Rebecca. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rebecca - Wilna Adriaanse страница 6

Название: Rebecca

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624058250

isbn:

СКАЧАТЬ syne.

      “Het jy iets op die hart, of kan ek maar ’n paar vrae vra?” val hy saaklik met die deur in die huis toe sy sit.

      Rebecca beduie met haar hande dat hy kan voortgaan.

      “Waar het jy gehoor ek soek iemand?”

      Sy byt haar onderlip vas. Dis die een vraag wat sy nie nou gaan beantwoord nie. “Ek sal verkies om nie te sê nie.”

      Sy oë vernou en sy wonder effens angstig of hy haar nou gaan vra om te loop.

      “Het jy ’n idee wat die werk behels?” verras hy haar.

      Sy skud haar kop. “Nee, seker nie een honderd persent nie, maar ek vermoed daar sal nie van my verwag word om kernsplitsing te doen nie.”

      “En die res kan jy alles hanteer?”

      Rebecca kyk hom vas in die oë. “Nie noodwendig nie, maar ek is seker die res sal ek alles kan leer doen.”

      “Waarom hier en waarom nou?” kom sy volgende vraag.

      “Ek is lus vir ’n uitdaging en ek sal eerder iets met verskillende fasette doen as om dag vir dag dieselfde taak oor en oor te doen. Waarom nou? Want ek wil geld maak.”

      “Jy weet nie eens wat die salaris behels nie.” Sy blik rus niksseggend op haar en sy wonder of hy kan poker speel.

      “Nee, maar ek weet waarvoor ek bereid is om te werk en dit behoort in my behoeftes te voorsien.”

      “En waarvoor, as ek mag vra, is jy bereid om te werk?”

      Toe sy die bedrag noem, bly sy uitdrukking onveranderd en sy is effe teleurgesteld. Dit beteken hy het sy emosies goed onder beheer.

      “Ek het nie geweet dis my pos waarin jy belangstel nie.”

      Rebecca se reguit blik huiwer ook nie. “Ek het nie geweet jou pos is beskikbaar nie.”

      “Juffrou Fagan,” ignoreer hy haar opmerking, “wat laat jou dink enigiemand sal jou so ’n salaris aanbied? Mense met jare se ondervinding kry nie eens soveel nie.”

      “Dis wat ek vir jou werd gaan wees.” Sy bedink haarself egter blitsvinnig. “Nee, dis nie waar nie. Jy sal my waarde nie werklik kan koop nie, maar dit is waarvoor ek bereid is om my dienste en kennis aan te bied.”

      “Ek is versigtig om te vra watse dienste jy alles vir daardie bedrag aanbied.”

      “Ek het daardie eerste dag vir jou gesê ek sal in al jou behoeftes voorsien, nie noodwendig persoonlik nie, maar ek sal reël dat jy alles kry wat jy moet hê.”

      “Alles?”

      Sy is trots op haarself dat sy steeds nie ’n oog knip nie. “Daar is ’n verskil tussen wat jy móét hê en wat jy wíl hê.”

      Net vir ’n oomblik lê daar iets soos geamuseerdheid in sy oë en Rebecca kyk smagtend na die koppie op sy lessenaar. Sy wonder of sy vir ’n koppie koffie kan vra.

      “Hoe het jy onder in die parkeergarage gekom?”

      “Ek het ingestap toe daar ’n motor uitgery het. Die veiligheidsbeamptes was besig om tee te drink en hulle het nie opgekyk nie.”

      “Ek kon jou laat arresteer het vir betreding.”

      “Maar jy het nie.”

      “Waarom wil jy geld maak?”

      “Ek wil vir my ’n blyplek koop.”

      “Waar woon jy op die oomblik?”

      “Ek huur ’n kamer.”

      “Het jy jou CV saamgebring?”

      Rebecca hou ’n groot wit koevert na hom toe uit en hy trek ’n enkele vel papier daaruit.

      ’n Ligte frons lê tussen sy wenkbroue terwyl hy lees.

      “Dis nie ’n baie volledige CV nie.”

      “Dis alles wat jy behoort te weet.”

      Hy skud sy kop. “Ék sal besluit wat ek behoort te weet.”

      Rebecca sug hoorbaar en die frons tussen sy wenkbroue verdiep.

      “Doktor Hoffman, jy is ’n besige man en ek gaan nie jou tyd mors nie, maar ek wil ook nie myne mors nie. My akademiese rekords is beskikbaar as jy daarna wil kyk. Ek kan al die plekke waar ek sedert my skooldae gewerk het, kontak en vra hulle moet vir jou verwysings stuur waarin hulle verklaar dat ek ’n goeie werknemer was en nie gesteel het nie, maar ek en jy weet dis ’n mors van tyd. Hulle kan enige iets op daardie stuk papier skryf. Mense soos jy behoort deur die jare genoeg mensekennis op te doen om te weet wanneer hulle iemand kan vertrou en wanneer nie. Jou voorgeslagte en jy het nie hierdie maatskappy gestig en uitgebou sonder om soms kanse te waag nie. Om my aan te stel is maar net nog ’n kans.”

      “Daar is ’n groot verskil tussen berekende en onberekende kanse.”

      “Waarom het jy my dan vandag laat kom?” Rebecca weet nie waar haar ergerlikheid vandaan kom nie. Dis ’n emosie waarmee sy baie spaarsamig omgaan.

      “Jy het my Saterdag in ’n goeie bui gevang en ek het toevallig vanoggend ’n halfuur beskikbaar gehad.”

      Sy kyk op haar horlosie en staan op. “Jy is ’n gelukkige man. Ek het nie vanoggend ’n halfuur gehad om te mors nie.”

      “Hoe het jy geweet ek gaan Saterdag by die gholftoernooi wees?”

      Rebecca trek haar skouers op. “Dis verbasend hoe nuuswaardig jou doen en late blykbaar is.”

      “Juffrou Fagan,” keer sy stem haar toe sy by die deur is. “Het jy vir een oomblik gedink jy kan van die straat af in so ’n pos instap?” Vir die eerste keer slaan daar iets soos verbasing in sy stem deur.

      “Ek weet ek kan die werk doen en ek was onder die indruk jy is ’n dapper man,” laat sy oor haar skouer hoor.

      Sy mond gaan oop, maar sy het reeds die deur agter haar toegetrek.

      Buite die deur haal sy een keer diep asem. Dis die probleem met dobbel. Daar is altyd ’n kans om te verloor. Sy stap met ’n regop rug die gang af. Op hierdie oomblik is sy jammer sy het so vroeg opgestaan én dat sy nog nie eens ’n koppie koffie gedrink het nie. Hy kon haar baie moeite bespaar het as hy haar die eerste dag sommer net uitgegooi het.

      Drie mans in donker pakke en aktetasse kom by haar verby en sy groet afgetrokke. Hulle groet terug en sy sien hoe een oor sy skouer terugkyk. Miskien moet sy vra of hulle nie vir haar werk het nie, dink sy grimmig. Of miskien moet sy sommer net vra of hulle nie vir haar ’n koppie koffie het nie!

      “Jy begin jou dag op ’n interessante noot.” Alec Barnard glimlag veelbetekenend vir Julian waar hy agter sy lessenaar staan.

      “Waarvan praat jy?” Julian kyk vraend op.

      “Ek praat СКАЧАТЬ