Onse Vaders. Karin Brynard
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onse Vaders - Karin Brynard страница 23

Название: Onse Vaders

Автор: Karin Brynard

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780798158312

isbn:

СКАЧАТЬ sien? Hy’t gesê hy’s besig met die laaste. Toe bestel ek maar ’n Coke en hy vra of ek my medaljes wil polish, want dis die enigste ding wat Coke voor goed is. ‘Gee vir die meisie ’n glas sauvignon,’ bestel hy sommer. ‘Nié van die pêrepis uit ’n varkblaas wat jy die toeriste voer nie. Iets ordentliks.’ Dis toe moeilik, want ek drink nie juis nie. Hier in die Wes-Kaap... Dis ’n pes hier.”

      Dit raak warm in die kar. Beeslaar kyk op sy horlosie. Al tienuur.

      Quebeka maak nie aanstaltes nie.

      “Ek dink dis oor die saak waarmee ek besig was. Ou Prammie is gefast-track, jy weet? Geen ervaring nie, maar oornag van platvoet tot kolonel.”

      “Poot,” help Beeslaar. “Platpóót tot kolonel!”

      “En dié oubaas. Hy’t die kyk gehad. Jy kan sien hy’t al groot manne weggesit. Maar ek vertel jou nou goed... ag, jy weet dit self.”

      Toe hy steeds nie reageer nie, sug sy en skakel die bakkie aan. In die terugry maak sy ’n oproep. Beeslaar lei af dis werk toe. Sy vra of Malan du Toit se finansiële state al in is. “Staan vas,” eindig sy die gesprek.

      By Beeslaar se gastehuis stop sy.

      “Nou ja, kaptein Koebeka.” Hy klim uit, leun terug in die oop venster in. “Sterkte.”

      “Laat weet as jy aanbly vir die asstrooiery,” sê sy. “Jy hét my nommer. Drink ons saam ’n dop of iets.” Sy glimlag, ’n wit sekel wat haar gesig ophelder, haar oë met duiweltjies laat dans.

      Dan skiet sy weg.

      Die foon tril in sy hempsak.

      “Ja!”

      “En goeiemôre vir jou ook, kaptein Baas Beeslaar! En ja, ek is besig om in my malle moer in te verdwaal. En ja, ek sien nog steeds geen teken van my kar nie. En nee, ek bel nie vir jou hulp nie!”

      “Jissie, ou Ghaap. Ek was besig, jong.”

      “Ek loop in ’n pad wat na nêrens toe gaan nie. Ek sien nie ’n straatnaam nie en ek dink nie die mense hier rond verstaan my Engels nie. Ek is nou al presies in alle windrigtings ingestuur!”

      “Wat sien jy?”

      “Ek sien fokkol. Dis wat ek sien! Karwrakke en vullis en dooie donkies. En tienduisend teksies... ”

      “Vang een van die taxi’s. Hulle sal jou vat. Of minstens kan sê waar jy is! So nie hou jy net aan met loop. As jy nêrens afgedraai het nie, is jy nog in Canada Road. En jy moet mynhope weerskante van jou sien en die treinspoor moet op jou regterkant wees.”

      “Oukei?”

      “So dan’s jy nog reg. Maar klim in ’n taxi. Dis nog goedkoop ook.”

      “Ek wás al in een. Saam met vyftien mense en ’n dik mama op my skoot! Dis ’n death trap, man!”

      “Ghaap, moenie al die nonsies glo wat hulle vir jou by die huis vertel nie! Maar... loop maar net aan. Die pad gaan kruis met die Soweto Highway. En Noordgesig se polisie is baie naby. Hulle sal jou help!”

      Ghaap mompel iets suurs en dan gaan die lyn dood.

      Net om onmiddellik weer te lui.

      “Albertus?” Sagte vrouestem. “Tertia hier. Ek en Mynhardt is by my pa se plekkie by die ouetehuis. Ons ruim op. Ek het gedink... as jy nog hier is, en daar’s iets van hom wat jy graag sou wou hê... Jy weet?”

      Hy gaan haal sy kar uit die veiligheidsparkering van die gastehuis. Hy’t voor sy brekfis met Quebeka uitgeboek, sy tas in die kar gesit, nog vas van plan om te ry. Die nuwe baadjie het hy uitgehou. Hy moet gou probeer omruil voor hy ry.

