Annelize Morgan Omnibus 7. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan страница 14

Название: Annelize Morgan Omnibus 7

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Эротическая литература

Серия:

isbn: 9780624077336

isbn:

СКАЧАТЬ se oë flikker boosaardig in sy donker gesig, maar hy laat Isabelle nie gaan nie. Sy rasjids begin na die smal rotslys beweeg om vinnig te kan wegkom as dit nodig sou word. Hulle is reeds heelwat uitgedun deur die geveg en dis duidelik dat hulle nie werklik opgewasse is teen Jarad se rasjids nie.

      “Ek sal jou ’n ander keuse gee,” sê Jarad kalm. “Ek daag jou tot ’n tweegeveg met dolke uit. Die wenner neem die meisie.”

      Jarad kom nader en Ibrahim druk sy mes blitsvinnig teen Isabelle se keel.

      “Bly waar jy is!” skreeu hy.

      Die vlymskerp mes sny dadelik deur haar vel en sy voel ’n druppel bloed teen haar keel afloop. Sy sluk swaar, haar oë wyd gerek van angs.

      “Jy kan nie alleen met haar oor die rotslys teruggaan nie,” sê Jarad.

      Ibrahim kyk vervaard om en sien dat sy manne vasgekeer is tussen die kranse en afgrond aan die een kant en Jarad se groep aan die ander kant.

      “Ek het ’n opdrag!” bulder hy, maar met aansienlik minder oortuiging as vroeër.

      “Moenie ’n gek wees nie, Ibrahim,” sê Jarad. “Julle gaan almal vannag hier sterf uit onnoselheid.”

      Met ’n vloek laat los Ibrahim Isabelle en gryp na sy dolk. “Dan veg ons!” skreeu hy woedend omdat hy moes toegee.

      Sy tel blitsvinnig die swaard op en skuifel eenkant toe. Toe sy opkyk, is die twee mans al aanmekaar en trap hulle ligvoets om die los klippe in hul pad.

      Daar is nie veel plek om te baklei nie. Telkens breek hulle weg van mekaar en kring dan weer versigtig om mekaar, op hul hoede vir die geringste beweging van die ander.

      Die wond aan Jarad se linkerarm bloei nog. Dit moet pynlik wees en hom uitput, dink sy. Ibrahim, daarenteen, makeer niks. Hy is ook effens jonger as Jarad en dit lyk amper asof hy met die sjeik speletjies speel. Dis nie ’n gelyke stryd nie.

      Plotseling steek Ibrabim na Jarad. Alles gebeur so vinnig dat Isabelle nie kan sien wat aangaan nie. Jarad gryp na Ibrahim se hand en met ’n sterk beweging ruk hy die jonger Arabier se arm agter sy rug in en ontwapen hom. Ibrahim uiter ’n gil van pyn.

      “Gee jy oor?” vra Jarad en druk sy dolk se punt teen sy teenstander se keel. “Sal jy teruggaan en vir Khidr sê dat jy verloor het en dat die meisie nog myne is?”

      “Ek kan nie teruggaan nie!” hyg Ibrahim. “Maak my dan liewer dood!”

      Jarad skop Ibrahim se dolk eenkant toe en laat die Arabier los.

      “Om jou dood te maak, sal te goed vir jou wees. ’n Bietjie vernedering sal jou dalk ’n juister perspektief gee.”

      Ibrahim se oë gloei van haat toe hy na Jarad kyk. “Daar sal ’n dag kom dat ek jou keel sal oopkloof en jou vir die aasvoëls sal los, Xavier Jarad! Ek sal wraak neem!”

      Hy draai om en stap weg na sy manne.

      Isabelle se hart klop wild in haar keel. Sal hulle werklik sommerso die aftog blaas? Tog lyk dit asof die veglus uit die groep is. Een vir een volg hulle Ibrahim na die rotslys terwyl Jarad se groep hulle agternakyk.

      Toe die laaste een buite sig verdwyn, kom Jarad na Isabelle. Hy kyk af na die bebloede swaard in haar hand en dan op in haar oë. ’n Fyn glimlag speel om sy mondhoeke. Hy lewer egter nie kommentaar op haar swaardkuns nie.

      “Ons sal eers na Al Jesab gaan. Ons sal Harib nie voor môreaand kan bereik nie.”

