Название: Woestynwysheid
Автор: Ronell Bezuidenhout
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318213
isbn:
Soos wat die eeue voortgegaan het, het die fokus mettertyd weg van die groep na die individu toe verskuif. Waar die groep, byvoorbeeld die kerk, aanvanklik bepaal het wat mense kon dink, het die geloof in die individu langsamerhand die geloof in en van die groep onttroon. Ál meer mense het begin protesteer dat daar aan hulle voorgeskryf word terwyl hulle van mening was dat hulle mos vir hulself kan dink. Toe was dit nie meer die God-van-die-kerk nie, maar die God-van-die-wetenskap wat aanbid word. Of dalk moet ’n mens dit eerder beskryf as “Die wetenskap as God”. Mense het ál hoe meer gefokus op dit wat hulle kon sien. Dit het vanselfsprekend geword om te redeneer dat, as God nie gesien kan word nie, geloof nie moontlik is nie. Ál meer mense het begin protesteer teen enigiets wat met geloof te make het, want, het hulle geredeneer, is dit nie uiters subjektief en daarom nie bestudeerbaar nie? Gevolglik het godsdiens ál meer ’n “privaat” saak geword, want dit pas nie in ’n sekulêre, dominant natuurwetenskaplike wêreld se verstaan van hulself nie. En, ja, godsdiens is selfs as gevaarlik vir die voortbestaan van die mensdom beskou. Hierby vind ’n mens aansluiting, want ons weet immers wat alles al “in die naam van geloof” gedoen is.
Waar die ontstaan van godsdiens in die tydperk 800 – 200 v.C. die begin van iets nuuts vir die mensdom aangekondig het, so het daar toe weer iets nuuts gebeur. Toe was die fokus nie meer op formele godsdiens nie. “Spiritualiteit” het met die aanbreek van hierdie nuwe era die fokuspunt begin word. Godsdiens is iets waarop jy jou stempel kan plaas en sê “myne” en “hande tuis”. Met die formele godsdiens kan mense “reg” glo – en daarom ook “verkeerd” glo. Diegene wat verkeerd glo, kan selfs “verwerp” word.
Spiritualiteit is egter iets anders. Spiritualiteit is iets wat alle mense met mekaar deel, omdat dit deel van ons menslikheid is. Hierdie verskuiwing is deur ’n nuwe insig voorafgegaan. Mense het begin insien dat ons in ’n wêreld leef waarin ons weet dat ons dit nie meer kan bekostig om nog groter verdeeldheid te skep nie. Ons leef nou in ’n tyd waarin ons besef hoe gevaarlik ’n “ondeurdringbare ons” en ’n “vyandige hulle” is. Dit is hier waar ons as Christene met ons eie ongemak gekonfronteer word. Wat maak ons in hierdie nuwe era met ons idee van “uitverkorenheid”? Maar laat ons vir ’n oomblik eers aangaan met die idee dat iets nuuts aan’t gebeur is …
Hoekom is hierdie aanbreek van “’n nuwe era” belangrik? Allereers laat dit ons sekerlik nuut dink oor wie ons is. ’n Nuwe bewussyn word onder en in ons gevorm. ’n Nuwe verstaan van menswees – maar hierdie keer nie geïsoleerd van die omgewing waarvan ons deel is nie. Allermins geïsoleerd van God. Baie mense wat “die ou storie” wil voorhou as die “enigste storie” protesteer. “Nee, dit moet bly soos wat dit was,” baklei hulle. Baie wil steeds besluit wie die “regte” en die “ware” besitters van die Waarheid is. Gewoonlik meen ons dit is óns, vanselfsprekend … Ons wil steeds met sekerheid weet aan wie se kant God is. Vanselfsprekend aan die “Godsmense” se kant, óns kant …
Die nuwe storie se stem kan nie meer stilgemaak word nie.
The times, they are a-changin’. Een teken daarvan is dat ons nie meer ’n onderskeid wil maak tussen wat “spiritueel” is en wat “gewoon” is nie. Tussen liggaam en siel nie. Waar begin die een; waar eindig die ander een? Ons begin ál meer praat van die “heilige gewone”. Daar is nie sekere dinge wat heilig is en ander dinge wat, per implikasie, nie heilig is nie. Dit is ons wat kies hoe om met alles wat heilig is om te gaan – die natuur, mense, besittings – en ’n ander aard daaraan gee. Die skrywer van die Levitikusteks het dit eeue gelede al verstaan. Petrus wat sy briewe destyds aan die Asiese provinsies gestuur het, het dit verstaan. Dalk kan ons, twee millennia later, dit wel begin verstaan. Meer nog, dalk kan ons hierdie ou, ou wysheid begin uitleef: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Ek twyfel self nie dat ons by ’n kruispad is nie. Dit hoef nie noodwendig die aanbreek van ’n allesveranderde nuwe era te wees nie. Dit gaan ons buitendien nie eers weet nie. Dit is mos nou nie asof Jeremia of Plato of Confucius destyds geweet het dat hulle ’n spesifieke era ingelei het met hul sogenaamde nuwe manier van dink oor die lewe nie. Dit is die voorreg van die mense wat jare ná ons gaan leef, wat daardie bevestiging sal kan maak, al dan nie.
