Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 8 - Ettie Bierman страница 16

Название: Ettie Bierman Keur 8

Автор: Ettie Bierman

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624056768

isbn:

СКАЧАТЬ studeerkamer stap en die deur agter hom toemaak. Rustig slaap? dink sy ironies. Terwyl hy terselfdertyd met daardie skewe glimlag gewaarborg het dat sy ’n slaaplose nag sal hê ...

      Carl is gawer, vertel sy haarself terwyl sy met die trap opklim kamer toe. Vriendeliker en nie so ’n boelie soos sy ouer broer nie. Carl het haar Delila genoem, terwyl Dieter haar behandel soos iets wat die hond op ’n vullishoop gevind het. Sy moenie toelaat dat Dieter vir haar belangrik word nie, want hy vind haar vaal, so maer soos ’n telefoonpaal en moederlik. Buitendien het hy ’n nooi met die naam Ilse.

      Dit moet dieselfde Ilse wees, mymer sy. Ilse Bauer, die pragtige, verfynde en sensitiewe meisie wat soos ’n eie dogter in die huis is. Ilse, wat deur Ernst in die steek gelaat is ’n maand voor hul troue ... Soek sy nou by ’n ander broer troos?

      Rothea word met ’n kloppende hoofpyn wakker en met Albie wat energiek op en af op haar bed spring. Onder sy een arm het hy ’n jong bulterriër, nie ouer as agt weke nie, te oordeel na die vet lyfie en ronde magie. Onder die ander arm is die groot, rooi bal wat Rothea gisteraand voor sy bed sien lê het.

      “Uitpeul. Babyte. Pietal!” jaag hy Rothea aan.

      “Stadig, my skatjie,” kalmeer sy hom. “Wat sê jy?”

      Soveel opwinding wag dat Albie skaars tyd het om alles mooi duidelik te herhaal. Ná ’n lang ruk eers vind Rothea uit hy wil uit, buite speel met Piet, wat wil hardloop. Piet is die Staffordshire-terriër, wat meer wil doen as net speel en hardloop.

      Piet wil kou ook, met ’n bulterriër se manie om sy kake oefening te gee. Rothea klim uit die bed, trek ’n seilbroek en T-hemp aan en volg Albie buitentoe.

      “Het jy al geëet?” wil sy weet.

      Hy het, drie keer al, maar Rothea kan nie uitvind wat nie. Tanna was egter by. Tanna, kom Rothea agter, is kortpad vir tannie Hanna. En solank ontbyt onder Hanna se toesig was, is sy tevrede dat Albie wel iets geëet het wat hom tot middagete sal hou.

      Albie wil alles gelyk sien – die ander honde, katte, swembad, eende en skape, saam met die hoenders. Dan wil hy swem.

      Gedagtig aan Dieter se reëls en regulasies, is Rothea versigtig waar sy Albie toelaat. Sy probeer die moets en moenies onthou en die plekke vermy wat vir ’n geesdriftige kleuter gevaar mag inhou.

      “Piet swem!” soebat Albie toe sy hom ongemerk van die stalle wegkeer, terug na die gelykte van die tuin en grasperke naby die huis.

      Rothea neem haar swemkostuum en handdoeke, die hond, die bal en Albie. Toe knip sy die swembadhekkie oop en voel met haar voet die watertemperatuur.

      “Ek word seker oud, Albie, maar as jy en Piet dit wil waag ...”

      Albie is nie vir koue water bang nie. Piet ook nie. Rothea benadruk watter die vlak kant is en leer Albie hoe om aan die opblaasmatras vas te hou. Sy sorg dat sy naby hom op die wal sit, op haar handdoek en in haar swemklere. Om Albie se ontwil en ook om die arme babaterriër te red as dinge te wild gaan.

      “Dag,” groet ’n onvriendelike damestem.

      Rothea het gehoop dis ontbyt. Vir Carl Richter sou dit mooi gewees het, en waarskynlik vir Dieter ook, maar Rothea het nie ’n besondere waardering vir blondines in posbusrooi bikini’s nie, veral nie op haar nugter maag tienuur die oggend nie.

      “Goeiemôre,” antwoord sy. “Soek u een van die Richters?”

