Feniks. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Feniks - Deon Meyer страница 16

Название: Feniks

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157421

isbn:

СКАЧАТЬ en susters?”

      Staan dit nie in sy lêer nie? “’n Suster, ouer as ek.”

      “Is sy ook nog in die Kaap?”

      “Nee. In Secunda.”

      Hy kyk nou vir haar wanneer hy praat. Hy sien die breë voorkop, die groot bruin oë, wyd uitmekaar, die wenkbroue ruig.

      “Lyk julle na mekaar?”

      “Nee …” Hy weet hy moet nog iets sê. Hy weet sy antwoorde is te kort. “Sy … lyk na my pa.”

      “En jý?”

      “Na my ma.” Hy is skaam, ongemaklik. Wat hy wil sê, klink so alledaags. Maar hy sê dit: “Eintlik my ma se mense. Haar pa, my oupa, was blykbaar ook groot.”

      Hy haal diep asem: “En lomp.” Hy is vies omdat hy die laaste woorde bygevoeg het. Soos ’n misdadiger wat opsetlik leidrade laat.

      “Beskou jy jouself as lomp?” Sy sê dit outomaties, ’n refleks, en dit laat hom op ’n eienaardige manier beter voel. Sy is minstens nie volkome in beheer nie.

      “Ek is.”

      “Hoekom sê jy so?” Stadiger, nou deurdag.

      “Ek was nog altyd.” Sy oë dwaal oor die boekrak, maar hy sien niks. “Vandat ek kan onthou.” Die herinneringe dam op teen die dyk. Hy haal ’n vinger uit om ’n paar druppels deur te laat. “Op laer skool ... Ek het altyd laaste gekom in die atletiek …” Hy is onbewus van sy skewe glimlag. “Dit het my gepla. Op hoër skool het dit nie meer nie.”

      “Hoekom het dit jou gepla?”

      “My pa … Ek wou soos hy wees.” Hy druk die vinger terug. Die lekplek is weer verseël.

      Sy huiwer vir ’n oomblik. “Leef jou ouers nog?”

      “Nee.”

      Sy wag.

      “My pa is drie jaar gelede oorlede. Aan ’n hartaanval. My ma ’n jaar daarna. Hy was een en sestig. Sy, nege en vyftig.” Hy wil nie onthou nie.

      “Watter werk het hy gedoen?”

      “Polisieman. Hy was vir sewentien jaar bevelvoerder van die Goodwood-stasie.” Joubert kan die ratte in haar kop hoor draai. Sy pa was ’n polisieman. Hý is ’n polisieman. Dit beteken wat dit ook al beteken. Maar sy sal ’n fout maak.

      “Ek het nie ’n polisieman geword omdat my pa een was nie.”

      “O?”

      Sy is so slim. Sy het hom uitgevang. Maar sy gaan nie weer nie. Hy bly stil. Hy druk sy hand in sy baadjiesak en soek sy sigarette. Nee, dit is te gou. Hy haal sy hand uit en vou weer sy arms voor sy bors.

      “Was hy ’n goeie polisieman?”

      Hoekom karring sy so met sy pa?

      “Ek weet nie. Ja. Hy was van ’n ander era. Sy mense – die uniforms, wit en bruin – was lief vir hom.”

      Hy het nie eens met Lara oor sy pa gepraat nie.

      “Maar ek dink hulle was bang vir hom.”

      Hy het nooit met Blackie Swart oor sy pa gepraat nie. Of met sy ma of sy suster nie. Wil hy met iemand oor sy pa praat?

      “Die bruines beslis. Hy het hulle hotnots genoem. Voor hulle. ‘Kom, my hotnot.’ En kaffers. Nooit ‘my kaffers’ nie – ‘verdomde kaffers’. Daar was nie in sý tyd swart konstabels by die stasie nie. Net swart misdadigers. Al hoe meer, soos wat hulle uit die Oos-Kaap hier kom werk soek het. Hy het hulle gehaat.”

      Hy sien homself in die swart leunstoel, die groot man met die gevoude arms, geboë kop en effens deurmekaar hare, die bruin baadjie en broek, die ongepoetste bruin skoene, die das. Hy hoor homself praat. Asof hy buite homself tree. Praat, Mat Joubert, praat. Dit is wat sy wil hê. Gee vir haar die geraamtes. Laat sy met haar geleerdheid die oorskot van jou lewe ontleed. Bloei die vullis uit.

