Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 18

Название: Spoor

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157469

isbn:

СКАЧАТЬ Meeluistering, M. Strachan. Daven Court no. 14, Davenportstraat, Vredehoek

      Datum en tyd: 7 Oktober. 23:32

      MS: Christo was mooi. Jy weet hoe dit is, op daardie ouderdom, as ’n mooi ou met selfvertroue jou kom uitsoek, tussen al die ander, en jou vriendinne “oe” en “aa”. Ek het selfbeeld-issues gehad, ek was net so … verlig dat hy in my belang gestel het. So … dankbaar … Hy was so … Dit het gelyk of hy so wêreldwys was, so gemaklik met homself. Ek weet nie of ek ooit op hom verlief was nie. Miskien lieg ek vir myself … Ek was dronk dié aand. Dit was Karnaval. Almal was dronk. Dis nie ’n verskoning nie, ek sou seker die een of ander tyd saam met hom geslaap het. Ek was reg daarvoor, ek wou hom hê, ek wou wéét hoe dit voel …

      * * *

      (13 September 2009. Sondag.)

      Milla kom eers ná tien uit haar dronkslaap. Brokstukke van die vorige aand lê in haar kop. Jessica se sensuele, drankbenewelde stem.

      We are all rejects.

      You’re the runaway housewife.

      You’ve slept with one man?

      Never lived dangerously?

      Here, het sy deelgeneem aan dié gesprek?

      Sy het. En meer. Sy het haar storie vertel, laataand, die volle waarheid, in dronkverdriet, en Jessica het haar hand vasgehou en saam gehuil. Dit alles kom nou terug en die skaamte daal in vlae op Milla neer.

      En dan die kommer: Hoe het sy by die huis gekom? Sy kan nie onthou nie.

      Sodat sy opspring en by die venster uitkyk en haar Renault Clio daar buite sien staan, die verligting klein, want die hoofpyn is skielik kloppend. Sy klim terug in die bed, trek haar kop toe. Sy het in haar dronkenskap huis toe gery, sy kon ’n ongeluk … Sy kon toegesluit gewees het, hoe sou Christo dit nie geniet het nie, hoe kan sy so iets aan haar seun doen. “Is dit jou dronk ma wat in die koerant was? Die een wat weggeloop het?”

      Sy kan nie sulke dinge doen nie.

      Sy lê en verwyt haarself, tot sy daarvoor vlug, versigtig opstaan en haar kamerjas en pantoffels aantrek, kombuis toe slof en die koffiemasjien aan die gang kry.

      En dan dink sy, sy het ’n bietjie geleef, gisteraand. Sy het ’n stukkie van alles wat verlore is, teruggekry.

      * * *

      Transkripsie: Meeluistering, telefoongesprek – J.N. Shabangu (a.k.a “Inkunzi”) en A. Hendricks.

      Datum en tyd: 13 September 2009. 20:32

      S: I have a message for Inkabi.

      H: What is the message?

      S: The export deal …

      H: Yes.

      S: The guy who wants to buy the goods, you know? He is in Cape Town. He is an Inkosi …

      H: I don’t understand “Inkosi”.

      S: Inkosi is a big man. A chief. You know … of a … company. How can I say? We are in the same business, this buyer and I … But his business is in Cape Town …

      H: O.K.

      S: We have heard that his name is Tweety the Bird.

      H. Tweety the Bird.

      S: That is what we have heard. So we think you can help to find him.

      H: O.K.

      S: And we think the goods are going to travel at the end of the month. Any time from the 24th.

      H: Do you know more about the transport and the route?

      S: We think it will be by truck, but the route is not sure. That is why you must find this Tweety the Bird. He will know the route. You must make him tell us.

      H: O.K.

      S: I will give you a number. The number will change next Sunday, and then I will call you again.

      H: What is the number?

      14

      (14 September 2009. Maandag.)

      Om 06:46, terwyl Quinn ontbyt eet saam met sy vrou en twee tienerseuns in hul huis in Nansenstraat, Claremont, kry hy die SMS. Hy kyk vlugtig na die skerm van sy selfoon, verskoon homself van die kombuistafel, stap na die slaapkamer en skakel Masilo.

      “Osman is op die lughawe, op pad Walvisbaai toe,” sê hy as Masilo antwoord.

      “Hoe laat vertrek die vlug?”

      “Seker binne die volgende uur.”

      “Dan sal ons moet wikkel.”

      “Ons het net een operateur in Namibië. In Windhoek. Ek gaan hom nou bel en hoor hoe vinnig hy in Walvisbaai kan wees.”

      “Dankie, Quinn … Walvisbaai? Wat wil Osman in Walvisbaai gaan doen?”

      * * *

      “Hoekom Walvisbaai?” vra Janina Mentz om die ronde tafel in haar kantoor. Dis 08:41.

      “Invoerhawe. Vir die wapens,” sê Tau Masilo.

      “Dis spekulasie.”

      Masilo het voorberei. “Occam se wet sê die eenvoudigste verklaring is gewoonlik die regte een, mevrou. Ná die Ismail Mohammed-debakel sal die Supreme Committee allermins aandag op die Kaap wil vestig, hulle is nou versigtiger as ooit. Hulle weet dit gaan moeilik wees om die wapens hier aan wal te bring, en as dit skeefloop, is die fokus dadelik op hulle. Gee hulle die krediet: Walvisbaai is slim. Laer sekuriteit, goedkoper omkoopgeld, goeie vervoerverbindings deur die TransKalahari-korridor na Gauteng toe. En as ’n fout insluip, is daar min bewys van hulle betrokkenheid.”

      Mentz oorweeg die standpunt, en knik. “Kan wees. Wat doen ons?”

      “Osman se vlug is via Windhoek, waar hy moet oorklim. Ons het een operateur daar. Hy is reeds per motor op pad Walvisbaai toe, en hy behoort ’n uur voor Osman in Walvisbaai te wees.”

      “Hoe laat kom Osman daar aan?”

      “Eenuur vanmiddag.”

      “Hoe goed is ons man in Namibië?”

      “Sy naam is Reinhard Rohn. Dertig jaar se ervaring. ’n Ou jakkals. Sy verslae is altyd deeglik. Stiptelik.”

      “Waar kom ons aan dié mense?” Maar dan frons Mentz. “As ons iemand aan die binnekant gehad het, Tau, kon ons nou drie van ons beste spanne daar gehad het om vir Osman in te wag.”

      Masilo knik net, min lus vir dié argument. Dan verander hy die onderwerp: “Ons weet wie Johnson Chitepo se besending diamante gaan koop.”

      Dit neem Mentz ’n oomblik om die sprong СКАЧАТЬ