Название: Koeke en terte
Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321404
isbn:
Hulle haarstyle is deel van die incognito-strategie. Dis prakties en verg min instandhouding en trek min aandag. Kuiwe is wel gewild, want dit steek al eenderde van hulle gesigte weg. Sponskoeke het nooit uitspattig gekleurde of flambojante salonkapsels soos ander in die saal nie.
Hierdie vroue het egter baie pluspunte, en besonder goeie maniere is een daarvan. Hulle is altyd die minste en druk nie soos voorbarige Tipsyterte voor in die ry by die kostafel of die boeketafel in nie. Hulle staan koponderstebo en doodstil heel agter in die ry en wag geduldig hulle beurt af. Wanneer hulle uiteindelik voor my staan, praat hulle so sag en verskonend dat ek my ore regtig moet spits om te kan hoor wat hulle sê.
Sponskoeke glo nie in hulleself nie. Hulle bestaan feitlik net uit vrees, onsekerheid en senuwees. Dit maak my so hartseer, want ek self was ook ’n skaam, jammer-dat-ek-leef-vrou, iemand wat verkies het om in ander suksesvolle vroue se skadu te leef. Tot ek uit die boks geklim en my potensiaal begin ontwikkel het. Hoe? Deur ’n paar nuwe wenbestanddele by my resep te voeg soos die Meesterbakker dit aan my geopenbaar het.
Ek gesels graag met ’n Sponskoek wanneer ek ook al die kans kry. “Wat is jou natuurlike passie, talent of gawe?” is een van my beste aanknopingspunte. Gewoonlik staan die Sponsie dan verstom daar met ’n mond vol tande.
“Ek weet nie … daar is nie regtig iets waarin ek uitblink nie.”
“Daar móét iets wees,” moedig ek haar dan aan.
“Nee wat, ek het nie talente gekry om oor te spog nie. Ek is maar net ’n plein huisvrou vir my man en my kinders. Kook ’n bietjie, maak huis skoon en so aan …”
Op hierdie beskeie noot sal ’n uitgesproke vriendin (gewoonlik ’n rondborstige Melktert) dikwels intjip met ’n klip in die bos. “Hierdie vrou is vrot van die talent,” sal die Melktert uitbulder sodat die hele saal dit kan hoor. “Sy kook vyfsteretes vir ’n hele rugbyspan en doen lieflike naaldwerk en blommerangskikkings. Sy het ons tafel so mooi versier. Sy is so beskeie, ek wil haar sommer stamp dat sy kan bykom.”
“Sy oordryf regtig,” sal die Sponskoek antwoord en skaam afkyk na haar hande met die kort geknipte naels. “Ek het sommer net ’n paar tuinblommetjies in die water gedruk. Julle is die glansvroue met die ware talente en gawes, nie ek nie. Ek is regtig ’n doodgewone huisvrou. Niks spesiaals aan my nie.”
Herinner hierdie oorbeskeie, skaam vrou, wat haarself gedurig in geselskap as die stert eerder as die kop posisioneer, jou dalk ’n bietjie aan jouself? Sponskoeke glo nie in hulle potensiaal om wenners te wees nie. Maar dit hoef nie so te wees nie. Met ’n paar kopskuiwe en nuwe gewoontes kan die meeste Sponskoeke hulle ware identiteit ontdek en met selfvertroue begin leef. Dit vra egter van ’n Sponskoek om bereid te wees om haar oop te stel vir die ongemak van vernuwing. No pain, no gain.
Jy sal jou ou denke oor jouself as ’n plein droë Sponskoek in die asblik moet gooi, jou kamoefleerdrag moet uittrek en dit moet waag om jou volle potensiaal as eiesoortige wenvrou aan te trek.
Hoe weet jy of jy ’n Sponskoek is, of ’n bietjie soos ’n Sponskoek? Is jy besonder skaam, geïnhibeerd en sonder selfvertroue? Beskou jy jouself as minderwaardig wanneer jy tussen uitblinkervroue is? Kyk jy met verwondering na ander vroue se gawes eerder as om jou sterkpunte te ontgin? Vorm jy jou menings volgens wat ander dink en sê? Is jy bang vir konflik? Is jy bang vir foute maak en om te misluk? Hou jy baie van jou talente en gawes en ’n groot deel van jou persoonlikheid onontgin onder die maatemmer weggesteek?
Die meeste van ons het ’n stukkie Sponskoek iewers in ons. Ek het beslis. Sponskoek is nie ’n slegte bestanddeel nie. Dit het baie pluspunte as dit nie die heel grootste deel van jou samestelling oorheers nie. ’n Sponskoek is sag, sensitief, oop en ontvanklik vir nuwe opinies en invloede, net soos ’n badsponsie wat die seepwater opslurp.
