Ikarus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ikarus - Deon Meyer страница 11

Название: Ikarus

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169783

isbn:

СКАЧАТЬ dié aap uit die mou is, gaan dit chaos wees. Vir my en vir jou.”

      * * *

      Brigadier Arrie September sluit die sel vir Cupido oop. Hulle stap in en sien Bennie Griessel waar hy op sy rug lê, sy mond oop, sy oë toe. Hy snork lank en luid.

      “Ai, fok, Benna,” sê Cupido.

      “Ons sal hom hier moet uitkry, Vaughn,” sê September. “Voor ek tjaila.”

      “Wie weet almal?” vra Cupido terwyl hy langs Griessel op die kaal betonbankie gaan sit. Hy sien daar is ’n bloupers kneusmerk aan sy kollega se wangbeen.

      “Net ek en die twee uniforms wat hom ingebring het. Maar hulle sal stilbly.”

      “He’s had a really bad day. Ek weet nie of jy van Vollie Vis gehoor het nie …”

      “Ek het. Daai’s tragies, my broe’. Ma’ Bennie het gaan staan en slaan aan twee Hase. En die Fireman’s Arms se mense is ook baie unhappy oor die moleste. Hulle praat van aankla.”

      “Benna moes nooit na Vollie Vis gestuur gewees het nie. Sy kop was nog nie reg ná die Giraffe se dood nie.”

      “Our lips are sealed, maar as daar ’n formal complaint kom …”

      “Ek sal gaan praat.”

      “Kan ek jou kar ombring na die courtyard toe?”

      “Asseblief.”

      September gaan uit.

      Cupido sit sy hand op Griessel se arm en skud hom liggies. “Benna …”

      Griessel se snork hou skielik op. “Fok julle,” sê hy. “Fok julle almal.”

      9

      Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.

      Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad

      FdT: Daar is ’n geraamde knipsel uit die Huisgenoot van 1950 oor my oupa Jean. Dit het al die jare in die voorhuis gehang … San het dit nou onlangs afgehaal. Dit is so half, ek weet nie, daar is iets tragies daarin. Hoe die artikel en die werklikheid … Die opskrif sê Groot oesjaar wag vir jong Jean du Toit. Daar is ’n foto van hom. Hy staan so in die wingerd, in sy WP-rugbytrui, met ’n rugbybal in sy hande. Toe San dit die eerste keer sien, toe vra sy: “Wat het van daardie gene geword?” Sy sê as hy vandag geleef het, sou hy ’n paparazzi-droom gewees het. Hy was blond en baie aantreklik, met hierdie potblou oë, hy was ’n fantastiese rugbyspeler, maar op daardie foto kan jy die ander ding ook sien. Dis … ’n soort selfvertroue wat grens aan vermetelheid, ’n houding wat sê hy gaan maak net wat hy wil, die wêreld behoort aan hom. San sê daar’s ’n soort gevaar aan daardie look, ’n onweerstaanbaarheid, daar’s vrouens wat daarvoor gaan, al weet hulle dis net moeilikheid.

      Die foto is geneem twee jaar ná my grootjie se dood. Oupa Jean het op twee-en-twintig die plaas geërf. In daardie jare was dit niks snaaks nie, daar’s ouens wat op agttien al die plaas oorgevat het, dis anders vandag … Die probleem was, Klein Zegen was ’n wynplaas. Met alles wat daarmee saam kom. Die mistiek van wyn, die prestige, die geskiedenis, die kultuur … My ouma Hettie het gesê daardie jare, die vroeë vyftigs, was wynboere regtig iémand gewees. Daar was die persepsie dat hulle almal skatryk was. En hulle was nie … Maar jy kan dink, twee-en-twintig, handsome, sportster, en ’n wynboer van ’n plaas waar die opstal tweehonderd-en-twintig jaar oud was. Dis soos om vandag ’n rock star te wees. En die een of ander tyd moet dit na jou kop toe gaan …

      Oupa Jean was nie net die enigste seun nie, hy was die enigste kind. Hy was van kleins af daarvan bewus dat alles syne sou word. En hy was ook maar lekker bederf, dink ek. Die goue seun, die talentvolle, mooi kind wat ’n toekoms gehad het sonder om eens te probeer.

