Название: 100 dae van dankbaarheid
Автор: Francine Prins
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321220
isbn:
Uitvoerbaar? Regtig?
Ja, want Jesus maak dit moontlik. Dit was sy liggaam wat vir ons gebreek is sodat ons in hierdie lewe en in hierdie omstandighede ons lewensvreugde in Hom kan vind. Dit was sy bloed wat vergiet is sodat ons met ons emosies, ons hart, siel, gees en liggaam ’n groter perspektief kan hê as bloot “hier” en “nou”.
Dis waarom ons bo ’n slegte situasie kan uitstyg en met God se ewige oë kan kyk en in sy Goddelike krag kan reageer.
Wanneer ons aan die nagmaaltafel sit en só aan Jesus se dood en opstanding deelneem, dan het ons ook gemeenskap met sy danksegging. Ons deelname aan die eucharist (soos ons dit in Engels noem), is ’n dankgebed, ’n eucharisteo vir Jesus se kruisdood en die volheid wat daaruit voortvloei. Die nagmaal word dan só ’n “dankmaal”.
In die nagmaal beleef ons dood en verlies en verlatenheid. Net soos ons dit dikwels in hierdie lewe beleef. Maar daarsonder sou Jesus nie vir ons die lewe kon gee nie, en nie vir ons genesing of vryheid of genade kon bring nie. Dis juis in hierdie danksegging vir ’n lyf wat gebreek is en bloed wat gevloei het dat daar vir ons genade en vreugde is.
Deur die brood en die wyn ontvang ons genade as ’n geskenk. Hier ontdek ons lewensvreugde. Charis én chara. In ons danksegging ontvang ons genade en heilige blydskap.
Die nagmaaltafel is nooit net ’n plek waar ons op sommige Sondae aansit nie. Hieraan neem ons elke oomblik van ons lewe deel. Dis in elke situasie van krag.
Daarom is daar vir ons in elke oomblik die geleentheid tot danksegging, omdat Jesus sulke oomblikke reeds deurleef én daarin getriomfeer het.
Ja, Jesus se genade en vreugde is in elke oomblik te vind. Selfs in stryd en chaos en dood. Dalk juis dán …
Jesus, dankie vir die nagmaal. Dis ’n herinnering daaraan dat ons U elke oomblik kan dank.
Gemaksones
Een goeie dag stap ek en vriende in ’n Londense straat – en eensklaps staan daar ’n man reg voor my. Hy lyk darem vriendelik en hy hou so ’n draad-kontrepsie omhoog. Hy vra of ek dalk in ’n kopmassering sou belangstel.
“Nee! Nee, dankie,” antwoord ek dadelik. Maar een van my vriende besluit dis nét die ding om te probeer, en hy gaan sit op die stoel.
“Is jý seker jy wil nie ’n kopmassering hê nie?” vra die man weer vir my. Ek wil nie van plan verander nie. Boonop is ek te skaam. Ek is veilig in my gemaksone, dankie.
Ná ’n hele ruk probeer hy weer: “Is jy seker?”
Ag, en toe gee ek maar in. Ek gee een lang tree uit my gemaksone uit – en stap binne-in een van die lekkerste ervarings wat ek in ’n lang tyd gehad het. Toe ek later uit die stoel uit opstaan, gloeiend en glimlaggend, sê die man so ewe: “Jy moet dalk vir meer dinge begin ja sê.”
Hierdie woorde het my jare lank bygebly. Op ’n manier het dit dalk my lewenskoers verander. Ek hét vir meer dinge begin ja sê, ek het meer gereeld my gemaksone verlaat.
’n Deel van jou gemaksone, het ek later geleer, is daardie hoekie waar jou selfsugtige begeertes gedien word. Jy is die alleenheerser daar. Binne die grense van dié gerieflike plek kraai jy koning.
Om jou gemaksone te wil verlaat, vra dat jy eers aan jouself moet sterf.
