Alles begin met Anna. Annemari Coetser
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser страница

Название: Alles begin met Anna

Автор: Annemari Coetser

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780798176187

isbn:

СКАЧАТЬ

      

      Annemari Coetser

      Alles begin met

      Anna

      ’n Familiesage van voor die

      Anglo-Boereoorlog

      Human & Rousseau

      Vir almal wat nooit ’n ouma geken het nie.

      En vir diegene wat weens die gemis

      ’n ouma moet verbeel.

      Skrywersnota

      Hierdie boek is gebaseer op mense wat werklik geleef het, maar sommige karakters is fiktief. Ek het byvoorbeeld nie my groot­ouers geken nie. Sekere dele wat oor hul lewe handel, is histories waar, maar die res is uit die duim gesuig. Ook vir my ouers en ander fami­lie­­lede het ek ter wille van die storie karaktereienskappe versin.

      Beskou dit dus as ’n verdraaiing van die waarheid en moet niks wat hier vertel word teen enigeen van die karakters hou nie!

      Anna en Poppie se leefwêreld: Die Oranje-Vrystaat

Oranje_Vrystaat_2A.jpg

      Proloog

      27 Maart 1942

      Poppie rek haar nek en staan op die punte van haar tone om te sien of die trein uit Natal al om die draai kom. Dis veronderstel om nou-nou op die leë spoor langs die perron in te stoom. Sy haal diep asem. Hou, hart, hou!

      Rook en stoom dwarrel onderdeur die trein wat op die tweede spoor staan. Twee dogtertjies met identiese fringes en rooi linte in hulle blonde hare wuif deur die oop venster van ’n passasierswa vir haar. “Môre, tante!”

      Sy lig haar hand om terug te groet. Tante? Sy voel nie soos ’n tante nie, al is sy seker lankal een. ’n Nege-en-twintigjarige vrou. Wel, byna. ’n Oujongnooi. Jongedogter van die gemeente wat ’n paar weke gelede dalk die onnoselste besluit van haar lewe geneem het …

      Frikkie moet hier op Germistonstasie oorklim om die trein na Johannesburg te haal. Sy kán nog van plan verander, want hy verwag haar nie hier nie. Sy het hom kom verras, eintlik kom voorlê.

      Sy sluk, haar tong ’n skurwe gedoente in haar mond. Sal sy ooit één woord uitgewurg kry?

      ’n Portier met ’n boggelrug kom staan langs haar. “Sal die juffrou hulp nodig hê, netnou met die bagasie?”

      Sy skud haar kop en druk haar regterhand se naels in haar linkerhand se palm, so senuagtig dat sy iets kan oorkom.

      Ander portiers staan by hulle bagasietrollies en rook. Sy sien hoe hulle onderlangs na die jong meisies op die perron kyk. Daar is ook ’n paar ouer vroue in die skare. Sou hulle hier wees om hul geliefdes terug uit die Noorde te verwelkom? Moet wees, want daar is ’n brui­sing van opwinding in die lug.

      Sommige van die vroue rook ook. As sý dit maar kon regkry. Dit help glo om die senuwees te kalmeer. Boonop lyk dit gesofistikeerd. Maar elke keer as sy probeer, gaan sy hewig aan die hoes. Seker ook maar beter so, want sover sy weet, rook Frikkie nie.

      Germistonstasie is altyd besig, maar vandag is hier selfs meer mense as gewoonlik. Sy stel haar voor hoe dit uit die lug moet lyk met die spore wat in koeksisterdraaie oor mekaar vleg. Al die hoofspoorlyne kom hier byeen. Dis ’n harwar van passasiers wat heen en weer loop en op ander treine klim om hul reise voort te sit.

      Heelwat trokke is na die sylyne gerangeer. Sommige is met seile toe­gemaak, ander staan leeg. S.A.S. & H. is in wit verf op die kante geverf. Die Spoorweë is vir Frikkie ’n bekende omgewing, maar dis ’n wêreld waarvan sy niks weet nie, behalwe as gereelde passasier.