Ons almal het mekaar nodig om soms ontvanklike sponsies te wees vir nuwe en opbouende invloede op ons lewenspad sodat ons kan groei na emosionele en geestelike volwassenheid. In die Bybel lees ons dat Lidia ’n oop sponshart vir Paulus se boodskap gehad het. Dit het daartoe gelei dat sy ’n volgeling van Jesus geword het en gedoop is.
Nie alle invloede (selfs dié van vriende of gelowiges) is noodwendig goed of reg vir jou om jou volle potensiaal te verwesenlik nie. Sommige invloede kan skadelik wees, jou geesdrif demp en jou van koers af ruk. Ek onthou toe ek in graad 10 was en ’n onderwyser my ná my eerste getuienis voor ’n groep leerders oor die vingers getik het. “Jou getuienis was treffend,” het sy gesê, “maar moet in die vervolg nie humor daarby inmeng nie. Jou getuienis moet net ernstig wees.” Sponskoeke het baie liefdevolle aansporing en ondersteuning nodig om hulle sterkpunte en identiteit te ontdek, nie hierdie soort negatiewe opmerkings nie.
Vandag is ek nie meer ’n Sponskoek wat alles wat ander sê vir soetkoek opeet nie. Ek weet humor is deel van my DNS. Dit is ’n talent wat ek ontvang het en ek gebruik dit graag om ander se gemoed te lig en brûe te bou tussen uiteenlopende mense.
My raad aan Sponskoeke is: Wees oop en ontvanklik vir ander se aanbevelings, maar wees ook ’n waaksame hekwagter voor jou welstand. Stel gesonde grense. As jy twyfel oor iemand se raad of invloed, vra God vir meer onderskeidingsvermoë. Maak seker die mense wat jy by jou invloedsfeer inlaat, onderdruk nie jou natuurlike en egte eienskappe en jou unieke persoonlikheid, identiteit en styl nie. Jou missie moet wees om die beste weergawe van jouself te word – nie ’n afskrif van iemand anders nie.
Word wie jy veronderstel is om te wees. Daar is ’n Meesterplan wat jou soos ’n handskoen sal pas. Soek totdat jy dit kry. Trek dit aan. Dit sal gemaklik aan jou sit en jou nie krap of skaaf of knyp nie.
Jou eerste stap en verantwoordelikheid is egter om jou geskenkpakkie oop te maak en jou vermoëns en vaardighede wat die Here vir jou gegee het te ontwikkel. Ontdek en ontwikkel jou unieke kombinasieresep. Dit sal van jou vra om op jou selfbewussyn te fokus in plaas van die groepbewussyn, wat voorheen jou instinktiewe reaksie en gemaksone was.
Bemoediging en wenke vir Sponskoeke
Spons gerus die idees en menings van ander wyse mense op, maar leer ook om al die inligting te sif. Behou net wat jou gemaklik laat voel. Moenie ander se opinies of sienings uit gewoonte opslurp nie. Sponse raak soms lui om self te dink. Leer daarom om selfinnoverend, kreatief en vernuwend te wees. Bring ook jou eie idees na die partytjie toe, hoe vreemd of simpel dit ook al vir jou klink. As jy bang is om hardop voor mense te praat, skryf dit net eers neer.
Waag dit om bewustelik uit jou sponsieboksdenke te ontsnap. Só sal jy word wie jy veronderstel is om te wees, in plaas van net ’n afskrif of ’n fan van iemand anders. Moenie ongeduldig wees met jouself nie. Jy sal nie oornag in ’n dapper mens met baie selfvertroue verander nie. Gee babatreetjies vorentoe. Stel vir jou haalbare doelstellings. As jou idee afgeskiet word, staan op en gaan soek verder.
Sponskoeke is dikwels bang vir kritiek. Ek was ook, maar het intussen geleer dat kritiek dikwels ’n geskenk is om groei aan te moedig. Dink aan die song “Titanium” van David Guetta. (Gaan luister weer na die woorde.) Dit het my al so dikwels geïnspireer om dit as skaam en onseker vrou te waag op my kreatiewe pad én op my geloofspad. En wanneer my manier van dink of doen buite die bekende boks afgeskiet word, staan ek maar net weer op en herskep myself van voor af.
Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en wees doelgerig om jóú volle potensiaal in God te verwesenlik.
Slypskool vir Sponskoeke
СКАЧАТЬ