Название: Koeke en terte
Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321404
isbn:
•Is jy ’n Sponskoek? Motiveer jou antwoord.
•Het jy sommige van die eienskappe van ’n Sponskoek?
•Wat is jou sterkpunte?
•Wat is jou swakhede?
•Wat is jou natuurlike talente?
•Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?
•Wat is jou drome?
•Wat is jou passies?
•Hoe lyk die nuwe jy waarin jy wil verander?
•Watter bestanddele wil jy uit jou huidige resep weglaat?
•Watter nuwe bestanddele wil jy byvoeg om die beste jy te word?
•Wat is vir jou haalbare doelwitte vir hierdie week, hierdie maand, hierdie jaar?
•Wat is jou lewenstaak as jy dink aan die kombinasie van al jou geestelike gawes, natuurlike talente en sterkpunte wat die Here spesifiek in jou geskenkpakkie geplaas het om die wêreld mee te verryk?
Die Woord vir Sponskoeke
•2 Timoteus 1:7
•Josua 1:9
•Filippense 4:13
•Jesaja 49:1-6
Stilwordtyd by God vir Sponskoeke
Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:
•Wat het my getref? Bid daaroor.
Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:
•Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?
•Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?
•Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?
Slypskool vir almal wat saamreis
Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.
•Hoe voel ek oor Sponskoeke?
•Hoe hanteer ek hulle?
•Hoe kan ek hulle bemoedig en help om hulle volle potensiaal te bereik?
•Hoe wil die Here hê moet ek Sponskoeke hanteer?
Die Woord vir almal wat saamreis
•1 Korintiërs 13:4
Stilwordtyd by God vir almal wat saamreis
•Wat het jy in hierdie verse oor naasteliefde geleer?
•Wat sê die Here vir jou?
•Hoe kan jy dit prakties toepas?
•Het jy enige lightbulb-oomblikke beleef?
Vrugtekoeke
My ouma het graag vrugtekoeke gebak. Sy het reeds maande voor Kersfees met dié taak begin. Sy het ’n verskeidenheid droëvrugte gekoop en in ’n kastrol op die stoof gekook. Daarna is die res van die ligter bestanddele by die vrugtepappery gevoeg en lank in die oond gebak. Die droëvrugte was oorheersend in die eindproduk en het aan die koek die kenmerkende donker kleur en digte tekstuur verleen.
My ouma het elke vrugtekoek vertroetel soos haar tuin. Die koeke is elke week met sjerrie bedruip sodat dit diep in die koek kon intrek. Daarna is die vrugtekoek met harde marsepein verseël om dit te preserveer. Die swaar vrugtekoek is dan in ’n blik gebêre, soms vir maande of jare voordat dit geëet is.
Ek was nooit erg oor die smaak van vrugtekoek nie en het maar verbygehou wanneer my ouma dit bedien het. Die skerp geur van lemoenskil, sjerrie en marsepein was nie vriendelik op my tong nie.
Vandag herinner my ouma se donker vrugtekoeke my aan my jong self. Vrugtekoeke is vir my ’n beeld van vroue wat baie emosionele bagasie met hulle saamdra, onder die masker van harde wit marsepein. Sulke vroue preserveer die trauma uit hulle verlede deur dit te vertroetel met die tyd en energie wat hulle daaraan afstaan, net soos my ouma met haar vrugtekoeke gedoen het om hulle vars te hou.
Die voorkeurkleur van die meeste vroue wat hulle verlede herleef asof dit vandag gebeur het, is swart of donkerbruin. (Dis wat ek gedra het.) Dalk is hierdie keuse van rouklere ’n weerspieëling van hulle innerlike emosionele barometer wat oor die jare heen nie verander het nie.
Ek kan dikwels die spore van onvergewensgesindheid lees soos ’n boek op die gesigte van hierdie vroue, sonder dat hulle ’n woord hoef te sê. Daar is ’n gebrek aan lig in hulle oë en gewoonlik ook donker kringe onder hulle oë. Ook hulle lyftaal verklik die swaar bagasie van die verlede wat hulle steeds met hulle saamdra – die krom skouers, die swaar sleepvoete, die mond wat nie maklik saamlag nie.
Die belangrikste ding waarop hierdie swaarmoedige vroue teer, ná al die jare, is steeds die rillerverhale uit hulle verlede, al die verskriklike rampe wat hulle al getref het. Van die nare dinge wat hulle ouers, man, kinders, vriendin, werkgewer aan hulle gedoen het tot by ’n woede teenoor die Here wat dit toegelaat het.
Party van hierdie vroue se verhale stuur koue rillings by my ruggraat af. Die pyn en lyding waardeur hulle is, is fel. En hulle beleef en herleef dit steeds in hulle gedagtewêreld. Ek kan hierdie vroue maar net druk en vir hulle bid en terapie en berading voorstel.
Ongelukkig is daar niks meer wat ek kan doen om hulle te help nie. Ek praat uit ervaring. Ek was jare lank emosioneel vasgevang in die trauma waardeur ek is. Ek het baie jare daarby vasgehaak en myself bly voer met hierdie ou emosionele pyn. My hart was vol swaar klippe, of dan droëvrugte en marsepein.
Totdat die pennie by my gedrop het dat ek ’n keuse het, dat ek ’n vrye wil het om te kan kies, dat ek God kan vra om hierdie klippe met sy lewende water in juwele te verander.
Die sleutel vir jou tronkdeur is in jou eie hand – nie in iemand anders se gebalde vuis nie. Met die Here se hulp en jou samewerking kan jy die pynlike verlede tot rus bring. Jy sal nie die verlede kan vergeet nie, dit is deel van jou geskiedenis, maar jy kan die houvas wat dit op jou het, laat verslap deur die manier waarop jy daaraan dink. As oorwinnaar – eerder as slagoffer. Die rou, oop, bloeiende wonde kan genees en mooi toegegroeide letsels (juwele) vorm, wat jou genesing simboliseer en aan ander hoop kan gee.
Ek het bewustelik gekies om die mense wat my in die verlede emosionele skade aangedoen het (en dit sluit myself in), vry te spreek. Ek het bewustelik gekies om aan te beweeg na ’n nuwe hoofstuk in my lewe, een met meer juwele in my hart as droëvrugte СКАЧАТЬ