Название: Ena Murray Keur 15
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624083474
isbn:
De Waal skud sy kop. In die verlede was hy gou om ’n noodleuen uit te dink, maar vandag wil sy verstand nie werk nie.
“Jy moet haar maar sê haar ma is by my. Ek voel ongesteld. Vertel haar enigiets wat jy wil, maar nou moet ons net aan Karina dink, De Waal. Miemie sou dit so wou gehad het,” stel oom Isak voor.
De Waal knik en professor Keuler vra simpatiek: “Is u gereed? Dan kan ons maar gaan.”
Oom Isak druk sy skouer. “Gaan, ou seun. Ek wag buite. Sterkte.”
Jy kan die spanning in die vertrek met ’n mes sny toe hulle binnekom. Die suster staan reeds gereed met haar trollie met al die instrumente daarop.
“Hoe voel my pasiënt?” vra die professor byna op prosaïese toon.
Sy antwoord dadelik: “Goed, dankie.” Dan voel sy ’n hand oor hare vou, en sy weet. “De Waal! De Waal, is dit …?”
“Dis ek.” Sy stem het nog nooit so diep geklink nie. “Ek is hier by jou en ek belowe ek sal jou hand die hele tyd styf vashou.”
Sy trek haar asem diep in, sê met bewende lippe. “Dankie. Dankie, my ouboet.”
Dan word dit stil … baie stil. Daar is die gegirts van die skêr, die effense geritsel van die suster se uniform. Daar is die strakheid van die professor se blik. Op hierdie oomblik word nie aan persoonlike prestasies gedink nie, maar aan ’n blinde mens – ’n blinde mens wat miskien weer sal kan sien …
En daar is die hand wat hare pynlik styf vashou en die al ligter wordende gevoel soos die gewig van die verbande van haar oë af gelig word. Dan voel sy meteens heeltemal vry, weet sy dat hulle af is … vir altyd af is.
Die gordyne is toegetrek en die kamer in skemerdonkerte gehul. Dis asof De Waal wil skreeu om lig en lug, maar sy stem verstok in sy keel. Hy kan net angstig afkyk op die pragtige gesig met die geslote oë.
Professor Keuler buk nader, neem die twee wattekussings weg. “Kyk na my, Karina.”
Die ooglede lig. Die oë bly uitdrukkingloos. Hy hou ’n dowwe liggie omhoog.
“Sien jy iets?”
“Nee, ek … Ja! Ek sien ’n liggie … Ek sien ’n liggie!”
“Kan jy dit volg met jou oë?”
“Ja! Ja! Ek sien dit beweeg!” Sy lig haar effens omhoog, kyk dan verby die liggie, sien die onbekende gesig met die bekende stem.
“Geluk, Karina. Jy kan weer sien!” Die dokter knik goedkeurend met sy kop.
“Weer sien?” Die oë vul met trane en die gesig word wasig voor haar. En dan is daar ’n ander gesig voor hare, ’n gesig wat half vreemd is en tog ook pynlik bekend. “Ek kan weer sien? De Waal …?”
Hy kan net knik, stom en dankbaar in hierdie oomblik van hartseer en vreugde.
“Ek sien weer, De Waal! Ek kan jou sien!” Haar hande strek na sy gesig uit, raak sy wange aan, en dan lê sy teen sy bors en rou snikke van onbeskryflike dankbaarheid vul die vertrek.
Hy kan haar net vashou terwyl haar snikke weerklank in sy eie hart vind. Karina kan weer sien!
Professor Keuler glimlag toe hy die naald in haar arm druk. “Net ’n kalmerende inspuiting. Jy mag jou nie nou so opwen nie. Ek weet dis byna onmoontlik, maar probeer ontspan, asseblief. Vandag moet dit nog baie rustig gaan. Van môre af sal ons die kamer elke dag ’n bietjie ligter maak totdat jou oë sterk genoeg is om die volle lig te verdra.” Hy knik sy kop in De Waal se rigting asof hy hom aan iets wil herinner. “Ek is baie dankbaar, Karina. Ek is saam met jou bly. Oor ’n paar maande gaan ons na jou rug kyk. Tot siens vir eers.”
Dis vir Karina asof sy heeltemal nuwe oë gekry het. Eindelik sien sy hom, elke trekkie op sy gesig. Hy het verander, dink sy. Onder haar hande het sy gesig vir haar voller gevoel. Sy gesig is maerder as wat sy haar dit voorgestel het, maar dis ’n sterk gesig waaruit twee helder oë na haar terugkyk, en sy voel meteens selfbewus onder sy blik.
“Waar is Mamma dan?”
“Oom Isak het saamgekom en sy is by hom. Hy … voel nie so lekker nie.” Hy probeer glimlag. “Toe het ek maar alleen gekom.”
Sy frons liggies. “Is hy … ernstig?”
“Nee, net … bietjie olik.” Hy aarsel, kyk weg. “Ek weet nie of jy agtergekom het nie, maar oom Isak en jou ma …”
Sy glimlag. “Ek het! Oom Isak het beslis nie vir mý kom kuier die afgelope tyd nie!” Haar gesig versober. Die feit dat oom Isak ook De Waal se aanstaande skoonpa is, bekommer niemand blykbaar nie. Maar oom Isak is ’n wonderlike man. Hy sal vir haar ma goed wees en haar ma verdien dit.
“Ek het belowe ek sal dadelik … laat weet … Sal jy my ’n oomblik verskoon, asseblief?”
“Ja, natuurlik.”
Maar toe hy uit is, rus haar blik peinsend op die deur. Het sy haar dit maar verbeel of het hy iets probeer wegsteek?
Dan keer haar gedagtes terug na die wonder wat plaasgevind het. Sy laat haar blik deur die hospitaalkamer dwaal, sien alles raak, glimlag. Dan val haar ooglede toe en sy vou haar hande op haar bors. Heel eerste moet sy dankie sê.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.