      Sy het vroeër ook niks van oorlog geweet nie …

      Sy haal ’n sakdoek uit haar klein koeverthandsak, vee haar natgeswete palms daaraan af en druk die handsak weer onder haar arm in. Dis swart, soos haar nuwe skoene – wat haar nou só druk dat dit kompleet voel of haar tone oor mekaar klim om deur die voorste opening om hulp te skree.

      Die liewe Frikkie, allemansvriend. Dalk herken hy haar nie eens nie; hy het net een kiekie van haar saamgeneem Noorde toe. Sy stryk oor haar heupe. Sy het rietskraal geword van die afgelope maande se spanning. Gelukkig vlei die nuwe roomkleurige rok met die fyn beltjie haar figuur. Netnou, voor die spieël, het sy gedink sy lyk nogal elegant met die swart nethoedjie en die pelsstola wat sy by Sussie Anna geleen het.

      Sou hy nog so aantreklik wees? Oorlog trek lyne op mense se gesigte, diep groewe wat hulle gelaatstrekke vir altyd verander. Haar ouers het só gelyk destyds ná die Tweede Vryheidsoorlog, het sy op die kiekies gesien.

      Die blerrie Engelse! Sy kan hulle nou nog nie verdra nie, al het Mammie dikwels gesê daar is ook goeie Engelsmanne. Gelukkig is Frikkie ’n man met ’n vrolike hart. Maar wat van al die dinge wat hy in die oorlog beleef het? Het hy sy menslikheid behou, sy liefde vir kinders?

      Sy weet eintlik boggherol van hom af. Einde Februarie is ’n telegram vir haar by die hospitaal afgelewer: Veilig aan land love always Frikkie.

      Marius het nooit sy liefde aan haar verklaar nie, maar sy het sommer net geweet. En nou? Binnekort sien sy vir Frikkie, die man wat sê dat hy haar vir altyd met Engelse liefde bemin. Doen sy oplaas die regte ding? Sy móét hom eenvoudig van aangesig tot aangesig sien voor sy die nuus oordra.

      Die portiers kry skielik lewe en die skare druk nader aan die kant van die perron. Nou kan sy ook die tjoef-tjaf van die stoomenjin bo die ander lawaai hoor. In die stil herfslug trek ’n streep rook agter die lokomotief uit en bly in bolle bokant die spoor hang.

      Daar kom hy …

      Haar hart bons so geweldig dat dit vir haar voel dit hou tyd met die trein se stamp-dreun. Kan daar nie net iets gebeur dat die ding in vadersnaam nie om die draai kom nie? Nie ’n botsing nie, maar ’n onafwendbare oponthoud.

      Of moet sy dalk voor Frikkie haar sien deur die malende klomp mense skuur en verdwyn? Verby die kaartjieskantoor, die sinjaal­kamer en die stasiemeester se kantoor hardloop. Regdeur die stasiegebou, verby die lang ry huurmotors wat in die straat staan en wag.

      Sy was van lotjie getik om te dink dat dinge vir hulle twee sou uitwerk! Sy is die versigtigste van mense, so pessimisties oor haar kanse op geluk dat sy nooit eens by die kerkbasaar raai hoeveel boontjies in die bottel is nie, al is die prys ook hoe aanloklik. Hoekom moes sý nou juis die dêssitse besluit neem? Dis so goed soos dobbel. Dis onregverdig van hom om dit te verwag, en dit met hierdie swaar ding wat op haar gewete lê!

      Maar dis nou te laat om van plan te verander. Die koeël is deur die kerk.

      In sy voorlaaste brief, uit Durban gepos, het Frikkie haar gevra om te trou. As sy instem, moet sy hulle gebooie by die predikant gaan opgee sodat hulle op 3 April tydens die laaste dae van sy siekverlof kan trou. Hy sal by haar in Heilbron kom hoor wat sy besluit het.

      Toe die trein met ’n lang gefluit om die draai kom, begin sy reeds wuif met haar blommetjiesakdoek, al sien sy hom nie by ’n СКАЧАТЬ