Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 13

Название: Spoor

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157469

isbn:

СКАЧАТЬ tweede hoofspeler is Sayyid Khalid bin Alawi Macki. Hy was die een wat destyds vir Chitepo gehelp het met die diamantafset, hy was die een wat die Kongo-diamante in kontant omskep het, wat die geld gewas het en na Mugabe-hulle se Switserse bankrekenings gestuur het. Maar toe sy kanale toegeknyp word, het die groot vriend-skap tussen hom en Chitepo versuur. Voor ek verder gaan: Daar’s ’n klompie dinge wat ons in gedagte moet hou as dit by Macki kom. Een: Sy kernbedrywigheid is geldwassery, en hy is diensbaar vir die hele Afrika. Ons weet hy doen dit vir die seerowers in Somalië, vir die bedrog- en dwelmnetwerke in Nigerië en vir die motordiefstal-sindikate in Mosambiek. Twee: Die internasionele ekonomiese krisis het hom baie sleg getref. Hy het reusebeleggings in Doebai verloor, sy omset is in die algemeen met meer as sestig persent af, hy wurg op die oomblik. Drie: Hy is ’n militante Moslem van Oman, tans die nuwe en grootste groeigebied vir Al-Kaïda. En vier: Macki het ’n baie sagte plekkie vir Al-Kaïda. Sy welvaart, sy rykdom en sy ondersteuning het hom groot aansien in daardie kringe gegee. Aansien wat hy baie graag nou wil herwin.”

      Quinn gee vir Mentz kans om dit alles in te neem.

      “Die hoofintrige van ons drama is Chitepo se begeerte om die diamante te verkoop, en Macki se siening dat die klippies eintlik aan hom behoort, of dat hy dan minstens ’n vyftig-persent-aandeel daarin het, volgens die oorspronklike ooreenkoms. Macki het op die een of ander manier van Chitepo se planne gehoor, en hy is vas van plan om die besending te onderskep. Die sogenaamde ‘shipment’. Sy probleem is, hy het nie meer vriende in Zimbabwe nie, hy sit daar bo in Oman. So, wat kan hy doen? Sy enigste uitweg is om te praat met sy kontakte wat die naaste aan die aksie is – sy Moslem-broers.”

      “Die Supreme Committee,” sê Janina Mentz.

      “Hier in die mooiste Kaap,” sê Masilo.

      “Presies,” sê Quinn. “Dit is hoekom Macki die eerste byspeler op die verhoog gebel het. Suleiman Dolly, die voorsitter van die Supreme Committee.”

      “Die oproep wat ons mol Ismail Mohammed gehoor het.”

      “Dis reg. Macki weet Dolly en die Supreme Committee het fondse dringend nodig, vir die projek waarmee hulle besig is.”

      “Die plaaslike projek, wat volgens Ismail Mohammed die insmokkel van wapens is.”

      “En nou, vir die verskyning van ons tweede byspeler, Julius ‘Inkunzi’ Shabangu. My vermoede is, Macki het vir Shabangu aanbeveel. Onthou, Macki is ’n geldwasser. En deur die Mosambiekse motor-sindikate sou hy minstens bewus gewees het van Shabangu, maar het bes moontlik al direk of indirek sake met hom gedoen …”

      “Ons weet ook,” sê Tau Masilo, “Inkunzi Shabangu het ’n klompie Zimbabwiërs wat vir hom werk in Gauteng. Motorkapers.”

      “Presies,” beaam Quinn. “En volgens die dossiere van die Skerpioene word hy ook daarvan verdink dat hy vals paspoorte aan Zimmers en Nigeriërs verskaf. So hy sal goeie kontakte in Harare hê … In elk geval, toe Macki met Suleiman Dolly praat, het hy tien teen een vir Inkunzi aanbeveel as ’n moontlike vennoot in die hele skema. En toe stuur Dolly een van sy Supreme Committee-lede om met Inkunzi te gaan beraadslaag. Osman, in die gastehuis in Johannesburg. Inkunzi sal graag vir Macki wil gelukkig hou, maar hy is bowenal ’n sakeman. Hy sal ’n persentasie van enige transaksie vat. Osman se voorstel van samewerking was vir hom absoluut aanvaarbaar.”