      Mevrou Adendorf, die matrone van Huis Groot Gewels, kom ontmoet vir Beeslaar by die tehuis se veiligheidshek.

      “A! Kaptein Beeslaar,” groet sy. Daar is min warmte in haar stem. Sy’s ’n groot vrou, lank op haar voete, ’n breë skof en skerp oë wat jou binne die eerste sekondes omdop en in ’n kassie pak. Beeslaar hoort kennelik in die onderste laai, afdeling: oorskiet. Hy wonder hoe oom Blikkies met so ’n ou draak oor die weg gekom het.

      “Mevrou Du Toit is nie nou hier nie,” sê sy. “Sy sê vir my jy gaan haar familie bystaan?” Sy kyk takserend na hom.

      “Ek is eintlik op soek na kolonel Van Blerk se dogter.”

      “O.” Afkeurende verbasing. “Nou maar kom deur,” sê sy en die elektriese traliedeur gons oop.

      Sy lei Beeslaar deur ’n tuin, met ’n kort tuinpaadjie langs, verby die groot ingangsportaal – mét fontein – na ’n losstaande eenheid om die hoek. Haar blyplek en kantoor, verduidelik sy. Sy is formeel geklee in ’n donkerblou romp en baadjie, ’n bruin hemp met ’n speld by die kraag. Haar dun, grys hare is gekrul en stokstyf gespuit. Ook nie meer vandag se kind nie, reken Beeslaar.

      Tertia staan op toe Beeslaar die kantoor binnekom en kom soen hom op sy wang. Hy moet laag buk om die soen te ontvang, want sy is klein. Mynhardt, die gade, is nie veel langer as sy nie. Maar hy maak op met ’n stewige handdruk.

      “Ons is amper klaar hier,” verduidelik Tertia. “Admin en so. Van my pa se woonstel. As jy nie omgee nie, kan jy solank opgaan.” Sy hou ’n sleutel na hom toe uit. “Ons is oor ’n minuut daar.”

      Die matrone se blik is dié van ’n aasvoël wat ’n sappige happie aan ’n hiëna moet afstaan. Omgekrap, maar durf niks doen nie.

      Hy stap terug deur die tuin en op met ’n trap na die tweede vloer. Blikkies was aanvanklik halsstarrig om in hierdie plek te wees. “Sy’t my by ’n bleddie ouetehuis ingeboek, Jaap.” Blikkies se naam vir hom. Kom van hulle vroeë tyd saam. Toe Beeslaar onder sy toesig ingedeel is. Hy’t nooit gebodder om die blougatte se name te leer ken nie. Vir hom was hulle almal japsnoete. En in Beeslaar se geval het dit uiteindelik Jaap geword.

      Maar hy was versigtig, oom Blikkies. Hy sou nie nee sê nie. Want hy moes baie opmaak. Skuld betaal. Die skade van afwesig wees. Veral in Tertia se tienerjare – toe ou Blikkies eenvoudig nie die nuwe, opstandige terroris kon hanteer wat in die lyf van sy een en enigste dogter rondgeloop het nie. En toe’s daar nog die egskeiding ook. Hy kon dít ook nie hanteer nie.

      Tertia het vir jare nie met hom gepraat nie.

      Ná skool is sy na ’n kollege toe. Haarkapster geword by ’n salon iewers in die stad. Geen kontak met haar pa gehad nie. Ou Blikkies het niks gewys nie. Maar Beeslaar het geweet. Dit knaag.

      Die vroeë pakket het ook nie gehelp nie. Hy’s min of meer uit die mag uit gedwing, om plek te maak vir ’n regstellende-aksie-aanstelling. Dít het hom behoorlik laat wakker skrik: Dat hy sy gesin verkwansel het vir niks. Sy lojaliteit van ’n leeftyd in sy gesig teruggesmyt – met ’n seer middelmatige tjek. Die ou man was bitter, maar toe gaan soek hy na Tertia.

      Beeslaar vind die woonstel maklik en sluit die deur oop. Vir ’n oomblik huiwer hy. Hierdie is mos nie die soort van ding wat ’n man alleen doen nie.

      Hy gaan nie in nie. Kan nie. Dis of daar ’n onsigbare muur in die deur van Nommer 208, B v Blerk ingemessel is.

      Hy СКАЧАТЬ