Schalkie van Wyk Keur 6. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk страница 26

Название: Schalkie van Wyk Keur 6

Автор: Schalkie van Wyk

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050247

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Friedrich! Friedrich, herken jy my nie?” roep ’n helder vrouestem en hy hoor ’n motordeur vinnig oop- en toegaan.

      Hy draai stadig om en sien Alexandra Myburgh in ’n fleurige, groen strandrok na hom toe aangestap kom. Sy het nie verander nie, besef hy. Die son verf haar hare koperrooi en weerkaats warmte in haar kastaiingbruin oë. Sy is lank, maar die vol rondinge van haar figuur beklemtoon haar vroulikheid en laat haar korter lyk. Sy bly voor hom staan en lag op in sy gesig.

      “Gaan jy nie ’n ou vriendin groet nie, jou lieflike mansmens?” vra sy. Sy wag nie op sy reaksie nie, maar plaas haar arms om sy nek, staan op haar tone en soen hom vol op die lippe.

      “Hallo, Alexandra,” groet hy en vererg hom vir die skorheid van sy stem. Hy skraap sy keel en sê formeel: “Ek het verneem van jou man se dood. Ek is jammer.”

      Sy los hom en haal haar skouers onverskillig op. “Ek maak nie ’n moordkuil van my hart nie, daarom sal ek teenoor jou erken: ek is nie spyt of bly oor my man se dood nie. Ek het hom nooit liefgehad nie, maar ek was goed vir hom, omdat hy my soos ’n koningin behandel het. Ek glo ek het daarin geslaag om hom gelukkig te maak.”

      “Ek begryp,” sê hy bruusk en vermy haar oë.

      Sy lê haar hand op sy arm. “Jy het my liefgehad, Friedrich,” sê sy gedemp.

      Hy kyk haar skerp aan. “Ek het dit nooit gesê nie.”

      “Nee, maar ’n vrou weet. Wat jy nie besef het nie, is dat ek jou liefgehad het, maar jy … jy was ’n arm student. Ek het te veel in my jeug ontbeer om met ’n arm man te trou.”

      “Dan erken jy dat jy ter wille van geld getrou het?”

      “Waarom sal ek dit ontken? Onthou jy waar ek vandaan kom? Ek was een van die nege Combrinckies wat in ’n tweeslaapkamerhuisie anderkant die spoor grootgeword het. As my pa nugter was, het hy op die vissersbote uitgegaan en net genoeg geld verdien om weer dronk te word. Weet jy hoe dit voel om van aalmoese te lewe?” vra sy met ’n bitterheid wat nie by haar jeugdige voorkoms pas nie.

      “Ons was saam op skool. Het ek jou ooit anders as die ryk kinders behandel?” vra hy ingehoue.

      “Nee, maar …” Sy soek sy oë. “Ek was jonk toe ek besef het hoe mans na my kyk. Ek het geweet ek is mooi en begeerlik en elke maal as ek ’n vreemdeling se verbleikte rok moes dra, het ek gesweer dat ek eendag met ’n ryk man sou trou, sodat ander mense mý ou klere sou dra.”

      “Dan moet ek jou seker gelukwens, want ek verneem jy is ’n skatryk weduwee,” sê hy sinies.

      “Kan jy my verwyt?” vra sy gekrenk. “Ek het jou liefgehad, maar ek het ter wille van ons met Herman Myburgh getrou. Ek was bewus van sy swak hart. Ek het hom nie dood gewens nie, maar ek kon altyd droom oor die dag wanneer ek vry sou wees om met jou te trou, Friedrich.”

      “Vry en ryk.” Hy lag humorloos en skud sy kop. “Ek kan nie anders as om ’n onwillige bewondering vir jou te hê nie, Alexandra, maar ek het my redes gehad waarom ek jou nie gevra het om my bruid te word nie.”

      “Jy was ’n sentlose student wat deur die Falkensteins onderhou is,” sê sy vinnig.

      “Dis waar, maar …”

      “Dit lê alles in die verlede, Friedrich. Jy is ’n suksesvolle ginekoloog en eienaar van Blumenstrauss. Moontlik is ek ryker as jy, maar al het jy nie ’n sent gehad nie, sou ek nogtans bereid gewees het om met jou te trou.”

      Die uitdrukking op sy gesig verhard. “Jy het my nie die geleentheid gegee om klaar te praat nie, Alexandra. Dit was nie my armoede wat verhoed het dat ek met jou getrou het nie. Ek het ’n ander rede gehad … maar dis nie meer van belang nie.”

