Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 19

Название: Spoor

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157469

isbn:

СКАЧАТЬ met die nuus. Die nuutste byspeler is klaarblyklik ene meneer Willem “Tweetybird” de la Cruz, bendeleier van die Kaapse Vlakte.”

      “Jy’s nie ernstig nie.”

      * * *

      “Kom, Mac, ons het werk,” sê mev. Killian net ná tienuur en rol haar stoel tot langs Milla se lessenaar. Sy wag dat MacFarland sy stoel nader ry voor sy gaan sit en die dik lêers op die blad neerlê.

      “Milla, dis jou eerste grote, en ons moet iets reg hê teen môreoggend,” sê sy. “Maar moenie jou bekommer nie, Mac sal jou vangnet wees …”

      Mev. Killian gee die eerste lêer vir Milla aan.

      “Misdaadbendes op die Kaapse Vlakte. Hier is baie materiaal, die uitdaging is om dit alles te reduseer tot drie of vier bladsye. Een oor die agtergrond, maar fokus op die laaste dekade, die res is eintlik irrelevant. Een oor die huidige stand van sake, weer net die breë trekke, ’n kort oorsig. Onthou, ons wil vir topbestuur ingelig hê, maar ons wil nie hulle tyd mors nie. En dan een bladsy oor ’n spesifieke sindikaat: Die Restless Ravens. Nie meer as ’n paragraaf of twee oor hulle geskiedenis nie, hou die fokus op hoe hulle nou lyk, waarmee hulle besig is. Which brings me to you, Mac. You will be looking at a mister Willem de la Cruz, also known as ‘Tweetybird’ or ‘Willy’ …”

      “My, my …”

      “Not now, Mac. De la Cruz is the leader of the Restless Ravens, he’s the one that most concerns us …”

      “As well he should. You know what they say, a tweetybird in the hand is worth …”

      “Mac!”

      “Come on, Mother. Tweetybird. The Ravens, Willy … Freudian, to say the least …”

      * * *

      Om vyf-en-twintig oor twaalf steek Quinn sy kop by Masilo se kantoor in. “Reinhard Rohn, ons man in Namibië, het nou net gebel. Hy staan in die aankomssaal van Walvisbaai se lughawe en wag vir Osman.”

      “Hy weet hy moet baie diskreet wees.”

      “Hy weet.”

      “Hoe gaan hy Osman uitken?”

      “Ek het drie foto’s na sy selfoon gestuur.”

      Masilo is tevrede. “Hou my op hoogte.”

      “Ek sal …” Quinn huiwer. “Advokaat, dié ding met Tweetybird de la Cruz …”

      “Ja?”

      “As die Supreme Committee … Hierdie hele ding kan ’n oorlog op die Kaapse Vlakte veroorsaak. As Suleiman Dolly in Pagad se ore begin fluister …”

      “Ek dink nie Dolly sal só dom wees nie. Hy wil die diamante hê, en as hy kwaad stook, soek die smokkelaars dalk ander kopers.”

      Quinn skud sy kop. “Ek hoop jy’s reg.”

      * * *

      Veertien kilometer oos van Walvisbaai – en net twee kilometer van die grens van die Namib-Naukluft Nasionale Park – lê die Walvisbaai-lughawe, ’n spikkel-oase in die plat en eindelose uitgestrektheid van die Namib-woestyn.

      Die moderne lughawegebou met sy grys staaldak en salmkleurige mure staan tussen palmbome en klein stukkies groen grasperk. Vir Reinhard Rohn, operateur van die Presidensiële Intelligensie-agentskap, is die grootste voor- en nadeel die feit dat die gebou relatief klein en die lughawe redelik stil is. Vertrek- en aankomssale is langs mekaar en maklik om dop te hou. Maar vir iemand wat diskreet wil wees, is daar min skuiling.

      Rohn is ’n 51-jarige veteraan. Daarom staan hy eers by die vensters wat uitkyk na die aanloopbaan en maak seker hy eien Osman wanneer hy van die vliegtuig afstap, op pad na die gebou toe. Rohn memoriseer die gesig, die kleur van die snyerspak (ligbruin), die oopgeknoopte hemp (ligblou), en die klein swart reistas wat Osman op wieletjies saamsleep.

      Dan stap hy uit by die gebou, oor die vaal geplaveide paadjie en die sanderige parkeerterrein na waar sy wit Toyota-bakkie staan. Hy klim in, draai die vensters oop, haal die klein verkyker uit die paneelkissie, fokus dit op die ingang en wag.

      Sewe minute later sien hy vir Osman uitkom, let op dat die bruin man geen ander bagasie het nie, slegs die reistas. Hou hom dop terwyl hy na Avis se parkeerterrein stap, tot hy buite sig is.

      Rohn skakel die bakkie aan en draai dit om sodat hy die regte toegangspad kan dophou.

      15

      Om nege minute oor vier in die middag rapporteer Quinn aan sy baas dat Rohn se agtervolging van Shahied Latief Osman in Walvisbaai foutloos verloop het. “Osman is met ’n Avis-motor reguit na die hawe toe, waar hy parkeer het voor die kantore van Consolidated Fisheries, in die vissersvloot-gebied. Hy is by dié maatskappy se gebou in om 13:35 en het eers twee uur later, om 15:30, weer uitgekom. Hierna is hy na die Protea Hotel in Sam Nujoma Avenue, waar hy ingeboek het. Rohn het ook ’n kamer daar gekry en sal sake verder dophou. Ons is nou besig om Consolidated Fisheries na te vors en Raj se mense sal môreoggend ’n verslag gereed hê.”

      * * *

      Om twintig oor vier roep Moeder Killian vir Jessica die Godin in om haar die nuwe opdrag te gee. Wanneer Jessica tien minute later swetsend terugstap na haar werkstasie (“A fucking fishing company in a fucking boondocks harbour town …”), breek sy Milla Strachan se intense konsentrasie, sodat sy haar kop lig vanaf die lywige navorsing oor straatbendes en vir Donald MacFarland sê: “Mac, there’s stuff in here that doesn’t reflect well on the government …”

      “So?”

      “So do I include it?”

      “Of course. Die yskerkoei moet wéét, even if it hurts.”

      “O.K.”

      * * *

      Verslag: Misdaadbendes op die Kaapse Vlakte

      Datum: 14 September 2009

      Opgestel deur: Milla Strachan en Donald MacFarland

      Agtergrond

      In die laaste dekade van die apartheidsera was bendebedrywighede in die destydse Kaapprovinsie in groot mate beperk tot die voormalige bruin groepsgebiede, veral in die laer sosioëkonomiese woonbuurte van die Kaapse Vlakte.

      Ook die aard en omvang van hul misdade was relatief begrens, hoofsaaklik as gevolg van internasionale isolasie, inperking deur die Groepsgebiedewet, en ’n effektiewe, ervare polisiemag met uitgebreide magte, waaronder aanhouding sonder verhoor, en bedenklike ondervragingsprosedures.

      Dié situasie het vroeg in die jare negentig subtiel begin verander, toe die destydse SAP se mannekrag al hoe meer aangewend was vir onderdrukking van politieke onrus. Straatbendes kon asem skep, hul werwing versnel en hul bedrywighede stelselmatig uitbrei, in dié tydperk nog op klein en beperkte skaal.

      Dit was egter die oorgang na ’n demokratiese regering, in 1994, en die reuse-veranderings in die land in die daaropvolgende ses jaar, wat aan georganiseerde misdaad die geleentheid gegee het om van tuisnywerheid tot internasionele speler СКАЧАТЬ