Onse Vaders. Karin Brynard
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onse Vaders - Karin Brynard страница 5

Название: Onse Vaders

Автор: Karin Brynard

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798158312

isbn:

СКАЧАТЬ pynlik kontak maak met die nekstut van Mabusela se sitplek. “Haai, man!” skree hy voor hy kan keer.

      Die twee manne lag vir hom met hoë stemme. Spulse hingste, uitgetrip op die adrenalien-high.

      Voor hulle lê ’n donkiekar oor die pad uitgesaai, sy as gebreek. Die een wiel lê in die middel van die pad. Mthethwa gee twee kort trompetters met sy sirene, lê op sy toeter. Dan skiet hy verby die waentjie en Ghaap se lyf ruk weer agtertoe, teen die sitplek vas. Hy voel die naarheid in hom opstoot, nie seker of dit vrees, adrenalien of die dag se baie Coke is nie. Kan hom ook g’n moer skeel nie. Hy wil huis toe. Vir hierdie kak sien hy wragtag nie meer kans nie.

      “Whaoe!” roep Mabusela skielik uit en die kar kom met skreeuende bande tot stilstand. Ghaap sien die rooi oog van die verkeerslig vorentoe in die pad – en ’n swart blerts met antennas agter op sy dak wat oor hulle gesigsveld heen skeer. “Die trackers!” roep Mabusela weer. “Volg!”

      Mthethwa swaai links en sit sy voet hard neer op die petrolpedaal. Ghaap knyp sy oë toe, maar hulle vlieg weer oop toe Mthethwa skerp swenk vir ’n vaal gedaante. “Jissus, S’bu,” skree hy vir die man agter die stuur, “hoe weet jy dis nie ’n kind nie!” Al antwoord wat hy kry, is die waansinnige lig wat in Mthethwa se oë in die truspieëltjie dans.

      Sy selfoon kry dit reg om bo die geraas uit te lui. In sy hempsak. Onder die koeëlvas. G’n fok gaan hy nou antwoord nie. “Jou phone lui, sersant!” skree die man agter die stuur. “Dis djou mamie!” Groot grap. Ghaap kyk weg, maar kort-kort vang hy Mthethwa se koggel-oë in die truspieëltjie.

      Here, hy’s gatvol vir hierdie spul. Hy het eenvoudig nie die knaters om hier te oorleef nie. Beeslaar het hom gewaarsku.

      Fok hom ook!

      Die kar skuur skielik tot stilstand. Ghaap laat nie op hom wag nie en gooi sy deur oop. Hy moet in godsnaam net hier uit.

      Dan ruk die deur uit sy hande uit en hy voel hoe iets hom teen hoë spoed tref.

      Dis ’n mens!

      Ghaap skree en probeer terugtrek in die kar in, maar sy bene word vasgeklem. Hy voel hoe sy boude hul vashou op die gladde sitplek verloor. Hy spartel, probeer die figuur van hom wegskop, sien ’n pistool in die gewoel van arms en bene. Te laat. Dit tref hom teen die kaak. Hy proe dadelik bloed en slaan blindweg met sy vuiste, tref die man in die ribbes, hoor die uitroep van pyn. Die figuur val weg van hom, maar Ghaap gryp met albei hande en kry die man aan sy klere beet. Alles gebeur so vinnig, hy’t nie kans vir dink nie.

      Hy klou met elke sening en spier in sy lyf, wonder waar die pistool is. Dan kry hy sy antwoord: ’n skerp pyn wat teen sy voorkop oopbars en sy liggaam agtertoe ruk. Vir ’n sekonde word dit swart voor hom. En toe hy bykom, sien hy twee figure in die raam van die oop motordeur. Daar’s ’n koorsige gewoel van ledemate.

      Dan klap daar ’n skoot en alles raak stil...

      Hoofstuk 3

      3

      Trula Momberg beduie hom hoe om te ry.

      Sy sit agter in die kar, hou Rea du Toit se hand vas.

      Beeslaar trap die petrol, tik net liggies rem by die ritse vierrigtingstoppe op pad na die moordtoneel. Hulle hou oos, reken hy. Die rotsknoets van die Stellenboschberg heeltyd regs van hulle.

      Die pad vurk. Trula beduie, hou links aan.