      Die meisie kyk haar op en af. “Nee. Ek weet Dieter is Mariental toe,” lig sy Rothea koelweg in.

      Ilse Bauer? wonder Rothea, wetend haar raaiskoot is reg. ’n Ander meisie sal haar nie so sonder uitnodiging tuismaak nie.

      Ilse sprei ’n wit handdoek op die gras oop, skop haar goue spykerhaksandale uit en bind haar lang hare met ’n serp op haar kop vas. Sy is skynbaar nie van plan om te swem nie, want sy soek ’n donkerbril en strek haar dan op haar handdoek uit. Ook maar goed, want met al daardie armbande en goue kettings om haar nek sou sy soos die Titanic gesink het, dink Rothea.

      Sy kry skaam oor haar kleingeestigheid. “Ek glo nie ons het al ontmoet nie ...” huiwer sy onseker, terwyl sy haar swart eenstukkostuum ’n pluk gee en haar hare netjies vee.

      “Ek weet jy is Beukes.” Die meisie se opmerking en houding moedig nie nadere kennismaking aan nie.

      “Kyk, Mamma, kyk!” skree Albie en spring van die wal op die trap, asof dit ’n groot prestasie is.

      “Kyk!” Hy klouter uit en herhaal sy vertoning met ’n groot geplas.

      Die blondine lig haar donkerbril om afkeurend te kyk waar die lawaai vandaan kom. “Kan jy hom stil hou? Ek het hoofpyn.”

      “Albie!” roep Rothea, warm in die gesig. Van ergernis of verleentheid weet sy self nie. “Kom speel by Mamma!”

      “Albie spling!” herhaal hy.

      “Ja, ek sien. Albie spring ver. Maar jy gaan moeg word. Kom sit hier by Mamma, dan vertel ek jou ’n storie.”

      “Sneeuwitjie!”

      “Sjuut ... Nie so hard nie. Die tannie wil slaap,” maan Rothea en laat hom naby haar op die handdoek sit. “Daar was eendag ’n dogtertjie, net bietjie groter as jy, wat by haar stiefma gebly het ...”

      Lank voor Rothea en ’n ademlose Albie by die huisie in die bos kom, is hul teësinnige luisteraar heel duidelik geïrriteerd.

      “Kom ons twee ouens speel liewer met jou mooi rooi bal,” stel Rothea voor. “Maar moenie skree en raas nie, hoor! Die tannie se kop is seer.”

      “Salfies smeer?” bied Albie besorg aan en draf op kort, vet beentjies nader.

      “Nee!” Rothea is net betyds om hom by die bottel sonbrandolie te keer, voor hy die inhoud op Ilse se kop omkeer. “Kom ons speel vang-vang ... Saggies, hoor!”

      Rothea is besig om die bal vir Albie en Piet te gooi, toe dieselfde meisie in die swart rok wat gisteraand aan tafel bedien het, ’n skinkbord op die tafel onder die grassambreel neersit.

      “Frühstück – ontbyt, Fräulein,” kondig sy skaam aan en wys na die koffie, broodrolle en verskillende konfytsoorte en vars vrugte op die skinkbord.

      Ilse Bauer wag tot Klara heel bo met die kliptrap is op pad terug kombuis toe, toe gebied sy vanuit die hoogte: “Ek sal ook koffie geniet. Bring asseblief vir my ’n koppie en ’n ekstra pot koffie. Warm melk, nie koud nie.”

      Rothea knik en staan op. As toekomstige vrou van die huis het Ilse seker die reg om haar rond te stuur ...

      “Was ist los, Fräulein? Wat makeer?” vra Klara bekommerd toe Rothea die kombuis instap.

      “Bitte. Asseblief,” stel Rothea haar gerus. “Würdest du uns bitte noch eine kaffee bringen? Sal jy asseblief vir ons nog koffie bring?”

      Die Duitse meisie straal omdat die kuiergas uit Upington hulle taal kan praat en haas haar om die vars pot koffie gereed te kry.

      Rothea moes vir die ketel wag om te kook en vir warm melk. Toe sy uiteindelik met die skinkbord aan die onderpunt van die trappe aankom, is haar eie ontbyt koud en sit Carl uitgestrek СКАЧАТЬ