      Hy draai weg voor sy hom kan antwoord, maar hy het slegs ’n paar treë geloop voordat hy vassteek en terugdraai na haar. “As jy ons nie gewaarsku het nie, was ons almal vannag dood. Dankie … En die swaard kan jy maar hier los. Jy sal dit nie weer nodig kry nie.”

      Dan stap hy weg om die rasjids nuwe opdragte te gee.

      Sy aarsel. Miskien moet sy hom gehoorsaam, maar dan haal sy haar skouers op en steek die swaard in haar gordel. As ’n nagedagte tel sy ook Ibrahim Khidr se dolk op. Toe sy omkyk, sien sy hoe die rasjids swyend na haar staan en kyk. Hulle sê niks en dit laat haar ongemaklik voel.

      ’n Rukkie later is hulle almal weer in die saal en pak hulle die lang tog na onder aan.

      Isabelle kan maar nie vergeet wat daar bo in die berg gebeur het nie. Twee van Jarad se manne is gewond en dis duidelik dat hulle pyn verduur. Die sjeik self weier dat enige aandag aan sy wond gegee word.

      In die maanlig kan sy hom voor haar sien ry, en dit word geleidelik duidelik dat sy wond dieper is as wat hy hulle wil laat agterkom. Wanneer die ligte wind sy mantel laat wapper, kan sy die groter wordende bloedkol op sy hemp sien en dit bekommer haar. Hy is besig om baie bloed te verloor en dit sal hom verswak.

      Eindelik kan sy dit nie meer uithou nie en sy ry tot langs hom.

      “Ons stop nou,” sê sy.

      Hy kyk vinnig na haar. “Jy kan nie die leiding neem nie!” sis hy.

      “Ek gee nie ’n duiwel om wat jy sê nie,” kap sy terug. “My lewe hang van joune af, en op die oomblik is jy besig om soveel bloed te verloor dat jou lewe in die sand gaan verdwyn voordat ons Helu bereik!”

      Hulle het tot stilstand gekom terwyl hulle argumenteer, en die rasjids bly op ’n kort afstand staan.

      “Ek makeer niks!”

      “Kyk hoe lyk jou klere!” Sy trek sy mantel weg. “As ons by Al Jesab aankom, wag daar dalk meer as net palmbome en water en sand op ons! Trek jou kleed uit dat ek die wond kan verbind.”

      Hy wil teëstribbel, maar hy weet dat sy gelyk het. Dan gly hy uit die saal en gaan sit teen die duin. Daar trek sy sy mou van die wond af weg. Dit bloei steeds en sy moet so vinnig moontlik die vloei stop. Sonder om te aarsel, skeur sy ’n strook van haar eie jurk af. Een van die rasjids bring water sodat sy die wond kan skoonmaak.

      Sy verbind die wond so goed as wat sy kan, en met ’n kopdoek maak sy ’n draverband vir sy arm. So sal dit ten minste ’n mate van rus kry. Dis hopeloos te min, maar as hulle gelukkig is, sal hulle binne ’n dag of twee in Al Jesab wees, waar die wond behoorlik versorg kan word.

      Eindelik is sy klaar en help sy en ’n rasjid Jarad weer op sy perd.

      Teen die oggend moet hulle ’n tent opslaan as beskerming teen die bloedige son, want Jarad lyk nie so goed nie. Die rasjids keer haar nie toe sy langs hom kniel om na die wond te kyk nie. Sy het geen salf wat sy op die wond kan sit om infeksie teë te werk nie en ook geen medisyne wat hom sal help nie. Nog twee dae op die pad … sy weet nie of hy dan nog gehelp sal kan word nie.

      ’n Rasjid verskyn langs haar. Hy hou ’n sakkie na haar uit.

      “Dis goed vir wonde,” sê hy op Arabies.

      Sy knik en antwoord hom terug in sy eie taal: “Dankie … en gebede sal ook help.”

      Sy tande flits wit in sy songebruinde gesig toe hy vir haar glimlag. Dan verlaat hy die tent om saam met die ander in hulle eie tent te skuil.

      Isabelle probeer die wond skoonmaak, want daar het sand in gekom. Jarad kners op sy tande, maar maak СКАЧАТЬ