      “Ék ook, eers, omdat hý het. Voor ek begin lees het en maats gehad het wie se ouers anders gedink het. En toe het ek net … neergesien op my pa, op sy eng en eenvoudige standpunt, op sy nuttelose haat. Dit was deel van … ’n proses.”

      In die kelders van sy kop is dit ’n oomblik lank stil.

      Die pyn kom druk op sy skouers. Hy by sy pa se graf, en hy weet hy het die man gehaat. En niemand het geweet nie. Maar sy pa het dit vermoed.

      “Ek het hom gehaat … doktor.” Hy las haar titel met opset aan, ’n afstand tussen hulle. Sy wil weet. Sy wil hoor watter skimme sy kop bewandel. Hy sal sê. Hy sal haar fokken sê. Voor sy met haar tegnieke en haar stem en haar grote kennis dit uit hom kan ryg … “Ek het hom gehaat omdat hy was wat ek nie kon wees nie. En my daarvoor kwalik geneem het en dit in my gesig teruggegooi het. Hy was so sterk en … vlugvoetig. Hy het die bruin konstabels op ’n Vrydagaand agter die stasie in die straat laat staan. ‘Kom, my hotnots, die een wat voor my by die lamppaal is, kan die naweek gaan naai.’ Hy was al in die vyftig en hy het vir hulle almal weggehardloop. En ek was stadig. Hy het gesê ek is net lui. Hy het gesê ek moet rugby speel, want dit sal van my ’n man maak. Ek het begin swem. Ek het geswem asof my lewe daarvan afhang. In die water was ek nie lomp en groot en lelik nie. Hy het gesê dit is vir meisies. `Meisies swem. Manne speel rugby. Dit gee jou knaters.’ Hy het nie gerook nie. Hy het gesê dit vat jou asem weg. Ek het begin rook. Hy het nie gelees nie, want die lewe is die enigste boek wat ’n mens nodig het. Lees is vir meisies. Ek het begin lees. Hy het op mense geskel. My ma, my suster. Ek het sag met hulle gepraat. Hy het ge-‘hotnot’ en ge-‘kaffer’. Ek het hulle almal `meneer’ genoem. En toe gaan staan hy en gaan dood.”

      Emosie druk van binne, in sy bors. Sy lyf het geskuif, onafhanklik, sodat sy elmboë op sy knieë is en sy kop tussen sy hande. Hy wonder hoe, wanneer hy só ...

      Hy wil haar skielik vertel van die dood. Die hunkering daarna sprei deur hom soos ’n koors. Hy kan dit proe, die verligting. Praat daaroor, Mat Joubert, en jy sal vry wees ...

      Hy beur orent en steek sy hand in sy sak. Hy haal die sigarette uit. Sy hande bewe. Hy steek een aan. Hy weet sy sal iets sê om die stilte te verbreek. Dit is haar werk.

      “Hoekom het jy dieselfde beroep as hy gevolg?”

      “Die speurders was apart van die uniforms by Goodwood. Daar was ’n luitenant Coombes. Hy het ’n hoed gedra, ’n swart hoed. En hy het sag gepraat. Met almal. En Mills uit ’n blikkie gerook. En altyd ’n onderbaadjie aangehad en hy het ’n Ford Fairlane gery. Almal het van Coombes geweet. Hy was ’n paar keer in die koerant, moorde wat hy opgelos het. Ons het langs die stasie gebly. Ek het op die stoep gesit en lees toe hy van die speurders se kantore in Voortrekkerweg omstap, seker om my pa te gaan sien. Hy het by die hekkie gaan stilstaan en na my gekyk. ‘Jy moet ’n speurder word,’ het hy gesê, uit die bloute. Ek het hom gevra hoekom. ‘Ons het slim mense nodig in die Mag.’ Toe loop hy. Hy het nooit weer met my gepraat nie. Ek weet nie eens wat van hom geword het nie.”

      Joubert druk die sigaret dood. Dit is halfgerook.

      “My pa het gesê geen kind van hom sal ooit vir die СКАЧАТЬ