Feniks. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Feniks - Deon Meyer страница 17

Название: Feniks

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157421

isbn:

СКАЧАТЬ haar sy soek by die verkeerde plek. Dié spoor lei na nêrens. Dit is nie sy pa wat hom opgefok het nie. Dit is die dood. Die dood van Lara Joubert.

      “Geniet jy jou werk?”

      Nou raak jy warm, doktor.

      “Dit is ’n werk. Soms is dit lekker. Soms nie.”

      “Wanneer is dit lekker?”

      Wanneer die dood geklee is in waardigheid, doktor. Of wanneer dit heeltemal afwesig is.

      “Sukses is lekker.”

      “En wanneer is dit onaangenaam?”

      Dieng! Doktor het die jackpot geslaan. Maar sy gaan nie vandag ’n prys kry nie.

      “Wanneer hulle wegkom.”

      Besef sy dat hy skerm? Dat hy wegsteek, dat hy nou bang is om die sluise oop te maak, want hy het al vergeet hoe baie water opgedam het?

      “Hoe ontspan jy?”

      “Ek lees.” Sy wag. “Meestal wetenskapsfiksie.”

      “Is dit al?”

      “Ja.”

      “Jy bly alleen?”

      “Ja.”

      “Ek is nog nie lank hier nie,” sê sy en hy sien haar neus – lank en effens gepunt. Dit is asof die elemente van haar gesig nie saamhoort nie, maar dit vorm ’n skoonheid wat hom bekruip. Is dit haar tengerigheid ook? Hy hou daarvan om na haar te kyk. En dit gee hom genoegdoening om haar aantreklik te vind. Want sy weet dit nie. Dít is sy voorsprong. “En daar is nog baie dinge wat ek wil reël. Maar een ding wat al vorm aanneem, is ’n kuiergroep … as dit is wat jy dit kan noem. Van die mense wat my konsulteer …”

      “Nee dankie, doktor.”

      “Hoekom nie?”

      Dit kan nie te moeilik wees om ’n doktorsgraad in sielkunde te kry nie. Jy moet net weet hoe om alles in vrae te omskep. Veral vrae wat met “hoekom” begin.

      “Ek sien genoeg mal polisiemanne by die werk.”

      “Hulle is nie …” Dan glimlag sy, stadig. “Hulle is nie mal nie en hulle is nie almal mans nie en hulle is nie almal in die Polisie nie.”

      Hy reageer nie. Want hy het haar gesig gesien voor sy geglimlag het. Jý, doktor, is ook maar net ’n mens.

      “Ek sal jou laat weet van ons aktiwiteite. Dan kan jy besluit. Jy moet net saamkom as jy wil.”

      Vra haar of sy net saam met die groep “kuier”. En ’n deel van sy kop is in verwondering oor sy belangstelling. Meer as twee jaar lank het die lus hom net in vaag onthoude drome besoek, waarin hy met gesiglose vroue ongemaklike geslagsomgang gehad het. En die werklike, lewende vroue op sy pad was sedertdien niks meer nie as bronne van inligting sodat hy sy werk kan doen en kan huis toe gaan en gaan skuil tussen die blaaie van ’n boek.

      En nou het hy ’n … belangstelling in doktor Hanna. Wel, wel, wel, Mat Joubert. Die klein vroutjie met die skoonheid wat sluip, maak die man in jou wakker, die beskermingsdrang, die besittersdrang.

      “Ek sal daaroor dink.”

      Nege

      Hy ry op pad huis toe by die munisipale swembad langs. Die opsigter is ’n bruin man.

      “Meneer kan in die oggend kom swem, saam met die business club. Ek is al halfses hier in die somer.”

      “Die business club?”

      “Businessmen. Hulle het verlede jaar die Council gevra of hulle vroeg kan swem, voor werk. Werk seker te hard die res van die tyd. Toe sê die Council dis reg en gee die early birds ’n naam. Business club. From five thirty on weekdays, from six thirty on Saturdays, en die sewende dag is gemaak om te rus. Negentig rand ’n seisoen, September tot Mei. Meneer kan daar by die cashier betaal. Die lockers is twintig rand ekstra.”

      Hy gaan haal sy tjekboek uit die motor en betaal. Dan stap hy na die swembad. Hy staar na die blou water, onbewus van die jillende, plassende kindermassa. Hy kry die reuke, en onthou. Dan draai hy om. By die deur gooi hy die rooi pakkie Winstons in die asblik.

      Hy hou by die kafee stil. Die eienaar ken hom en haal solank Winstons van die rak af.

      “Nee,” sê Joubert. “Benson & Hedges. Special Mild.”

      By die huis is daar geen koevert onder die deur ingeskuif nie. Hy bak vir homself drie eiers. Die geel breek en loop oor die pan. Hy eet dit op roosterbrood. Dan gaan sit hy met die William Gibson in die sitkamer tot die boek klaar is.

      Voor hy gaan slaap, diep hy sy swembroek op uit die kas. Hy rol dit in ’n handdoek op en sit dit op die stoel by die deur.

      Hy het die afgelope paar jaar geleer om naweke te haat.

      Saterdae nie so erg nie, want dan kom Emily, sy Xhosa-huishulp, in en die geluide van die wasmasjien, skottelgoed en stofsuier verdryf die doodse stilte uit die huis.

      Om op diens te wees, help ook, want dit hou die verveling en doelloosheid van die naweek in toom.

      Wanneer die wekker om kwart oor ses afgaan, staan hy doelgerig op en besef nie eens dit is ’n mylpaal nie.

      Hy is die enigste lid van die sakeklub wat die Saterdagoggend benut. Die kleedkamer is stil en leeg en hy kan die groot swembad se pomp buite hoor. Hy trek sy Speedo aan en besef dit het te klein geword. Hy moet vanoggend nog ’n ander een gaan koop. Hy stap deur die voetbad na buite en die reuke en klanke maak herinneringe los, brokstukke uit sy jeug, en dit voel goed om terug te wees.

      Die water strek glad voor hom uit. Hy duik in en begin met vryslag. Dit verg net dertig meter om hom uit te put.

      ’n Ouer, meer ervare polisieman sou Hercules Jantjies by die stasie se voordeur uitgeboender het, bes moontlik met ’n stewige skop op die agterwêreld.

      Die probleem is dat bergies dikwels op ’n Saterdagmôre kom kla oor die lief en leed van hul medeverdruktes ná die beskonkenheid van die Vrydagaand. En as jy lank genoeg by Nuweland se aanklagkantoor werk, besef jy mettertyd die beste uitweg is om so spoedig moontlik ontslae te raak van die onwelriekendheid en verbale aanslag op jou ore wat gewoonlik nie sin maak nie.

      Maar die blanke konstabel se uniform is vars en nuut en sy geesdrif nog aangevuur deur die kollegedosent wat gesê het die Polisie dien almal in Suid-Afrika.

      Hy dwing hom om nie instinktief weg te beweeg van die reuk van ongewaste liggaam en gehersirkuleerde brandspiritus nie en kyk Hercules Jantjies vol in die gesig – na die klein, bruin ogies wat been en weer flits, die blou-rooi vel wat miljoene krake van die lewe wys, die tandlose mond, die stoppelbaard.

      “Kan ek help?”

      Hercules Jantjies strek sy hand van onder sy verslete, kleurlose baadjie uit. Hy hou ’n stuk koerantpapier daarin vas. Hy sit dit op die tafel neer en stryk dit met ’n vuil hand plat. Die konstabel sien dit is die voorblad van die Cape Times, ’n paar dae oud. Die opskrif СКАЧАТЬ