Название: Ettie Bierman Keur 8
Автор: Ettie Bierman
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624056768
isbn:
Ilse glimlag in Rothea se rigting. “Ons het nie formeel ontmoet nie, maar ek het aangeneem sy is Barbara se suster. Ek kan nou verstaan dat Ernst met die eerste oogopslag halsoorkop op Rothea se tweelingsuster kon verlief raak. Ernie het altyd ’n swakheid vir rooikoppe gehad, in so ’n mate dat ek soms oorweeg het om my hare te kleur.”
Rothea is verbaas oor die onverwagte ommeswaai. Eers afsydige hoogmoed, nou vriendskaplike aanvaarding.
Rothea word ’n antwoord gespaar toe sy Albie sien. Carl en Ilse sit met hul rûe na die swembad, by die handdoek wat Ilse netnou weggesleep het. Hulle het nie opgelet nie, maar Rothea is op sy veiligheid ingestel. Met een vinnige beweging is sy op haar voete en aan die hardloop.
“Albie!” gil sy. “Stop! Los die bal!”
Rothea besef self sy moes nie geskree en gehardloop het nie, liewer kalm gebly het en rustig met Albie gepraat het. Toe hy haar sien, kyk hy om. Terselfdertyd reik hy weer uit na die groot rooi bal wat aan die diep kant van die swembad dobber en toe sy skree, skrik hy en verloor sy ewewig. Hy tuimel vooroor, vet vingertjies nog steeds uitgestrek na die bal wat hy probeer bykom. Die water sluit oor sy kop en hy sink na die bodem.
Rothea dink nie aan koue water en haarkapsels nie. Sy duik in die swembad en af in die water na waar sy die skynsel van ’n groen baaibroekie sien.
Albie het nie die gevaar besef nie, maar toe hy aanhou val sonder om die vastigheid van die trap onder hom te voel, raak hy paniekbevange. Hy vergeet wat Rothea hom saans met badtyd geleer het, die twee keer toe hulle by die munisipale swembad was en ook vanoggend. Hy hou nie sy asem op en probeer dryf nie. Hy gryp na die wal, maar daar is niks nie. Net water ... Hy wil skree Mamma moet kom. Pleks van ’n hulpkreet, stroom water sy keel binne. Dit is in sy mond, sy keel en maag. Toe hy stik, kom nog water in. Koud en baie ...
Rothea kry ’n stuk baaibroek beet, terwyl Albie voor haar verbytol. Hy gryp haar vas soos ’n drenkeling ’n lewensredder op die oop see, om haar arms en aan haar hare. Voor Rothea se oë dwarrel ’n stroom borrels verby, maar aan die stamp teen haar rug voel sy dat hulle onder op die bodem is. Albie se greep verwurg haar byna en hy hang soos ’n dooie gewig aan haar. Sy kan nie beweeg nie. Angs maak haar kouer as die troebelgrys water. Waar is Carl en Ilse? Hoekom help hulle nie? Sy het volgehou sy kan swem, maar nie goed genoeg om Albie betyds bo te kry nie ...
Dieter! Sy naam is ’n stil klank. As hy net hier was ...
Rothea gebruik geweld om haar een arm los te kry. Sy stut haarself teen die wal, skop met haar voete teen die bodem en maak maalbewegings met haar arm. Niks gebeur nie. Dan stadig, geleidelik, begin hulle styg, agter die borrels aan. Die grys word ligter, ’n witblou, dan deurskynend. Skielik, genadiglik, breek haar kop bo die water se oppervlak. Die son skyn warm in haar gesig en die teue vars lug is die soetste wat sy nog geproe het.
“Was daar ’n krisis?” vra iemand.
“Die kind het byna verdrink!” roep ’n manstem uit.
“Dieter?” prewel Rothea.
“Nee, dis Carl.” Hy lig Albie uit die water, help Rothea op die wal en gee haar ’n handdoek.
Rothea wil praat, maar al wat uitkom, is water wat na chloor ruik en haar laat stik.
