Onse Vaders. Karin Brynard
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onse Vaders - Karin Brynard страница 25

Название: Onse Vaders

Автор: Karin Brynard

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798158312

isbn:

СКАЧАТЬ lei sy hulle binne, langs ’n tuinpaadjie af waaroor laventelbosse inleun, hulle reuk afsmeer aan mense wat verbystap. Die huis is oud, ’n Karoostyl-plaashuis met stoepe voor en langs die kant af. Sy stap vinnig vir so ’n klein vroutjie, sodat die voël op haar skouer sy sit moet ken. Beeslaar rek sy treë langer, met Mynhardt en die blaffende wors wat die agterhoede dek.

      Verby die voordeur is daar ’n groot portaal vol Afrika-kunswerke. Prente en maskers en bokhorings. En houtrakke waarop witgebleikte dierskedels uitgestal word – krokodil, ’n groot mannetjiesbobbejaan, die fyn porseleinkoppie van ’n muis. By die agterdeur uit is daar ’n leiklippaadjie tot by ’n kothuis, wat lyk of dit uit ’n ou skildery kom. Moes vroeër ’n ou werkershuisie gewees het, reken Beeslaar. Maar dis netjies gerestoureer, met ’n bloedrooi perdestal-voordeur en ’n vrolike geel seilafdakkie teen die reën. ’n Windharp klingel aan een van die afdak se maste. Sal moet waai, besluit Beeslaar voor hy koes om deur die lae kosyn van die voordeur te gaan.

      Binne is daar ’n klein sitvertrek met ’n televisie,’n kuierkombuis met ’n antieke tafel en stoele, glimmende geelhoutkaste teen die mure.

      “Een gezellige keuken. Pardon, kombuis!” verklaar sy triomfantlik en die papegaai jodel iets agterna. Beeslaar se ma het so ’n voël gehad. Hy kon sweer sy ma was liewer daarvoor as vir hulle. Kon ure met die ding praat. Wat teruggepraat het soos ’n mens sonder tong.

      Die slaapkamer kyk uit op een van die mooiste natuurtonele wat Beeslaar seker nóg gesien het. Ruwe, grou rotstorings wat teen die diepblou hemel opseil en ’n wasige vallei omvou. Tjoklitboks, dink Beeslaar. Eintlik álles hier in hierdie dorp. Fraai, sou sy ma gesê het. Met nét ’n titsel neerbuigendheid in haar stem.

      “En?” Sy kyk op na hom, asof sy na ’n reusefrats staar – tegelyk gefassineerd en opgewonde. “Potverdomme, méns! Wat bent jy een boerepaard!” Sy lag gelukkig en vertel vir Mynhardt dat “geen hond” sy pote op haar werf sal sit met Beeslaar daar nie.

      “Maar ook geen hond... nie,” onthou sy dan die dubbele ontkenning agterna.

      Hulle stap terug. “Is jy doenig by die moordondersoek?” vra sy en druk die voordeursleutel in sy hand.

      “Nee. Ek... e... ek bly net tot Sondag.”

      “O, ek dag... Jy sou tog die familie adviseer, of zo? Wat ’n tragedie, hè? Grote gode.” Die papegaai praat agterna: groute goude.

      Beeslaar skud sy kop.

      Mynhardt kry vir die eerste keer sy stem terug: “Dis verskriklik. Koerante sê dis dalk dieselfde ou wat vroeër die Matie-student vermoor het. Onthou jy, Maaike?”

      Sy knik, en die papegaai boots haar na. “Vreselijk!” sê hulle al twee.

      “En die polisie op hierdie dorp is useless. Met alle respek,” sê hy en loer versigtig op na Beeslaar. “Ek bedoel niks teen jóú nie. Of my skoonpa nie. Maar hier gebeur verskriklike goed op hierdie dorp. Nou anderdag weer. ’n Ou wat ek gekén het. Pa van twee kinders wat moet leer. Ek het baie met hom te doene gekry by die stadsraad. Ou Shane Williams van Pniel. Hulle keer hom aan vir dronkbestuur, maar hy word die nag in die polisieselle vermoor. Nee, o heng.”

      Beeslaar krimp innerlik. Heng... Wanneer laas het hy daardie spesifieke suutjiespoep-woordjie gehoor?

      Dan lui sy selfoon, red hom van ’n onbehoorlike uitlating.

      Hoofstuk 19

      19

      Dis warm. Die wit Hoëveldson skitter op die teer. Die verkeer staan.

