Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman страница 15

Название: Ettie Bierman Keur 8

Автор: Ettie Bierman

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624056768

isbn:

СКАЧАТЬ stil. Haar regterhand lê slap op haar knieë, maar die ander een klem krampagtig om die rolstoel se armleuning.

      Rothea voel ongemaklik en probeer die gespanne stilte oorbrug. “Dit spyt my indien ek u laat wag het, mevrou Richter.”

      Olga Richter draai haar kop weg en kyk weg sonder om te antwoord.

      Carl knipoog bemoedigend vir Rothea, voor hy na sy broer draai. “Nogal die moeite werd om voor te wag, is sy nie?”

      Dieter lewer nie kommentaar nie. “Slaap Albie?” wil hy van Rothea weet.

      “Ja.”

      “Het hy weer gehuil?”

      Wéér ... asof Albie ’n tjankbalie is! “Nee, hy het nie.”

      “Dan was hy met sy kamer en met Hanna tevrede?”

      “Sy kamer is pragtig en Albie was in sy skik met al die nuwe speelgoed.”

      “En met Hanna?” herhaal Dieter.

      Rothea wil hom nie ’n geleentheid bied om weer te sê Albie is bedorwe, huilerig en te afhanklik van haar nie. “Albie was soet en tevrede.”

      “Dan kon Hanna seker alleen regkom om hom te bad en in die bed te sit? Dis nie deel van jou pligte om Albie saans te versorg nie.”

      Kritiek omdat sy laat was? Nagelaat het om vir aandete te verklee? Hanna se gevoelens seergemaak het?

      “Dit spyt my,” sê Rothea styf. “Ek was onder die indruk dat ek gedoen het wat van my verwag word en waarvoor ek betaal word. As ek Albie die heel eerste aand geheel en al aan sy oppasster oorlaat, waarom het ek dan in die eerste plek saamgekom? Sal ek môre inpak en teruggaan?”

      Dieter trek sy skouers op asof dit vir hom om ’t ewe is. “Ek het aan jou gerief en vrye tyd gedink. Sal ons gaan aansit?”

      5

      Dieter sit aan die hoof van die tafel, met sy moeder regs van hom en Carl aan die oorkant, langs Rothea. Terwyl ’n meisie in ’n swart rok die sop bedien, praat die twee broers oor Frankfurt en Londen, lammers en die huidige markprys vir karakoelpelse. Hul ma neem nie aan die gesprek deel nie. Haar oë is stip op haar bord gerig – omdat sy sukkel om met ’n lomp linkerhand die lepel te hanteer, of omdat sy wil vermy om na hul kuiergas te kyk, weet Rothea nie. Ná die sop volg ’n visvoorgereg met slaai, dan wildsboud, groente en verskillende bygeregte. Laastens vars vrugte en roomys.

      Rothea is bly sy hoef nie te gesels nie, sodat sy haar aandag by die korrekte eetgerei kan bepaal. In huishoudkunde op skool het hulle geleer die mes en die vurk aan die buitekant word in die reël eerste gebruik, probeer sy onthou, baie selfbewus en bang sy maak ’n gek van haarself.

      Koffie word in die klein sitkamertjie bedien, maar Carl se ma is reeds kamer toe en hy is weggeroep vir ’n telefoonoproep. Dieter neem sy koppie, maar hy lyk moeg en nie in die luim om moeite te doen om Rothea te laat tuis voel nie.

      “Sal dit vir almal makliker wees as ek in die toekoms my etes saam met Albie en Hanna in die kinderkamer nuttig?” vra Rothea.

      “Nee.” Dieter se weiering is kortaf.

      “Ek het gedink ...” Rothea neem ’n sluk van die sterk swart koffie. Medisinaal, dink sy, soos Dieter se bier nou die aand. “Jou ma hou nie van my nie ...”

      “Of jy teenwoordig is of nie, saam met ons eet of nie, sal nie aan haar houding ’n verskil maak nie. En solank jy ’n gas in my huis is, sal ons jou as sodanig behandel. Albie moet op Hanna steun, nie op jou nie.”