      “Mmm,” sê Janina Mentz.

      “Inkunzi en sy eienaardige nuwe vennoot, die Supreme Committee, wil Chitepo se besending diamante onderskep,” sê Tau Masilo.

      “Die ‘shipment’,” sê Quinn.

      “En Inkunzi moet uitvind watter roete dit gaan volg. Watter Suid-Afrikaners betrokke is.”

      Die twee mans kyk na haar. Sy skuif haar bril en staan op.

      “Ek dink dit sal ’n baie interessante verslag kan oplewer,” sê Tau Masilo. “Vir die president.”

      Mentz talm. Die twee mans wag in spanning.

      “Julle maak een kardinale fout,” sê Mentz. “Met julle rolverdeling. Die verslag sal totaal misluk as julle vir Chitepo en Macki as hoofspelers aanbied.”

      Masilo is vlug van begrip. “Vir ons doeleindes word die hoofrol vertolk deur die Supreme Committee en hul wapentransaksie.”

      10

      (7 September 2009. Maandag.)

      Milla in haar swart rok en stewels, met die kort blou denimbaadjie. Sy voel gemaklik, asof sy besig is om ’n styl te ontwikkel, die werkende vrou, aangepas by die informaliteit van die Report Squad. Sy sit agter haar rekenaar, om kwart voor nege, besig om haar eerste News This Week te lees, die brokkies uit Limpopo en Mpumalanga. Daar is ’n afwagting in die kantoor. Oom Theunie, een van die twee bleskoppe, het gesê daar kom iets groots, want Bigfoot het vir Moeder ingeroep, ’n besliste voorteken.

      Oom Theunie met sy byname. “Moeder” is mev. Killian. “Bigfoot” verwys na Rajkumar, die gesette Indiër, vir wie hy ook “A.S.” noem, ’n afkorting vir “Abominable Snowman”, of “The Incredible Bulk”, of soms net “The Bulk”.

      Vir Milla noem hy “Carmen”, vir Jessica “Freia” (of “The Goddess” as hy in die derde persoon na haar verwys), vir Don MacFarland, die ander omie in die span, “Mac” of “Mac the Wife”.

      “Hoekom ‘Mac the Wife’?” het sy gevra.

      Toe antwoord Don haar self. “Because I’m gay, my dear.”

      Om kwart oor nege kom mev. Killian haastig in, roep hulle byeen met ’n klompie dun lêers in die hand.

      “The Bulk has spoken,” sê oom Theunie.

      “Theunie, jy gaan die executive summary skryf, the rest of you will be doing addendums. Sy gee vir Milla ’n lêer aan. “Jou onderwerp is Johnson Chitepo. Kyk wat hierin is, kyk of jy enigiets meer onlangs op die internet kan kry, en laat Theunie vir jou verduidelik hoe die formaat werk. Jess, you will be doing Sayyid Khalid bin Alawi Macki …”

      “Who?”

      “It’s all in here, but it’s badly dated. Interesting man. Don, I’m giving you the important stuff.”

      “Of course you are.”

      “Qibla, the Supreme Committee, Al-Qaeda, and a brand new subject – a Mister Julius Nhlakanipho Shabangu, a.k.a ‘The Bull’.”

      “Because he has such a big horn?”

      Sy lag nie. “It’s big and it’s urgent. Let’s get going.”

      * * *

      Op haar rusbank, met die dag se adrenalien wat nog deur haar bruis, die genoegdoening van die kameraderie en die leerkurwe en kollegiale kwinkslae nog vars in haar gedagtes, besluit sy impulsief om haar seun te bel.

      “Hallo?” sê hy, tiener-agterdogtig vir ’n nommer wat hy nie ken nie.

      “Barend, dis ek.”

      “Ma?” Verstomming.

      “Ek wou net jou stem hoor.”

СКАЧАТЬ