      Nou moet jy ook verstaan, dié tyd toe oupa Jean die plaas oorgeneem het, was die goue jare van die KWV. Die Koöperatieve Wijnbouwers Vereniging Beperkt, wat eintlik maar die staat was wat beheer gehad het oor die hele wynbedryf. Tot in 1956 het die KWV in elk geval sy hele oes gekoop. In 1957 het die KWV die kwotastelsel ingevoer, en met oupa Jean se rugbykontakte het hy seker gemaak Klein Zegen kry ’n groot kwota. Sy enigste doelwit was om elke jaar daardie kwota te vul, want Big Brother KWV sou alles koop. Baie min van die boere van daardie tyd het geworry oor gehalte. Daar was nie baie wat hulle eie wyn op die plaas gemaak het nie, dit was nie eintlik finansieel lonend nie … So dan kan jy deeltyds boer, jy moet net met oestyd en snoeityd so ’n bietjie fokus. Wat vir oupa Jean tyd gegee het vir rugby en vroumense en drank. Nie noodwendig in daardie volgorde nie.

      En dis wat hy gedoen het. Almal het gedink hy gaan Springbok word, maar toe gebeur daar twee goed. Oupa Jean het die volgende jaar vir ouma Hettie swanger gemaak, en hy’t sy been gebreek, net voor die Springbokke se toer Engeland en Frankryk toe …

      10

      In die kar sê Cupido: “Benna, ek het jou nodig op dié een. Asseblief, partner.”

      Griessel sit koponderstebo en wieg saam met die beweging van die voertuig. Hy maak ’n geluid wat soos ’n humorlose lag klink.

      Cupido voel die beklemming in sy maag. Hy moet die Richter-saak baie vinnig aan die gang kry. Môreoggend sal Cloete die mediamonster weer moet voer, en hy sal verslag moet doen aan Kaleni oor wat hy én Bennie vermag het. Maar hy sal eers by die Fireman’s moet gaan mooipraat. Want die groot probleem is, die Valke sal nog nou en dan ’n dronk lid duld, maar as jy in jou dronkenskap aan ’n Haas gaan staan en slaan, is skorsing onafwendbaar.

      En Griessel sal nie nou dit óók nog kan hanteer nie.

      Cupido hou stil voor Alexa Barnard se groot Victoriaanse huis in Brownlowstraat, Tamboerskloof, stap om en gaan help vir Bennie uit. Hulle sukkel deur die tuinhekkie, tot by die voordeur. Cupido klop dringend.

      Alexa kom maak oop, sien vir Bennie wat so aan Vaughn Cupido hang, en sy snak na haar asem.

      “Hy’s fine, hy’s net dronk,” sê Cupido.

      “’n Dronk altruïs,” sê Griessel. Hy het groot moeite om die sibilant uitgespreek te kry.

      “Ai, Here,” sê Alexa en begin huil.

      “Ek dink ons moet liewer inkom, if you don’t mind,” sê Cupido.

      Alexa knik en sy staan weg. Cupido stuur vir Griessel na binne. Sy maak die deur agter hulle toe.

      “’n Dronk altruïs is beter,” sê Griessel. “Baie beter.”

      Cupido help vir Bennie tot by die rusbank en laat hom sit. Griessel lê terug en maak sy oë toe.

      “Kan ons iewers praat?” vra Cupido sag vir haar.

      Sy staar na Bennie, die trane wat loop.

      “Vaughn, ek het ’n snaakse storie gehoor,” sê Griessel. “Dis fokken snaaks …”

      “Okay, Benna.”

      Griessel maak weer sy oë toe.

      “Kom,” sê Alexa, en stap voor hom uit, kombuis toe.

СКАЧАТЬ