Ek was verras toe ek ontdek hoe dankbaarheid en nederigheid in ’n wisselwerking met mekaar verkeer. Dis asof nederigheid die deur oopmaak vir dankbaarheid om binne te kom. En dankbaarheid doen dieselfde met nederigheid.
Soms moet ons eers wegkyk van onsself voordat dankbaarheid kan deurbreek. Ek moet plek maak vir ’n ander perspektief as my eie, vir ’n ander oortuiging as dié waaraan ek tans vasklou. Dankbaarheid wat genade oopbreek en wat heilige blydskap ontketen, vra nederigheid.
Nederigheid vra ’n tree uit ons gemaksone uit. Hier ontvang die Gees van Christus ons.
Dis die plek waar ons saam met Hom sterf en weer saam met Hom opstaan. Dan kan ons soos Paulus sê: “(E)n nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal 2:20).
Ja, dankbaarheid vra dat ons in nederigheid uit ons gemaksone sal tree en vir Jesus “ja” sê. En dan in afhanklikheid wag dat Hy ons aan lewensvreugde sal laat proe.
Here, dankie dat U vir ons wys hoe nederigheid lyk. Dankie dat ons saam met U kan sterf. Dankie dat ons die lewe se vreugde saam met U kan geniet.
Niks om op te roem nie
Nederigheid is een van daardie enigmatiese karaktertrekke: Dis om min van jouself te dink, maar tog nie minderwaardig te voel nie. Dis om ander hoog te ag, maar ook nie hul vloerlap te wees nie. Dis om nie trots te wees nie, maar steeds met sekerheid te weet dat jy ’n geliefde kind van God is.
Nederigheid huisves een van die groot paradokse: Die oomblik wat jy op jou nederigheid fokus, is jy nie meer so nederig nie …
Dalk moet ’n mens dit só verwoord: Nee, dis nie om minder van jouself te dink nie. Ja, dis om minder aan jouself te dink.
Ons wat graag soos Jesus wil leef en wat al hoe meer tot die beeld van Christus gevorm wil word, ons begeer ’n nederige hart. Ons wat die vrug van die Gees in ons lewe wil hê, wil ook nederigheid as een van ons eienskappe hê.
Miskien is nederigheid so uitsonderlik omdat dit in wisselwerking met ander gesindhede en aksies optree. Dit het veral ’n noue verband met dankbaarheid.
Dankbaarheid skep vir ons die geleentheid om ons afhanklikheid van God raak te sien. Dit maak nederigheid dikwels die enigste opsie, omdat nederigheid trots op sy plek sit, eiewaan se nek omdraai en selfgesentreerdheid in sy spore stuit.
Boonop hoef ons nie juis diep oor nederigheid te dink nie; ons fokus bloot op dankbaarheid. In elke oomblik en elke situasie neem ons ’n dankie-sê-houding in. Dis hiéruit wat nederigheid sal voortkom.
’n Lewe vol dankbaarheid weet hoe afhanklik ons van Jesus se redding is en hoe groot die verlossing is wat Jesus aan die kruis vir ons bewerkstellig het. Wanneer ons die lewegewende uitwerking van Jesus se liefde smaak, kan ons nie anders nie as om in dankbaarheid daarop te reageer.
En in die dankbaarheid oor Jesus se gehoorsaamheid aan die kruis, leer ons hoe nederigheid werk. Nou weet ons dat niemand sonder Jesus se redding kan leef nie. Dat niemand goed genoeg is om foutloos te lewe of om self vergifnis vir sonde te bewerkstellig nie.
Dit laat ’n nuwe dankbaarheid in ons ontvlam, omdat ons weet hoe afhanklik ons van God se genade is. Ons sien God se liefde daarin raak, en ons weet dat ons niks in onsself het om op te roem nie.
Here Jesus, dankie dat U gewillig was om U te verneder sodat ek ’n oorvloedige lewe kan hê.
Wat God verwag
Die ma sê aan haar seuntjie: “Jannie, sit nou!”
Die outjie is nie lus om te sit nie en hy kyk uitdagend na sy ma, sy arms voor sy bors gevou.
Sy СКАЧАТЬ