      “Sodat ek gouer kan vertrek?”

      Dieter sug en vryf ’n moeë hand deur sy hare, sodat hulle soos ’n skoolseun s’n vooroor op sy voorkop val. “Ons het al hierdie dinge reeds bespreek. Ek sien nie die nodigheid om weer in ’n argument gewikkel te raak nie. Is jou huisvesting bevredigend?”

      “Dankie, ja,” antwoord Rothea net so formeel.

      “Nog koffie?”

      “Ek het nog, dankie.”

      Rothea het gedink om die laaste slukkie te neem en dan ook kamer toe te gaan. Maar Dieter keer toe sy haar koppie op die silwer waentjie terugplaas en aarselend in die middel van die vertrek bly staan.

      “Ons moet oor Albie praat. Kan jy swem?”

      “Kan ek ... swem?” Die vraag was uit die bloute en Rothea is bang sy het verkeerd gehoor.

      Dieter maak ’n ergerlike gebaar. “Swem. Hier is ’n swembad wat diep genoeg is dat ’n kleuter daarin kan verdrink. Kan jy jouself goed genoeg help om Albie met veiligheid in die water toe te laat?”

      “Ek dink so.”

      “Dink is nie goed genoeg nie. Kan jy of kan jy nie?”

      “Ek kan swem. Redelik goed. En ek het ’n boek in die biblioteek uitgeneem oor hoe om babas en klein kindertjies aan water gewoond te maak.”

      “Het jy die boek saamgebring?”

      “Nee. Maar ek het dit gelees voor ek dit weer ingehandig het.” Rothea is vies vir haarself omdat sy teenoor Dieter altyd verskonend en op die verdediging is. Maar hy is anders as Carl, by wie sy kan ontspan en op haar gemak wees. “En ek het navraag gedoen na moeder-en-kindklasse ...”

      “By die munisipale swembad op Upington?” Dieter se gesigsuitdrukking is sardonies. “Gelukkig is jy dié darem nou gespaar,” spot hy. “Ek het ’n veiligheidsheining om die swembad laat aanbring en bevele gelaat dat die twee hekkies ten alle tye op knip moet wees. Sien asseblief toe dat Albie nie met die knippe peuter nie en wanneer hy swem, sorg dat dit onder toesig is. Is dit duidelik?”

      Rothea knik gedienstig, dankbaar oor die moeite wat hy gedoen het om vir Albie se veiligheid te sorg.

      “Soos jy moontlik opgelet het, is die tuin teen ’n skuins helling uitgelê, met gebruik van steil kliptrappe, terrasse en paadjies wat na die tennisbaan en stalle lei. Dit mag gevaarlik wees. Hou Albie weg van die trappe, waar hy kan val. Verstaan jy?”

      “Ja.”

      “Die stalle is verbode vir hom, so ook die eendedam en die krale waar die karakoelramme is. Reg?”

      Rothea stem met al die veiligheidsmaatreëls saam, maar nie met sy outokratiese behandeling van haar, asof sy ook ’n kind is wat nie vir haarself kan dink nie.

      “Ek het Albie ses maande lank opgepas en hy het niks oorgekom nie,” antwoord sy koelweg.

      “Ek wil hê daar moet geen misverstand wees sodat jy later kan sê jy het nie geweet nie. ’n Plaaswerf hou meer gevare in as ’n eenkamerwoonstel. Het jy alles begryp wat ek uitgewys het?”

      “Ja.” Ja, baas; nee, baas; drie sakke vol, baas! dink sy opstandig. Wie dink hy is hy? En sý? Kamma ’n gas in sy huis, maar dis nie hoe hy haar behandel nie ...

      “Gaaf. Dan kan daar geen verwyte later wees nie. Goeienag.” Dieter glimlag vlugtig toe hy deur toe stap en dit hoflik vir Rothea oophou. “Slaap gerus.”

      Die СКАЧАТЬ