Название: Ena Murray Keur 15
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624083474
isbn:
Daar kom ’n peinsende uitdrukking op sy gesig. Rhona het hom onwetend vanaand op ’n gedagte gebring. Eendag sal Karina uit die hospitaal ontslaan word. Dan sal sy moet terugkeer na die ou skakelhuisie toe waar sy grootgeword het. Dit gaan baie ongerieflik wees. Sy sal in ’n rolstoel wees, en dis so beknop daar, en die voorstoep het treetjies. Die bure met die klomp klein kindertjies is so vas teenaan hulle. Dit gaan vir Karina onhoudbaar wees. Sy kan nie terug na daardie ou skakelhuisie toe nie. Maar hier … hier sal sy darem die lied van die branders kan hoor en die seemeeue hoor skree.
Dis die minste wat hy vir hulle kan doen, dink hy. Hy kan dit darem ’n bietjie geriefliker vir hulle probeer maak, ’n bietjie draagliker. Daar is genoeg wat daardie twee mense uit sy kinderdae in die toekoms sal moet verduur. Hy en Rhona kan maar weer later vir hulle ’n standplaas uitsoek.
Met die dokter se toestemming val tant Miemie en De Waal die volgende oggend in die pad.
De Waal het haar vooraf gewaarsku dat sy genoeg klere moet saamvat om ’n rukkie by Karina agter te bly. Hy kon die onsekerheid in haar oë lees en het haar dadelik gerusgestel.
“Karina het mos ’n woonstel. Tante kan daar bly, en ek sal reël dat tante gereeld vervoer word na en van die hospitaal.”
“Dit sal baie geld kos, De Waal.”
“Moenie tante daaroor bekommer nie.”
“Ai, my kind …”
“Tante, ek weet tante is een van die weinige mense op aarde wat liewer gee as ontvang. Maar soms moet ’n mens ook kan ontvang. Om op die regte manier te ontvang, is miskien ’n groter kuns as om so bevoorreg te wees om altyd net te wil gee.” Hy glimlag in haar bekommerde oë af. “Kom ons sê dis maar net brood op die water wat nou na vele dae terugkeer.”
Maar tant Miemie voel nie gelukkig nie. “’n Mens kan soms te duur vir brood betaal, my kind.”
“Nee, tante, nooit te duur wanneer jy regtig honger is nie. Maar dis tydelike dinge, tante. Dis nie nou van belang nie. Wat nou van belang is, is Karina. Sy moet gesond word. Ek het gister ’n oproep van haar dokter gehad. Hy is bekommerd. Karina is in ’n verskriklike negatiewe gemoedstoestand. Prontuit gesê, sy wil nie meer lewe nie. Sy wil nie veg nie. Sy wil nie praat nie. Sy wil niemand by haar hê nie. Ek moet tante vooraf waarsku sodat tante kan weet wat om te verwag. Daar gaan baie van tante geverg word hierdie eerste ruk. Daarom neem ek tante vandag na haar toe. Tante moet net op haar konsentreer. Moet tante nou nie bekommer oor geld en wat alles betaal moet word nie. Dit is die minste.”
Tant Miemie swyg, knik, kyk na die sterk profiel langs haar. Jare gelede was hy verspot lief vir Karina. Sy was sy klein godin. Maar hul paaie het uitmekaar gedraai, en was dit nie vir hierdie ongeluk nie, sou hulle seker nooit weer gekruis het nie. Karina het hom heeltemal afgesterf. Sy het nooit na hom verneem nie. Dit was asof sy haar ou maat vergeet het.
Die afgelope jare het De Waal self ook net uit blote beleefdheid soms na haar welstand verneem. Hy het intussen verloof geraak aan ’n skatryk afgetrede nyweraar se dogter.
Maar nou is hy baie gaande oor Karina. Sou dit wees omdat hy so ’n sterk verpligting teenoor haar ma voel? Of is dit maar net omdat hy nou die geleentheid sien om te kan vergoed vir wat sy vir hom gedoen het in sy moeilike kinderjare?
Tant Miemie sug saggies, kyk by die venster uit. Dis waar wat De Waal gesê het. Vir haar is dit nog altyd ’n swaar ding om te ontvang. Sy gee liewer. Dit is vir haar baie makliker. Sy weet ook dat Karina swaar van De Waal gaan ontvang, want Karina het hom doelbewus uit haar lewe weggestoot. Sy het hom geminag.
