Название: Annelize Morgan Omnibus 7
Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624077336
isbn:
Myrrha bring vir haar klere van helder turkooisblou wat met goud omboor is. Isabelle trek die uitrusting met gemengde gevoelens aan. Sy dink terug aan die oomblikke toe sy naby Jarad was, toe sy in sy oë kon kyk en na sy stem kon luister. Sy onthou die fladdering van haar hart. Maar dis nie genoeg om ’n leeftyd se geluk op te bou nie. Dis te min om haar van haar vaderland te laat vergeet.
Terwyl die twee slavinne haar koperkleurige hare kam tot dit blink, dwaal haar gedagtes kort-kort na Jarad. As sy ooit toegelaat word om Jemen te verlaat, sal sy hom nie kan vergeet nie. Ninon het gesê dat elke meisie se droom van ’n ridder op ’n wit perd net ’n droom is – niks meer nie.
Dis met somber gedagtes dat sy na Myrrha terugkeer.
“Die sultan is in Harib,” sê Myrrha opgewonde. “Xavier wil by hom besoek aflê en jy sal saamgaan. Die sultan besoek Harib net vir ’n week of so. As jy dit gelukkig tref, sal jy in sy teenwoordigheid toegelaat word. Miskien gee hy jou dan ’n geskenk. Hy en Xavier is groot vriende.”
“Ek sal hom vra om my toe te laat om Jemen te verlaat,” sê Isabelle.
“Shahira! Jy stel my teleur!” roep Myrrha uit. “Waarom wil jy nog vlug as jy so gelukkig hier kan wees?”
“Hoe moet ek gelukkig wees in hierdie barre wêreld terwyl ek elke dag verlang na die groen valleie van my geboorteland? Sjeik Jarad stel net belang in oorlog, Myrrha. Moenie meer daarin lees dat hy my gekoop het nie.”
“Maar jy kan dit verander! Jy kan hom tot ander insigte bring.”
“Ek of jy kan hom nie verander nie. Hy is vry soos die woestynwind.”
“En net so vernietigend,” sê Myrrha ongelukkig. “Xavier en Khidr is die twee sjeiks met die meeste mag in Jemen. Hulle is soos twee woedende bulle wat mekaar gedurig aangluur, en af en toe raak hulle slaags. Die hemele behoed dat dit op ’n volskaalse oorlog uitloop.”
“En wat sal van my word as sjeik Jarad sterf in so ’n oorlog?” wil Isabelle weet.
Myrrha kyk dringend na haar. “Wen die guns van die sultan, en Khidr sal nie aan jou raak nie. Jy sal altyd die sultan se beskerming hê as jy Jarad se hart wen.”
Isabelle haal diep asem en sê niks verder nie. Daar lê nog ’n swaar pad voor na haar vryheid – as sy dit ooit gaan kry. Daar is nie net tasbare struikelblokke nie, maar ook dit wat ’n mens nie kan sien nie.
In die Kaap de Goede Hoop wag Etienne le Riche op haar. Daar sal sy madame Le Riche wees en sal sy danspartytjies, etes en soirées moet hou. Sy sal weer elke dag uit fyn koppies tee drink en saans wyn uit ’n kristalglas. En wanneer sy by die venster uitkyk, sal dit lowergroen wees.
Die woestyn sal uiteindelik net ’n herinnering wees. As sy Jemen verlaat, sal sy nooit terugkeer nie. Dan sal sy sjeik Xavier Jarad ook nooit weer sien nie …
Gedurende die dag slaap die vroue van sjeik Nimur Turan soos alle vroue in harems doen. Hulle ontwaak eers teen vyfuur. Die nagte is koeler en dus die beste tyd om enig-iets te doen wat jy wil geniet. Daar is nie veel vir hulle te doen nie. Hulle drink tee en sit net en skinder of gesels. Al tydverdryf wat hulle het, is om mooi aan te trek en hulle bestee ure aan hul voorkoms.
Isabelle is dankbaar vir die blaaskans. Sy slaap die hele dag en teen die aand word sy deur Myrrha wakker gemaak.
