Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal. Henk Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen страница 8

СКАЧАТЬ (1)(Totaal: 10 punte)
Formele assessering: Jou onderwyser kan hierdie luistertoets formeel assesseer.
Aktiwiteit 2: Lewer ’n praatjie en skryf
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Skryf en aanbied•Taalstrukture en -konvensies•’n foto-collage saamstel en daaroor praat•’n dagboekinskrywing maak•sinsoorte inoefen.

      Die Idols-kompetisie is wêreldwyd bekend. Suid-Afrika het ook al ’n klompie Idols-sangsterre. Dink maar aan deelnemers soos Heinz Winkler, Brandon October, Elvis Blue, Karin Kortje, Crushanda Forbes, Dave van Vuuren en nog baie ander. Wie was jou gunsteling?

      Lees die onderstaande teks saam met jou maat deur.

      Platinum vir Elvis Blue

Elvis%20Blue.psd

      Johannesburg – Byna ’n jaar nadat Elvis Blue tot die Idols-wenner gekroon is, het hy die eerste Idol geword wie se eerste album ná die kompetisie platinumstatus bereik het. “Ek sou dit in my wildste drome nie kon dink nie,” het hy gister gesê.

      Want nie so lank gelede nie, het Jan Hoogendyk, toe nog nie bekend as Elvis Blue nie, gesukkel om ’n sangloopbaan (singing career) te begin. Hy het selfs daaraan gedink om op te hou sing. In dié stadium het hy en sy vrou, Chireze, in George gebly. “Sy het by ’n Hospice gewerk en daar was ’n seuntjie, Elvis Blaauw (10), wat van geboorte af ’n vigslyer was. Ek het baie vir dié seuntjie gaan sing. Hy wou so graag keyboard speel.

      “Ons het altyd gespot en gesê hy het die beste stage-naam, ons sal dit net na Elvis Blue verander. Myne sal nie werk nie, want ek is Jan Hoogendyk.”

      Hy bly ’n rukkie stil voordat hy sê: “In die middel van sy 11de jaar is hy dood. Toe ek ’n Idols-naam moet kies, was daar nie twyfel nie dat dít die beste naam sou wees.” Hy het ’n maand nadat hy as die wenner aangewys is die album Elvis Blue uitgereik, óók ’n eerste vir ’n Idols-wenner.

      In die 12 jaar voor die Idols-kompetisie het ’n paar albums nie verkoop nie, maar nou gaan hy ’n groot partytjie hou, het Hoogendyk opgewonde gesê. Maar tyd vir niksdoen is daar nie eintlik nie.

      Hoogendyk het beplan om sy musiek-akademie van Alexandra na Zandspruit te skuif en dan konserte te hou. Boonop is hy aangewys as ambassadeur vir die 46664-armband-projek. Daarby is hy reeds besig om aan sy nuwe album te werk wat hopelik vroeg in 2012 op die rakke sal wees.

      “Ek het die afgelope jaar baie geskryf. Hierdie week neem ek saam met Dan Patlansky, ’n ou vriend, ’n liedjie of wat op en sal in die nuwe jaar die beste liedjies vir die nuwe album kies.”

      (Verwerk van Nuus24. November 2011)

      Mondelinge aanbieding

      Stel ’n foto-komposisie (collage) saam van jou gunsteling Idols-wenner of enige ander sanger/

       sangeres. Die komposisie moet die kyker meer inligting gee oor wie die ster is soos die berig oor Elvis Blue. Berei ’n mondelinge aanbieding oor die foto-komposisie voor. Jou praatjie moet 2 tot 3 minute duur.

      Onthou ook die volgende vir hierdie opdrag:

       •Die foto-komposisie moet duidelik en interessant wees.

       •Versamel genoeg inligting.

       •Ontwikkel ’n raamwerk vir jou praatjie en neem die tydsduur (2 tot 3 minute) in ag.

       •Oefen jou praatjie voor ’n spieël, voor een van jou vriende of jou ouers.

       •Praat met entoesiasme en selfvertroue.

      Pitkos

      Riglyne vir voorbereide praatjies

       •Jy moet genoeg inligting oor en idees vir jou onderwerp insamel.

       •Jy hoef nie jou voorbereide praatjie te memoriseer nie, maar ken die inhoud!

       •Maak gebruik van notas of indekskaartjies waarop jy kerngedagtes aanteken vir jou aanbieding.

       •Maak seker dat jy jou inligting deeglik ken en verstaan – dan sal jy jou praatjie met selfvertroue aanbied.

      Jy gaan volgens die volgende kriteria geassesseer word:

       •Die gehoor moet die foto-komposisie tydens die praatjie kan sien.

       •Moenie te vinnig of te stadig praat nie.

       •Maak seker dat jy duidelik en hoorbaar praat.

       •Oefen die gebruik van klem en toon sodat jou stem natuurlik klink.

       •Gebruik jou notas of indekskaartjies op so ’n wyse dat dit nie steurend is nie. Hou jou notas op borshoogte vas.

       •Hoofgedagtes moet logies op mekaar volg en onthou ’n goeie inleiding en slot.

       •Die aanbieding moet binne die bepaalde tydsduur aangebied word.

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou praatjie formeel assesseer.

      Maak ’n dagboekinskrywing

      Jy het ’n konsert van jou gunstelingsanger bygewoon. Maak ’n dagboekinskrywing (90 tot 100 woorde) oor hoe jy gevoel het en wat jy alles ervaar het/wie jy daar ontmoet het. Kyk na die voorbeeld van ’n dagboekinskrywing:

mod1%20pic%207.tif

      Lees Pitkos voordat jy met jou dagboekinskrywing begin.

      Pitkos

      ’n Dagboek is ’n persoonlike verslag van jou eie ervarings, gedagtes en emosies. Die inskrywings vir elke dag is kort en bondig. Maar al skryf ons bondig oor iets, moet dit steeds volsinne wees. Doen dit soos volg:

       •Skryf die dag en datum boaan jou inskrywing.

       •Skryf altyd in die eerste persoon, gebruik ek/my.

       •Skryf in die verlede tyd oor gebeure wat reeds plaasgevind het en in die toekomende tyd oor gebeure wat nog moet plaasvind.

       •Gevoelens wat jy nou ondervind, word in die teenwoordige tyd beskryf.

       •Noem jou ouers en vriende op die name wat jy hulle gewoonlik noem, byvoorbeeld Ouma, nie my ouma nie.

       •Gebruik byvoeglike naamwoorde, leestekens (!/?) en aksenttekens (dié) asook hoofletters (AG NEE) om oortuigend te skryf, maar moenie oorboord gaan daarmee nie.

       •Gebruik vrae en wense om gevoelens oor te dra, byvoorbeeld: Hoekom gebeur sulke dinge met my?

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou dagboekinskrywing formeel assesseer.
СКАЧАТЬ