Название: Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes
Автор: Hilda Lategan
Издательство: Ingram
Жанр: Кулинария
isbn: 9780624071846
isbn:
•Gebruik jou medikasie soos voorgeskryf en gesels met die lede van jou diabetiese versorgingspan as jy onseker voel.
•Verstaan en ken die beginsels van goeie voeding en pas dit elke dag toe.
•Hou jou bloedglukose in bedwang deur:
–’n gebalanseerde dieet volgens jou behoeftes te volg, of
–’n gebalanseerde dieet te volg, insulieninspuitings en/of diabetiese pille te gebruik soos voorgeskryf, en
–tesame met jou behandeling ook gereeld oefening te doen.
•Hou noukeurig rekord van jou bloedglukoselesings, veral indien dit baie wissel.
•Wees eerlik as jy oortree met die verkeerde eetgoed en nie die medikasie korrek gebruik nie.
•Hou jou liggaamsgewig binne 10% van die ideale gewig vir jou lengte of handhaaf ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) – ’n aanduiding van gesonde gewig – van onder 25 kg/m2.
•Versorg jou voete gereeld. Meld dadelik indien seertjies of skaafplekke nie wil genees nie en laat ’n verantwoordelike persoon jou toonnaels knip.
•Laat jou bloeddruk gereeld die lede van toets as jy las van hoë bloeddruk het.
•Wees so aktief moontlik.
•Besoek gereeld die lede van jou versorgingspan, onder wie jou geneesheer, dieetkundige, oogkundige en voetkundige.
Gesonde eetgewoontes
Voedsel vorm ’n belangrike deel van enige mens – ook die persoon met diabetes – se lewe en dit behoort steeds genotvol te wees. Die voedsel wat ons eet behoort ook goeie voedingswaarde te hê. Wanneer diabetes by jou gediagnoseer word, word jy gedwing om jou eetgewoontes te hersien en aan te pas, wat voordele vir die instandhouding van jou liggaam sal inhou.
Riglyne vir goeie voeding
Die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde dieetriglyne is in 2012 hersien en gedurende 2013 gepubliseer. Hierdie riglyne is eenvoudig om na te volg en sluit die volgende in:
•Eet daagliks ’n verskeidenheid voedselsoorte en versprei dit in eweredige maaltye oor die dag.
•Maak styselryke voedsel deel van die meeste van jou maaltye. Eet meer lae-GI-voedsel.
•Eet elke dag minstens vyf porsies vrugte en groente.
•Eet gereeld gaar droë bone, erte, lensies en soja.
•Neem elke dag laevetmelk, -maas, -jogurt of maaskaas in. Jy kan daagliks – volgens jou voedselbegroting – vis, hoender, maer rooivleis of eiers eet.
•Gebruik vet spaarsaam. Kies plantolies eerder as harde vette en kies meer dikwels mono- en poli-onversadigde vette.
•Kweek die gewoonte aan om daagliks genoeg skoon, veilige water te drink.
•Gebruik sout en soutbevattende voedsel spaarsaam.
•Gebruik alkohol oordeelkundig en in oorleg met jou geneesheer en dieetkundige.
•Gebruik suiker en suikerbevattende voedsel en drank spaarsaam en in oorleg met jou dokter en dieetkundige.
•Wees meer aktief en hou jou liggaamsgewig in toom.
Die gebruik van voedselruillyste
Om die keuse van geskikte voedsel vir gebalanseerde maaltye te vergemaklik en bloedsuiker doeltreffend te beheer, word die gebruik van voedselruillyste aanbeveel. Daar is ses ruillyste en op elkeen verskyn voedselitems van spesifieke hoeveelhede. Al hierdie items – in bepaalde porsiegroottes – verskaf naastenby dieselfde hoeveelheid energie, vet, koolhidrate en proteïen en kan dus in jou maaltydplan afgewissel word. Die items op elke lys het ’n spesifieke funksie en geen enkele voedselgroep kan in al die voedingsbehoeftes voorsien nie. Voedselitems uit al ses ruillyste is dus nodig om aan ’n mens se voedingsbehoeftes te voldoen. Die lyste is ’n goeie hulpmiddel wanneer jy jou insuliendosis volgens die berekening van die hoeveelheid koolhidrate in jou maaltyd wil aanpas. Die glukemiese indeks (GI) kan verder baie doeltreffend saam met hierdie lyste gebruik word.