      Gerda vee sweet af. Die middagete was ’n vrolike affêre, met al die vroue ewe broeis oor die klein meisietjie wat kom. Sy het Baz gebel. Sommer vir net. Omdat sy goed voel. Wou hom vertel van haar dag. Maar Baz was nie ontvanklik vir babbel nie. Hy’t haar met ’n “I’m busy, babes,” kortgeknip.

      Die skaduwee van die oggend was weer terug.

      Dis seker maar hoe dit sal wees. Vir die res van haar lewe. Op die oppervlak gee jy voor jy’s ook ’n normale mens. Met kinders en ’n huis en ’n werk, saans 7de Laan, Riaan Cruywagen. Maar net onder die oppervlak lyk dit anders. Soos die storie van die eend: lyk so kalm soos hy oor die water gly. Maar onder roei hy dat dit bars.

      Roei om te oorleef. Teen wil en dank. Bo bly. Soms wil sy net toegee. Oorgee. Om op te hou roei. Die reddingstoue af te skud, te versink in die koel skemerte van die rus.

      Ander dae, weer, moet sy baklei. Voel dit of die lang tentakels van ’n honger monster uit die onderwêreld haar wil gryp. Die Swart Seekat, het sy dit begin noem. Wat haar wil straf. Op dae dat sy durf vergeet.

      Vandag is seker maar so ’n dag, waarop die ou seemonster weer doenig is.

      Dis Baz, meer as Pa, weet sy. Hy is anders, die laaste tyd. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Asof daar ’n ratwisseling by hom is. Hy’s meer gespanne, blafferig. Sê die ekonomie is entrepreneur-onvriendelik. Hy’s so ’n lewendige mens, mal oor kook en kos en mense. En risiko. “Business, babes, should be one long adrenalin rush.” Sy vermoed hy verwys na meer as net die kosbesigheid. Hy’s slim, ’n geniale blackjack-speler, wat die meeste casino’s se bank kan breek. “Ons gaan groot,” spot hy altyd as sy kriewelrig raak.

      Dis juis sy lewendigheid wat haar so aantrek. Sy lewenslus, die elektriese veld om hom – van praat en lag en speel. Hy maak jou outomaties vrolik as jy in sy omgewing is. En met daardie oë, dié van ’n speelse klein hondjie.

      En dan is daar die ander man in haar lewe: Pa. Sy weet hoe hy gaan lyk as sy nou by die huis kom. Soos ’n zombie. Sit en staar voor hom uit, sy regterhand wat onbedaarlik bewe, sy mond hol en droog. Weg vir die wêreld. Hy kon netsowel dood gewees het. Soos Ma. Soos... soos alles wat nog altyd vir haar kosbaar was.

      Sy voel die trane in haar keel opstoot, maar sy sluk dit weg. Daai dinge is nou klaar. Dis verby. Sy het nuut begin. Sy doen dit vir hulle. En vir hulle boetie. En die nuwe sussie.

      ’n Nuwe toekoms. Veiligheid. ’n Man wat nié drink nie. Wat uitsien na die ongebore kind, al is dit iemand anders...

      Sy skud haar kop. Nee, besluit sy en haal diep asem. Ons gaan beslis nie dáár nie. Sy kyk in die truspieëltjie na haar seun wat agter haar in sy karstoeltjie sit.

      Kleinpiet is vandag g’n huppelkindjie nie. Hy maak sulke lang, ongelukkige aaaaaa’s wat klink of hulle enige oomblik in ’n huiltjie kan oorslaan. Hy voel tien teen een haar “gevoelentheid” aan, soos die oumense gesê het. Die beendere wat roer, die swart seekat se een oog wat loer.

      Sy sit die radio aan en harde popmusiek vul skielik die kar. Kleinpiet skrik, begin huil. Sy sit af.

      “O, gallies!” roep sy oor haar skouer. “Die bobbejaantjie sing verkeerd! Stoute bobbejaan.” Sy hou aan babbel oor die mal bobbejaan. “Kyk daar, Pietman, dáááár’s hy! In die boompie!” Sy druk ’n kinderplaat in die CD-gleuf – altyd haar laaste uitweg tussen die dagmoeder en die huis.

      “Kyk daar, Pieda, kyk!” Sy wys na die smouse met hul bont negosieware wat doodsveragtend tussen die ongeduldige karre deurbeweeg. “Kyk’ie ooms, Pietie, kyk hoe lekker lag hulle. Waai vir die ooms! Ta-ta! Waai vir die ooms!” Hy lig ’n tentatiewe handjie, sy onderlippie nat en onseker. Maar dan’s die “ooms” verby en begin hy weer met die kla-huiltjie.

      Gerda se vinger СКАЧАТЬ