasperk is mooier. Of liewer, hier ís ’n grasperk, al is dit droërig, dis nie bossies en grond soos langsaan nie.

      Toe hoor sy dit.

      Doef!

      Dis ’n sekere soort doef, een wat sy al baie gemaak het. Die geluid van ’n voet wat ’n bal tref. Nie ’n sokkerbal nie, dis ’n rugbybal daai wat geskop word, en dit kom van agter hierdie huis.

      Dis die enigste geluid behalwe dié wat haar pa en die twee ander mans by die lorrie maak, en hulle is te besig om te worry. En haar pa hét mos gesê …

      Sy maak die hekkie se haak los. Haar ma sê altyd mens moenie vrypostig wees nie en sy is nie mooi seker wat dit beteken nie, maar dis iets soos dié. Sê nou maar die hekkie skree as sy dit oopstoot, dan sal sy stop.

      Dit swaai oop sonder geluid en sy stap deur.

      Doef!

      Moet ’n groot erf agter die huis wees, want daar is ’n behoorlike jaart agter húlle s’n.

      Sy loop om die huis, al hoe vinniger, en kan voel hoe ’n glimlag oor haar gesig breek toe sy by die hoek gaan staan en omloer.

      ’n Outjie ongeveer so oud soos sy maak net mooi reg om weer die bal te skop – en maak so, met soveel oemf dat Irma moet erken sy sou dit nie so goed kon regkry nie. Sy kyk hoe die ovaal vorm deur die lug trek en land op wat ongetwyfeld presies die plek is waarheen die stewige knaap met die kort bruin hare dit wou stuur.

      Hy druk sy arms in die lug. Gee ’n dansie wat haar laat lag.

      By die vorige huis was daar geen kinders in die hele straat nie, maar hier het sy dit gelukkig getref. ’n Outjie wat ken van skop! Hy lyk wraggies eintlik ook nogal soos sy altyd gedink het haar boetie sal lyk, in die tyd toe sy nog gedink het sy gaan een kry.

      Hy wou na die bal toe loop, maar steek vas toe hy haar gewaar. Sy moes hardop gelag het.

      “Wie’s jy?”

      Die vraag is glad nie vriendelik nie, net so min die frons onder die reguit geknipte kuif. Nou besef Irma hy dink sy’t nie sommer net gelag nie, maar vir hom, oor hy so met sy arms gemaak het en oor die triomfdansie.

      “Ons trek langsaan in. My naam …”

      Sy moet koes. Hy het – blitsvinnig – gebuk en ’n klip opgetel en hy smyt dit na haar toe. Dit breek teen die muur langs haar, toe darem nie ’n klip nie, net ’n kluit, maar van die grond skiet in haar oë.

      “Voertsek!”

      “Ek wou net …”

      Tog nie huil nie, sy moet net nie nou tjank nie, dan gaan hy nooit saam met haar wil …

      Daar is buitendien g’n kans dat dit sal gebeur nie, en hy weet baie goed wat sy wou sê, want hy skree: “Ek speel nie saam met meisiekinders nie!”

      Sy СКАЧАТЬ