“Julle gaan vir nog ’n paar dae hier bly, voordat julle na Harib vertrek. Xavier het tyding gekry dat Khidr beplan om na sy huis in Helu op te ruk.”
“Watter wonderlike nuus om mee wakker te word,” sê Isabelle. “Hoekom gee hulle my nie my vryheid en staak die rusie nie?”
“Solank Khidr Xavier se grondgebied wil hê, sal hy altyd ’n rede vir oorlog vind. As dit nie jy is nie, sal dit iets anders wees.”
“Dis onsinnig.” Isabelle sit regop. “Die sultan behoort ’n einde daaraan te maak.”
Myrrha lag. “Selfs hy het nie die mag om mense te keer om mekaar te haat nie, Shahira. Hy kan die oorlog dalk verhoed voor dit te laat is, maar wie weet, volgende keer breek dit op ’n ander plek uit en dan sal hy niks kan doen nie. Die sjeikdomme van Khidr en Jarad sal altyd in ’n oorlog gewikkel wees.”
Isabelle kom agter dat die vroue agter hulle sluiers oor haar praat terwyl die lag vlak in hul oë lê. Sy is te bang om te vra wat hulle so amuseer, maar dis Myrrha wat lig op die saak werp.
“Jy is vir hierdie vroue iemand heel besonders,” sê sy die middag voordat Isabelle weer saam met Jarad die tog deur die woestyn moet aanpak. “Die verhale oor jou het al baie stertjies in die oase gekry.”
“Solank dit sal help om my uit die land te kry, is ek tevrede.”
Myrrha lag net. “Jy sal nog anders voel, wag maar.”
Die aand van hulle vertrek kom te vinnig vir Isabelle. Sy kan die verskrikking van hulle laaste tog oor die duine onthou en sidder by die gedagte. Myrrha hou haar besig met allerhande dinge wat sy wil hê Isabelle moet saamneem.
Sy pak nog twee asemrowende uitrustings in. “Ek het baie, Shahira. As daar meer plek op die kamele was, het ek dit alles vir jou gegee.”
Sy aarsel ’n oomblik en sê dan: “Probeer Xavier verstaan. Hy is net so vasgevang in die gebeure as jy. Eers het hy geveg uit weerwraak oor Leila, maar nou … Wie weet, dalk het hy nou ’n ander doel gevind.”
Myrrha se woorde bly Isabelle nog lank by nadat hulle uit Al Jesab vertrek het. Sy is oortuig daarvan dat Myrrha haar misgis. Sjeik Jarad het skaars na haar gekyk toe sy by hom aangesluit en op die kameel geklim het. Hy het net vir haar geknik en toe die bevel gegee dat hulle moet vertrek. Die wond aan sy boarm het genoegsaam genees dat hy die arm versigtig kan gebruik.
Die rasjids het haar een vir een kom groet, iets wat sy baie vreemd gevind het, maar sy het hulle ewe vriendelik elkeen met ’n ligte buiging teruggegroet.
Kort voor twaalfuur die nag gee Jarad die teken dat hulle die kamele ’n rukkie kan laat rus. Almal is dankbaar om uit die saals te gly. Dit was ’n strawwe reis tot hier.
Die rasjids haal watersakke van die kamele af en Jarad kom na Isabelle met ’n beker water.
“Ek wil hê dat jy my moet vergesel na die sultan,” sê hy.
Sy kyk verbaas op. “Hoekom?”
“Dis die enigste hoop vir jou om Jemen te kan verlaat.”
Sy is vir ’n oomblik heeltemal uit die veld geslaan. Dan het hy al die tyd tog geweet hoe sy voel en hoe sy verlang na haar vaderland en die mense wat sy geken het. Net daarvoor sal sy hom ewig dankbaar wees.
“Ek dag jy het gesê dat geen vrou toegelaat word om die land te verlaat nie.”
Sy oë is groen soos die see soms is wanneer die son met ’n sagter lig daarop skyn en toe hy na haar kyk, is die koue nie daarin soos sy verwag het nie.
“Hier is genoeg droefheid en hartseer in dié land. Ek wil nie hê dat hier СКАЧАТЬ