Onse Vaders. Karin Brynard
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onse Vaders - Karin Brynard страница 3

Название: Onse Vaders

Автор: Karin Brynard

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798158312

isbn:

СКАЧАТЬ nie ’n grappie nie, hoor? Ons mag nie troeteldiere aanhou nie. So, ou Jan van Riebeeck was ’n belangrike besoeker. Ons matrone het hom probeer belet, maar hy’s ’n dier, verstaan net twee goed: kos en liefde.

      “En hy kom elke dag, want hy kry soveel liefde daar by ons. En nou’s hy net weg. Sommer skielik. En dis nie al nie.” Sy kyk met groot oë op na hom.

      “Daar gebéúr goed. Vorige week is die sielsalige ou dominee Potgieter ook uit sy kaktus getiep.”

      Beeslaar hoes vinnig in sy vuis.

      “Dis Antoinette se oorlede man,” vertel sy, wys met haar ken in die rigting van ’n aantreklike vroeg-sewentigs vrou. “Albei bitter lief vir tuinmaak. Maar toe vat die kanker hom. Sy’t hom alleen versôre daar in hulle woonstel. Tot hy in haar arms gesterf het. Die kinders wil toe die as in die berge loop gooi, maar Antoinette wou hom nie laat gaan nie. Toe vat sy die as... enne... e... sy’t die as in die bodem van ’n groot plantbak begrawe. Wat sy toe met kaktusse beplant. ’n Aalwyn, plakkies, woestynrosies en bokpootjies. Hy was so lief daarvoor... Maar iemand het gekom en die bak omgeskop. Tien teen een die dief wat op dieselfde dag by ou Arnold Sebens ingebreek het. Netjies sy versameling goue Krugerrande gevat. En net toe raak Jan van Riebeeck ook soek... ”

      Beeslaar hou sy hand op.

      “Tannie Rea, wag eers. Laat ek eers iets vra. Het julle die diefstal en die vandalisme aangegee?”

      “Ou Arnold het, maar daar’t niks van gekom nie. Hy’t net gister nog... ”

      ’n Selfoon lui al vir ’n goeie paar sekondes in haar handsak. Beeslaar beduie vir haar en sy knip die blinkleersakkie oor haar arm oop.

      “Hallo!” basuin sy oor die teedrinkers uit. “Wie praat?” Sy hou op luister en skud die foon, asof daar ’n los skroefie binne-in sit. Dan hou sy die foon na Beeslaar uit. “Vat jy, ou seun. Kyk of jy iets kan uitmaak.”

      Beeslaar neem oorbluf die foon by haar en druk dit teen sy oor: “Kaptein Beeslaar hier, kan ek help?”

      Stilte. Dan: “Is u van die polisie? Sy... e... weet reeds?”

      “Ekskuus?”

      “My ma. U het haar... my vrou se d-dood... ?”

      Beeslaar se nekhare rys. Hy ken dié soort stem. “Meneer, u moeder en ek is by ’n vriend se begrafnis. Sy het haar foon vir my aangegee, sy kon nie mooi hoor nie. Wat is dit wat sy moet weet? Moet ek vir haar aangee?”

      “Iets verskrikliks het met ons gebeur. My vrou... my ma... my vrou... ” Die lyn breek op.

      “Hallo?!” Beeslaar stap eenkant toe om onder die gesnater van die begrafnisgangers uit te kom.

      “Dis my vrou, Elmana. Sy is ver-... e... vermoor. Pas. Hier tuis.”

      Aan die man se stem kan hy hoor daar kom nóg.

      “Inbrekers... ”

      “Is die polisie daar? En is u veilig?”

      “Wat?” Dit klink of hy tyd nodig het om Beeslaar se vrae te verreken.

      “Die polisie. Het u die polisie laat kom?”

      “Ja, natuurlik! Maar ons dogter. Ellie. Sy sit nog vas... in die huis... Sy’t haarself toegesluit. Ek kan nie by haar kom... My ma moet asseblief kom help. Kan jy dalk die matrone opspoor en... help om die nuus... ”

      “Natuurlik. Ek doen wat ek kan. Waar is u?”