As ek luister na die mense saam met wie ek leef en werk, as ek na my eie hart se taal luister, en as ek die magdom boeke lees wat hieroor gesels, dan weet ek: Ons soek iets méér! Ek soek iets meer! Jare lank al.
Die dans van die Trio
Ek is baie dankbaar vir ’n enkele paragraaf wat ek in ’n boek van die baie gerespekteerde teoloog Dorothee Sölle raakgelees het – The Silent Cry: Mysticism and Resistance. Sy herinner ons daaraan dat alle godsdienste – nie net die Christendom nie, maar enige wêreldgodsdiens – drie elemente met mekaar deel.4 Eerstens is daar die “formele” kant van godsdiens – dit is die tipe “vorm” waarbinne die godsdiensuitlewing gegiet word. In meer formele taal sal ons dit die historiese geïnstitusionaliseerde deel van godsdiens noem. En ons weet, as die vorm eers gegiet is, moet daar mos behoorlik toesig gehou word oor die vorm sodat dit darem min of meer oral dieselfde lyk. Omdat dié vorm vir mense belangrik word, moet die vorm dan ook beskerm word (selfs al word lewens daarvoor opgeoffer …). Maak nie saak waar jy byvoorbeeld in ’n Anglikaanse kerk instap nie, as die vorm betroubaar gevolg word, sal jy dadelik die “stempel” van die Anglikane daar kan raaksien. Stap – wêreldwyd – in ’n Joodse Schull in; of by ’n Moslem-moskee … dan gaan jy waarskynlik dadelik weet waar jy is. Daar is met ander woorde ’n “vorm-eiesoortigheid”. In die Christendom (en veral die Katolieke Kerk sal hierdie opmerking goed verstaan) sou ons dit kon vergelyk met die rol wat Petrus vir die kerk speel.
Tweedens, as deel van alle godsdienste, is daar ’n intellektuele kant. Dit is die gedeelte wat vir ons vertel wat die inhoud is wat ons glo. Ons sou dit “teologie” kon noem. Ons sou dit die Paulus-metafoor kon noem. Dit verteenwoordig die analitiese en intellektuele deel van ons geloof en die manier waarop ons die inhoud kan bestudeer. Selfs ook oor daardie dinge waaroor ons spekuleer en stry. Ons het almal maar ’n groot dosis Paulus in ons godsdiensbeoefening. Daarom moet ’n mens “reg” glo. Daarom kom daar ook skeuringe tussen mense as mense “anders” begin glo. As jy “anders” glo, besluit diegene wat “reg” is, dat die nuwe groepering ’n “sekte” is, totdat die nuwe groepering groot genoeg raak, dan word die bordjies verhang. Onthou net ook, selfs al is jy nie ’n Christen nie, het jý ook ’n Paulus-kant – daardie deel wat analities dink oor hoekom jy nie glo wat ander glo nie, selfs jou motivering waarom jy glo wat jy glo, en waarom jy jouself wil distansieer van hulle wat nog op ’n “ou manier” glo.
Die derde deel het met die mistieke te make. Die Bybelskrywer wat hier as ’n metafoor gebruik word, is Johannes. Dit verteenwoordig die intuïtiewe emosionele deel van ons geloof. Johannes is die liefdesapostel, die een wat op vele maniere praat oor die eenwording van Jesus met God. Lees byvoorbeeld die laaste gebed van Jesus net voor sy inhegtenisname in Johannes 17. Daardie gebed kom nie by die ander Evangelies voor nie. Dit is mistieke taal by uitstek: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees … Ek in hulle en U in my …”
Vir ’n klomp eeue het ons in die Weste oorwegend “ge-Petrus” en “ge-Paulus”. Ons het ál meer ontwikkel tot meesters van die analitiese denke. En tog weet ons: Min mense word getransformeer deur bloot praat. Kennis verander selde mense se gewoontes. Dink maar net aan ons swak eetgewoontes al “weet” ons van beter.
Dit is selde dat ’n preek op ’n Sondag iemand se lewe radikaal verander. In die СКАЧАТЬ