Название: 'n Belofte vir Bippie
Автор: Elsa Winckler
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
Серия: McGregor-reeks
isbn: 9780796321466
isbn:
Waar ís die vroumens? Sy het tog sy kaartjie, hoekom bel sy hom nie? Of vir oom Fred?
Hy soek aan weerskante van die pad en wil net omdraai, toe hy haar sien. Sy sit. Plat op die grond met haar rug teen ’n boom. Sy hart gee ’n ruk. Is sy oukei? Met ’n blik in sy truspieëltjie, maak hy ’n U-draai en hou langs die boom stil.
Haar kop leun teen die boom, haar oë is toe, die sproete duidelik sigbaar op haar wasbleek gesig.
Bekommerd spring hy uit en stap met lang treë tot by haar. “Bippie, is jy oukei?” Hy hurk en druk sy hand teen haar voorkop.
Haar oë fladder oop. “Riekert? Hoekom is jy hier?”
“Tannie Cora is bekommerd oor jou.” Hy tel haar in sy arms op.
’n Frons keep tussen haar oë. “Ek kan self stap.” Haar arms vou om sy nek.
“Ek dink jy het genoeg gestap vir een dag.” Hy dra haar tot by die bakkie en sit haar versigtig neer sodat hy die deur kan oopmaak.
“Ek wou net ’n bietjie rus, dis nie asof ek –”
“… te sleg gevoel het om verder te stap nie?” vra hy terwyl hy haar in die bakkie help. “Jy’s wasbleek, Bippie.” Sy stem is harder as wat hy bedoel het, maar sy het hom so laat skrik. Hy maak die deur toe en stap om na die bestuurder se kant.
In stilte ry hulle.
Bippie maak keel skoon. “Ek sou uiteindelik by die huis gekom het.”
“Teen donker?”
“Ek is jammer, oukei? Ek’s nie gewoond mense wag vir my of is bekommerd oor my nie.”
“Wel, mense is bekommerd oor jou en wag vir jou. Raak gewoond daaraan.” Hoekom hy so opgewerk is, weet hy nie. Dit het hoegenaamd niks met hom uit te waai of sy teen ’n boom sit of langs die pad flou word nie. Bippie Snyman is nie sy verantwoordelikheid nie.
Sy lyk al effens minder bleek, maar sit nog met haar kop agteroor teen die sitplek terwyl haar hand beskermend oor Papawer lê.
“Het jy water?” vra hy effens sagter.
Sy knik. “Dankie, ja.”
Hy hou voor Reina se huis stil. Nog voor Bippie kan uitklim, is hy by haar deur. Sonder om te vra, tel hy haar weer op.
“Riekert, seriously,” sê sy al wriemelend, “ek kan stap, sit my neer!”
Die voordeur vlieg oop.
“Kind, wat het gebeur?” vra Cora.
“Bring haar kamer toe, assseblief, Riekert,” nooi Trina. “Ons het die lugversorger al aangesit, dit behoort nou heerlik koel te wees. Siestog, kyk hoe bleek is sy.”
Hy loop in die gang af agter Trina aan, oorbewus van Bippie se oë op hom. In die kamer gly sy so gou uit sy arms dat hy haar amper laat val. “Magtig, vroumens, ek probeer net help!”
“Ek het jou gesê ek het nie jou hulp nodig nie,” sê sy deur stywe lippies.
Hy swaai op sy hak om en storm die kamer uit. Behoede hom van hardekwas vroumense. Dis hoekom hy so ver moontlik van die spesie af wegbly: die afgelope paar minute is hy ontsteld, kwaad en het hy sy stem verhef, wat selde gebeur.
Terwyl hy hom oor die straat haas, kyk hy boontoe: Regtig, Here?
Hy het gebid en gevra hy wil uit Bippie se pad bly. Nou raak hy glad opgewerk omdat sy daarop aandring om in die hitte huis toe te stap!
Eers in die gang onthou hy hoekom hy hoegenaamd na sy bakkie toe is. Sy skootrekenaar. Vies draai hy om. Sy pa was reg – vroumense is net moeilikheid.
Vier
Aandete is vir die eerste keer vandat Bippie by Cora en Trina ingetrek het, ietwat gedemp. Sy is oorbewus van die twee wat om die beurt beskuldigende en besorgde kyke in haar rigting stuur, maar niemand het nog iets gesê nie.
Fred verbreek die stilte toe hy opstaan: “Nou ja, ek gaan vroeg inkruip vanaand. Bippie, jy’t ons vandag laat skrik. Ek is bly jy het weer jou kleur terug. Ry jy nog môre Kaap toe?”
“Ja, oom Fred.”
Hy frons. “Jy sal na daai remme moet laat kyk.”
Voor Bippie kan antwoord, is hy by die deur uit.
Cora staan ook op en begin afdek. “Om hulp te aanvaar, is nie maklik nie, Bippie, ek verstaan dit. Jy bly hier omdat Reina nie wil hê ek en Trina moet alleen wees nie en sodat ons jou, waar nodig, kan help. Met ander woorde, ons bly saam hier sodat ons mekaar kan help. Die Bybel leer ons mos om mekaar se laste te dra.
“Riekert het my ’n guns gedoen om na jou te gaan soek. Hy wou net help, dit was nie nodig om met hom te raas nie.”
“Ek … is jammer.”
Cora glimlag. “Dis nie vir my wat jy om verskoning moet vra nie, hartjie. Ek is ook bly om te sien jy het weer rooi wange. Bietjie koffie vir jou?”
“Nee, dankie, tannie Cora.” Bippie begin ook afdek. “Ek het die koue boudvleis en slaai geniet, baie dankie.”
Cora draai om, gee vir Bippie ’n drukkie. “Ek’s bly, hartjie. Ons het gehoop jy sal daarvan hou.”
Vir ’n oomblik staan Bippie effe ongemaklik rond. Haar ouers het nooit sommer aan haar geraak nie. Van spontane drukkies het sy geleer by Reina en haar vriendin Larissa wat vir Reina as haar advokaat bygestaan het tydens haar egskeiding. En vir die twee tantes is dit deel van wie hulle is.
Sy vou haar arms om die skraal skouers. “Dis vir my so lekker om net te kom aansit, julle bederf my vreeslik. Ek … ek is nie gewoond dat mense my sommer net wil help nie.”
Cora snuif voor sy weer haar plek voor die wasbak inneem. “Jy help ons ook, kind. Jy maak gereeld die kombuis aan die kant as jy dink ons sien dit nie en jy is die een wat saans die badkamer skoonmaak. En net die feit dat jy hier is, is vir ons ’n groot hulp. Ons help mekaar. Môre gaan ek en Trina winkel-winkel speel terwyl jy by die dokter is; ons is al skoon opgewonde.”
“En Fred sal seker kom kyk of daar iets is wat hy kan regmaak,” voeg Trina by.
Cora kyk na die horlosie teen die muur. “Trina, dis al tyd vir ons storie!”
“Ja, ja, roer jou, ek skakel solank die televisie aan,” roep Trina oor haar skouer.
“Ek neem gou vir Riekert ’n bord kos,” roep Cora agter haar aan en skep van die koue boudvleis en slaai op ’n skoon bord. “Ek sien sy bakkie staan nog voor die huis.”
“Ek sal dit vir hom neem.” Bippie byt haar tong vas. Waar kom dít nou vandaan? Oukei, sy СКАЧАТЬ