Asof hy kan raai wat in haar gedagtes omgaan, sê De Waal: “Tante, daar is iets wat ek tante wil vra. Ek wil nie hê tante moet Karina sê dat ek tante ’n bietjie finansieel gaan help en so aan nie. Moet haar ook nie vertel wat ek doen nie. Sê vir haar, ás sy vra, ek is ’n boekhouer op die dorp. Dis genoeg.”
Tant Miemie lyk verward. “Maar hoekom?”
“Sommer net. Omdat ek dit vra. Asseblief.” Hy weier om haar in die oë te kyk. “Ek voel dit is beter so. Moet haar nie vertel ek is verloof nie. Dis in elk geval nie van belang nie – nie vir haar nie.”
Tant Miemie frons. “Is jy bang sy sal hulp weier as sy weet dit kom van jou af?”
“Ja,” antwoord hy eerlik. “Ek dink so. In die gemoedstoestand waarin sy nou is, sal sy.”
“Goed, my seun. As jy werklik dink dis nodig …”
Dat De Waal gelyk gehad het in hierdie vermoede van hom, vind hulle uit toe tant Miemie by haar kind toegelaat word. Toe sy haar van haar dogter se krampagtige omhelsing losmaak en dapper die trane probeer keer, sê sy met bewende lippe: “De Waal moes stad toe kom en toe het ek sommer saam met hom gekom. Hy is hier buite. Hy sal seker net wil groet …”
“Nee! Nee, ek wil hom nie groet nie. Ek wil niemand anders hier hê nie!”
“Maar, my kindjie …”
“Asseblief, Mamma, nee! Ek wil niemand hier hê nie. Net vir Mamma. Moenie dat hy inkom nie.”
Tant Miemie en De Waal se oë ontmoet waar hy stil in die deur staan. Dan knik hy gerusstellend en draai sag om. Tant Miemie kyk hartseer op haar dogter af, soek na ’n skynseltjie herkenning in die blinde oë. En sy weet dat, hoe sterk Karina ook al oor hierdie saak voel, sy self nie sonder De Waal se hulp deur hierdie trauma sal kom nie. Sy sal De Waal se helpende hand moet neem, want die kruis gaan te swaar wees vir haar om alleen te dra. Net – Karina mag dit nooit weet nie.
3
De Waal help tant Miemie in die motor. Hulle swaai die stadsverkeer in op pad na Karina se woonstel toe.
Dis tant Miemie wat eerste die somber stilte verbreek. “Ek is jammer, De Waal.”
“Waaroor?”
“Oor Karina se houding. Sy wou jou nie eens groet nie. My kind is so verbitter, De Waal! Sy is in opstand. Sy wil nie meer lewe nie!”
“Toe nou maar, tante. Mettertyd sal die skok afneem en sal sy verander en leer om te aanvaar.” Hy weet hy praat sommer. Hy twyfel of Karina ooit haar omstandighede sal aanvaar. Hoe kan ’n mens dit ook verwag? Sy was so ’n sprankelende mens; so ’n besonder talentvolle en mooi mens. En nou is sy gebreek. Hoe kan ’n mens dit van haar verwag om sommer te aanvaar dat sy eensklaps blind én lam is, veral nadat sy so in die volle gloed van die lewe gestaan het? Hoe kan ’n mens dit ooit werklik aanvaar en, veral, daarin berus? Dis te veel gevra, te veel verwag.
“Haar houding teenoor my is te verstane. Ek verstaan ook dat sy weier om haar vriende te ontvang. Ek verstaan dit. Ek herinner haar aan die goeie ou dae toe sy jonk en ongeskonde was en die lewe en haar ideale nog voor haar gelê het. Haar vriende herinner haar aan dié tyd van haar lewe toe sy daardie ideale verwesenlik het, toe sy as ’n beroemde model in die kalklig gestaan het. Maar dis nou alles verby, en sy wil nie daaraan herinner word nie. Dit sal regkom, tante. Maar dit sal lank duur. Dit moet ons aanvaar. Ek wens ek kon tante meer help, maar my hande is op die oomblik afgekap. Die bietjie wat ek wel kan doen, doen ek met graagte. Daarom wil ek tante asseblief vra om tante nie oor die finansiële sy te bekommer nie. Ek sal daarna omsien. Geld is nie nou belangrik СКАЧАТЬ