      Jonkershoeklaan, vang Beeslaar skrams die naam. Hulle ry oor ’n geniepsige klomp spoedwalle, nóg stoppe. Dan moet hy regs. Hulle ry nou reg oos. Nog berge doem op, twee loodgrys rotspieke verrys verder weg, staan trillend in die middaghitte. Regs, word hy beveel, reguit oor verskeie dwarsstrate tot die pad in ’n T doodloop. “Net hier om die hoek.” Hy maak so. Sien dadelik die koeksel voertuie – polisiebakkies, ’n ambulans. Kleiner sedans met tollende blou ligte. “Dis die groot witte,” bedoelende die groot dubbelverdieping regs voor.

      Beeslaar sien nie ’n straatnaam nie. Hy ry tot by ’n uniform, draai sy ruit af.

      “Ek het ’n familielid by my,” sê hy en beduie agtertoe. “Sy’s bejaard. Ek laai net af, dan ry ek weer.”

      Die man knik en Beeslaar druk die kar se neus versigtig tussen die voertuie in. Dis ’n miernes, asof elke poliesman in die provinsie hier is. Blerrie agies. Hy byt op sy tande vir die ergernis wat opstoot: vir die los hand in bevel van die toneel.

      Maar hy steek sy ergernis in sy sak. Dis nie sý saak nie. Hy laai net af, dan skoert hy.

      Terug noorde toe. Kalahari toe, waar sy binneste deesdae tuisgaan.

      ’n Ambulans se harde sirene reg agter hom ruk hom uit sy mymerings. Hy klim uit. Wil die doos se fluit vir hom gaan aftrap. Maar hy sluk sy moer.

      Intussen het sy twee passasiers ook uitgeklim. “Kom saam,” vra Rea du Toit, haar oë vol skrik. Sy’t steeds die handsakkie oor haar arm.

      “Trula sal saam met jou gaan, mevrou Du Toit. Ek moet my voertuig skuif.”

      Sy skud haar kop.

      Hy kreun innerlik. Maar hy stap tóg saam.

      “Oumaaaa! Help my!”

      Dis ’n kind, sien Beeslaar. Sit in ’n vensterbank op die tweede verdieping. Bloedbesmeer. Sy gooi haar bene na buite, asof sy wil uitklim. Maar verloor haar greep, hang vir ’n oomblik aan een arm.

      “O my God. Ellie!” Rea du Toit het doodsangs in haar stem toe sy begin hardloop. Sy laat die handsak val, dan is sy uit die bruin kerkskoene, hobbel op haar sykouse.

      Beeslaar skiet vorentoe, stamp verstarde figure uit sy pad. Die kind skop vir vastrapplek teen die muur, maar haar voete bly gly. Lang blonde hare oor haar gesig, haar hand wat greep verloor op die vensterbank. “Ouma!” Sy val, Beeslaar nét nie heeltemal daar nie. Sy glip deur sy arms. Hy val ook, breek haar landing met sy lyf.

      Om hom hoor hy die paniek, voel hande wat die kind by hom wil vat. Hy voel vinnig oor haar lyf. Alles heel. Maar daar’s bloed. Vars.

      Haar oë is oop. Sy staar na hom, begriploos.

      “Gee hier!” ’n Middeljarige man druk deur die bondel en kom kniel by die kind, raap haar uit Beeslaar se arms uit. Daar’s bloed aan hóm ook. “Ellie!” Hy druk haar teen hom vas. “Dis als reg, pop, als reg, als reg. Als reg. Alles. Pappa is nou hier. Alles.”

      Die man staan op met die kind in sy arms. ’n Swart ambulansman steek sy arms uit na haar. “Fok weg!” word hy deur die man toegesnou.

      “Malan!” Rea du Toit is ook nou by. Sy het nog haar handskoene aan en vee die meisie se hare uit haar gesig. Skrik ’n oomblik vir die bloed wat afsmeer.

      “Ma, ek vat haar hospitaal toe. Jy moet vir boeta gaan help daar binne, in my kantoor. Ellie gaan oukei wees.”

      Daarmee draai hy weg na ’n swart Range Rover in die breë oprit na die huis.

      Die kragtige enjin brul verwoed. Die man druk die kar se stert hardhandig agtertoe, maak sy eie pad deur die koeksel rubbernekke.

      Beeslaar gaan trek sy eie kar uit die pad, beduie vir die ambulans agter hom om dieselfde te doen. Sodra die pad СКАЧАТЬ