“Hoes alles uit,” sê Carl sussend. “Jy sal beter voel.”
“Was daar regtig drama?” vra Ilse ontsteld. “Ek dag sy oordryf. Ek het nie gesien die kind val in nie.”
“Ek ook nie. Meisie ...?” Carl raak aan Rothea se skouer. “Hoe voel jy? Moet ek ’n dokter kry?”
“Ek is reg. Wat van Albie? Waar is hy?” Sy sien Albie, ’n handdoek om hom gedraai en op Ilse Bauer se skoot. “Haal hy asem?” roep sy vreesbevange uit.
“Natuurlik haal hy asem,” antwoord Ilse. “Wat het jy gedink? Dat hy dood is?”
Die woord “dood” is vir Rothea steeds nie maklik om te hoor nie. Trane van verligting stroom oor haar wange.
Carl hou haar vertroostend teen sy bors vas. “Toe maar, alles is nou verby. Albie het niks oorgekom nie.”
“Hy kon ... dood gewees het.”
“Nee wat, moenie so daaraan dink nie,” troos Carl. “Klein Albie is veilig.”
Rothea hoor ’n motor stilhou en ’n deur toeklap.
“Hier is Dieter,” merk Ilse op. “Ek het hom later verwag. Hy is vroeg terug van die dorp af.”
Rothea kom meteens agter Carl se arms is om haar nek en teen haar lyf kan sy die growwe tekstuur van sy borshare voel. Hoe moet dit vir Dieter lyk? Sy ken sy broer skaars ...
“Nee, sit nog ’n rukkie hier by my, tot jy beter voel,” keer Carl toe Rothea hom probeer wegstoot.
“Ek voel klaar beter, dankie.” Rothea vee die trane af en sit regop.
“Het iets gebeur?” vra Dieter skerp.
Van die vyf mense is Carl die kalmste. “Moenie onnodig op loop raak nie. Al wat gebeur het, is dat Albie sy bal wou bykom en in die swembad geval het. Rothea het hom uitgehaal sonder dat skade gedoen is.”
“Rothea?” Dieter klink ontevrede. “Hoekom nie jy nie?”
“Sy was te vinnig. Toe ek wou induik, het Rothea hom al by die wal gehad.”
In die oomblik van stilte ná Carl se verduideliking klink Rothea se stem onnatuurlik hard. “Sy bal het ver weg op die gras gelê. Hoe het die bal in die diep kant gekom?”
“Moenie jou oor ’n onbelangrike ou bal ontstel nie,” paai Carl. “Die hond het seker daarmee gespeel.”
“Die hond? Hy is te klein om ’n groot bal rond te sleep.”
“Dan seker Albie self.”
Rothea voel steeds bewerig, maar haar verstand is helder en sy weet dit was nie die hond nie. Of Albie nie. Het iemand die bal in die swembad gegooi? Wetende Albie sal dit probeer uithaal en sy is nie byderhand om te keer nie?
’n Siddering laat Rothea ril. Die son skyn warm, maar sy bewe opeens asof sy koud kry. Sy kom stadig orent, loop na Ilse en tel Albie van haar skoot af op.
“Mamma,” huil hy en hou haar vas.
“Die bal het anderkant die swembad op die gras gelê toe ek weg is kombuis toe,” hou Rothea vol. “En Albie het hier duskant gespeel. Piet ook.”
“Rothea het geskrik,” sê Ilse. “Sy ly aan skok en weet nie wat sy sê nie. Kom, dan neem ek jou en Albie in huis toe, dat jy ’n bietjie kan gaan lê, Rothea.”
“Nee!” Instinktief gee Rothea van die ander meisie af pad en hou Albie stywer vas.
“Het jy hom alleen gelaat, by die swembad en sonder toesig?” vra Dieter.
Ilse wil blykbaar vir haar vroeëre onvriendelikheid teenoor Rothea vergoed. “Dit was nie Rothea se skuld nie,” tree sy vir haar in die bresse. “Albie was nie sonder СКАЧАТЬ