Die koolhidraat- (CHO-), proteïen-, vet- en energie-inhoud van die voedselitems in elke ruillys word soos volg uiteengesit:
Voedselruillys | CHO(g) | Proteïen(g) | Vet(g) | Energie(kJ) |
Melk1 volroommelk1 laevetmelk1 vetvrye melk | 121212 | 889 | 85- | 640525340 |
Proteïen1 mediumvet-proteïen1 laevet-proteïen1 plantproteïen | --8 | 774 | 531 | 310230230 |
Stysel | 15 | 2 | - | 275 |
1 vry groente1 medium groente | Minimaal7 | Minimaal2 | -- | Minimaal150 |
1 vrugte | 15 | - | - | 250 |
1 vet | - | - | 5 | 190 |
Koolhidrate en diabetes
Koolhidrate word in die gebalanseerde dieet ingesluit as verskillende suikerbevattende kosse en suikerprodukte, soos konfyt, en styselryke voedsel, soos brood, graan, peulgewasse, groente, vrugte en melk. Koolhidrate word deur die liggaam verteer tot enkelsuikermolekules soos glukose, fruktose en laktose (melksuiker). Die deel wat nie verteer word nie, staan bekend as vesel. Vesel bevorder peristalse (dermbewegings) en werk hardlywigheid teë. Indien geen koolhidrate ingeneem word nie, word proteïen (eintlik ’n boustof) en vet as bron van energie gebruik. Koolhidrate verseker dus dat die proteïen in jou dieet hoofsaaklik vir die herstel en instandhouding van die liggaam gebruik word.
Koolhidrate is nie alleen ’n belangrike bron van energie nie, maar in die vorm van glukose is dit ook die enigste energiebron van die brein. Daarom is dit belangrik dat diabete koolhidraatryke voedsel by elke maaltyd insluit.
Wanneer proteïen en vet saam met koolhidrate ingeneem word, word die verteringstyd van die voedselkombinasie verleng en derhalwe word die vrystelling van glukose in die bloedstroom vertraag.
Ten einde goeie bloedglukosebeheer te verseker, is dit belangrik om te weet dat verskillende koolhidraatryke voedselsoorte vanweë hul variërende glukemiese indeks nie dieselfde uitwerking op die bloedglukose het nie.
Wat is die glukemiese indeks (GI)?
Die glukemiese indeks van koolhidraatryke voedselsoorte is ’n berekende waarde en gee ’n aanduiding van hoe vinnig en in watter mate die bloedglukose deur die inname van ’n spesifieke voedselsoort beïnvloed word.
Koolhidraatryke voedsel wat stadig verteer en geabsorbeer word, het ’n lae GI en dra by tot ’n meer geleidelike vrystelling van glukose in die bloedstroom, wat ’n verminderde insulienreaksie en beter bloedglukosebeheer tot gevolg het. Omdat dit ’n geleidelike proses is, word die spysverteringskanaal nie so vinnig geledig nie, wat dan die hongersensasie vertraag.
Koolhidraatryke voedsel wat vinnig verteer en geabsorbeer word, het ’n hoë GI en veroorsaak ’n vinnige toename van glukose in die bloedstroom, wat ’n verhoogde insulienreaksie en/of insulienbehoefte vanweë die vinnige styging in die bloedglukosevlak meebring. Die spysverteringskanaal word redelik vinnig geledig, wat lei tot ’n vroeë hongersensasie. Indien hierdie groter hoeveelheid glukose in die bloed nie doeltreffend in die liggaamselle in energie omgeskakel word nie, bly die sirkulerende bloedglukose СКАЧАТЬ