      “Ek is bly, want dan was my opoffering nie tevergeefs nie. Weet jy hoe eensaam kan ’n mens wees as jy voortdurend moet toneelspeel? Ek het na jou omhelsings en liefkosings gesmag, maar ek moes …”

      “Dis genoeg, Alexandra,” val hy haar stroef in die rede. “Jou opoffering was die moeite werd, want Son en See is jou beloning. En Dieter se liefde. Wie weet, moontlik is jy binnekort nog ryker wanneer jy met die kroonprins van Kaiserburg trou.”

      “Liewe land, Friedrich, jy is tog nie jaloers op Dieter nie? Hy amuseer my, maar jy is die man wat ek liefhet,” sê sy onthuts.

      Hy laat sy blik stadig oor haar loop, soek met ’n gevoel van ongekende leegheid na die liefde wat hy eenmaal vir haar gehad het, maar vind dit nie. Klein Grietjie glo aan onsterflike liefde, onthou hy en draai sy kop weg. Gretha … Gretha … pols haar naam met elke klop van sy hart deur sy binneste. Wat het Gretha wat Alexandra nooit gehad het nie? vra hy homself verward. Onskuld? Of dalk net die kinderlike geloof aan die onverganklikheid van die liefde? Gretha sal nooit ter wille van geld met ’n man trou nie.

      “Het jy gehoor wat ek gesê het, Friedrich?” vra Alexandra gespanne langs hom. “Ek het jou al die jare liefgehad.”

      “Ek het gehoor,” sê hy sonder om na haar te kyk, “maar ek is nie meer ’n student nie. Alexandra. Jy was getroud en jy ken die ou waarheid: tyd heel alles, selfs ’n gebroke hart.

      “Het jy my nie meer lief nie?” vra sy verbysterd.

      Hy kyk met ’n sweem van ’n glimlag na haar. “Destyds het ek geglo ek het jou lief, maar volwassenheid het my ’n beter perspektief gegee. Jy het verander; ek ook. Wat daar ook al tussen ons was, behoort tot die verlede.”

      Sy ruk haar kop gekrenk op. “Ek is jammer ek het my tyd gemors, hooghartige dokter Falkenstein. Moenie ’n uitnodiging na Kaiserburg toe verwag wanneer ek en Dieter eers getroud is nie,” smaal sy, draai om en stap weg na haar motor.

      Hy kyk nie om toe hy haar motor hoor vertrek nie. Die beeld van ’n blonde meisie met blitsende, groen oë verrys voor sy geestesoog. Gretha sal nooit kan toneelspeel nie; nooit haar ware gevoelens kan verberg nie. Hy sal kan lief wees vir ’n meisie soos Gretha, want sy loop ’n reguit pad.

      Hanna bedek haar gesig met haar hande toe Meraai vir die tweede maal binne twee dae by die agterdeur in stoomroller en hygend op die naaste kombuisstoel neersak.

      “Sjoe, sjoe, sjoe! Wat ’n beproewing der beproewinge! Die mense sê ek is vet, Hanna, maar ek sê vandag vir jou: dis my kruis wat ek moet dra. Ek loop en my vet loop saam … Ek dra my poegaai aan my berge vet,” kla Meraai en waai haar met haar fyn kantsakdoekie koud.

      “Jy dra jouself en jou vet na ’n vroeë graf toe, Meraai Spannenberg!” raas Hanna, reeds besig om vir Meraai ’n glas koeldrank te skink. “Wat besiel jou om so in die warm son rond te drentel, Meraai? Jy kon mos gebel het as jou nuus nie kon wag nie.”

      Meraai drink die glas koeldrank en plak die leë glas voor Hanna neer. “Nog!” beveel sy uitasem.

      “Koel eers af, Meraai. Toe, vertel vir my watter ramp het die inwoners van Kaiserburg nou weer getref?” vra Hanna nuuskierig.

      “Ramp? Wie het van ’n ramp gepraat?” Meraai leun terug op die krakende kombuisstoel en glimlag salig. “Dis die allerwonderlikste nuus, Hanna. Reken, die fraai Grethatjie en dokter Ferdi Steenkamp het verloof geraak. Toe, wat sê jy nou, vrou?”

      “Verduiwels!” bulder Friedrich uit die gangdeur, sy oë glimmende kole in sy СКАЧАТЬ