      “Tuis... hier. Hier... ”

      “U woon op Stellenbosch.”

      “Ons seun is oukei. Dis net... my vrou. En ons meisiekind.” Die lyn gaan dood.

      Vir ’n oomblik staar Beeslaar na die wit kerk langsaan. Registreer die slag van die uur uit die toring – halfvyf. Dit dawer deur sy kop, ruk hom terug na die hede.

      Rea du Toit staan nog nes hy haar gelos het, die handsakkie oop oor haar dun, vellerige arm, haar gesig vraend op hom gerig. Dis eers toe hy by haar is dat hy die bewing in haar gewaar, haar neusvleuels wat wit trek. Sy het dus reeds geraai, besef hy, en steek sy arms na haar uit.

      Die dood, dominee, kners dit in Beeslaar se brein. Dís hoe hy lyk. G’n niks van blydskap en jubeling nie.

      Hoofstuk 2

      2

      Ghaap draf ligvoets langs die soom van ’n lae duin. Hy stop vir ’n oomblik en skep ’n hand vol van die rooi, droë sand, gooi dit versigtig ’n ent voor hom uit. Sy oë volg die vae pluim van die fynstof. Hy knik tevrede. Hy’s nog goed onder die wind.

      Om hom strek die blonde savannaveld oneindig ver. Dit word hier en daar onderbreek deur ’n rooi sandduin, die donkergroen hekelwerk van ’n haak-en-steek, ’n kameeldoring se sambreel.

      In die rooi sand soek hy ’n spoor. ’n Bloedspoor. Dié van ’n gekweste dier.

      ’n Gemsbok.

      Daar is wrewel in sersant Johannes Ghaap se hart.

      Hy het só berekend aangelê. Dooierus. Die dertig-nul-ses in die mik van ’n jong soetdoring. Tweehonderd meter, het hy die afstand geskat. Windop. Naby genoeg. Dit moes die perfekte skoot gewees het. Die dier was duidelik, sy volle profiel sigbaar. Die swart-wit masker, kragtige nek. Die reusebrug van skof en bors na ’n stert só vorstelik, hy trek ’n sleepspoor in die sand. En horings. Meer as ’n meter lank, twee dodelike assegaaie bo die abstrakte verfwerk van sy gesig.

      Ghaap kon op sy gemak korrel, beplan. Die wind was daar, maar nie só dat dit sou pla nie. ’n Netjiese skoot agter die blad. In die ou grote se enjinkas. Effense speling toegelaat vir die val van die lood.

      Hy het aangelê, die Musgrave-kolf koel en glad teen sy wang, die K98 Mauser-aksieslot oorgehaal. Gelaai met net die beste: drie 180-greinpunte. Patrone wat hy self gelaai het – in Norma-doppe. Gevul met ordentlike slaankrag: Sonchem se S365-poeier agter die peperduur Nosler Partition-punte. Punte wat nie gaan splinter teen die been en senings in so ’n reus van ’n bok se blad nie. Die Rolls-Royce van patroonpunte. Hy’t dit spesiaal gespaar...

      Hy moet aanstryk. Die son begin rooioog gooi.

      Maar hiérdie dag, weet hy, maak nie klaar nie. Nié voor daar bloed op die sand is nie. Dit sal óf hy wees, flenters gekerf deur die ram se lang lemme, óf dit sal die prins van die woestyn wees.

      Hy loop lig, hy wat Ghaap is.

      Soos sy voormense. Nét die nodige. Sy velskoene gedra hulle goed in die los, droë sand en sluit stewig oor sy enkel sonder om sand of gras of duwwels in te laat. ’n Kort kakiebroek, aan sy gordel ’n mes en ’n bottel water. Vir die res is dit hy, sy geweer en hierdie koningsbok.

      Dis ’n kwessie van eer. Van die ou manne se respekte.

      Sy naakte bolyf is taai gebrei teen die siedende son. Sy hart versterk deur die bloed van ’n spierwit hoenderhaan wat vroe’môre oor sy kop leeggeloop het. Uit die polsende hart van die dier. Die reuk sit steeds in sy neus en die smaak lê in die taai speekselskiwwe СКАЧАТЬ