Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout страница 2

Название: Woestynwysheid

Автор: Ronell Bezuidenhout

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796318213

isbn:

СКАЧАТЬ loop die pad deur die woestyn – soos wat dit vandag nog doen, al lyk ons woestyne net anders …

      Indeling

      Die meeste hoofstukke in die boek is rondom drie temas geskryf: ’n verduideliking van die spesifieke geloofsdissipline; my persoonlike dagboekinskrywings (wat jou eie nadenke moontlik sal stimuleer) en dan ’n bekendstelling aan ’n persoon wat daardie spesifieke geloofsgewoonte in sy of haar eie lewe geïntegreer het. Weer eens moet ek erken, ek sou voorbeelde van mense uit elke geloofstradisie kon neem, ook uit alle eeue en alle kulture, omdat hierdie geloofsgewoontes nie beperk is tot die Christendom nie. Dit is bloot as gevolg van my onkunde (en dalk geloofseenogigheid) dat ek nie so vertroud is met die rykdom van soveel ander mense se lewe, soos in die geval van die Christelike mistici nie.

      Aan die retraitegangers wat gewoonlik, veral as dit iemand se eerste stil-naweek is, die Vrydagaand tydens die bekendstellingsgesprek ’n huiwerigheid en onsekerheid uitspreek van “Ek weet nie wat maak ek eintlik hier nie”, maar dit die Sondagoggend by die afsluitingsgesprek opvolg met ’n “Iets het in my gebeur” – aan julle wil ek sê: Die ontdekkingsreis na Heelheid gaan steeds voort! Dit is nooit te laat om nuwe roetes te begin stap nie. Ook nie die woestynpad nie!

      Mag jou reis op hierdie pad van ontdekking jou ook by verwondering bring! Vir my bring dit daar. Sonder ophou.

      Ronell Bezuidenhout

      Randburg

      EEN

      Waarom, van alle moontlikhede, só?

      ’n Lewe vol teenstrydighede

      ’n Vreemde plek, dié plek wat ons ons aardse woning noem. Ons weet ons bly nie permanent op hierdie planeet nie, tog kies ons om ons lewe so in te rig dat dit die illusie van “vir altyd en altyd gelukkig saam” skep. Ons weet dat niks wat ons op hierdie aarde bymekaarmaak ons na die volgende lewe (waar dit ook al kan wees) kan vergesel nie, maar ons hou steeds ’n eienaardige en onversadigbare versamellus in stand.

      Vreemde spesie, hulle wat ons mense noem. Ons kan mateloos ontsteld raak oor plooie en pap spiere, tog kan ons by ons medemens met ’n opsigtelike probleem verbyleef sonder om ’n verdere gedagte oor hulle na te hou. Ons is uitgesproke krities oor ander mense en ander kulture, sonder dat ons ’n enkele aand al onder hul lakens geslaap het. Ons kan met diepe medemenslikheid die lot van vreemdelinge op ’n ander kontinent – ná ’n groot natuurramp – ons so aantrek, maar ons kan met ’n liefdelose ongevoeligheid van “hulle” praat wat net oorkant die heining van ons bly.

      Ons is vol uiterstes! Ons weet dat dit vir ons allernoodsaaklik is om ses of wat porsies vars groente en vrugte op ’n dag te eet, daarom sluk ons die beste vitamine-aanvullings uit die gesondheidswinkel se oorvol rakke saam met ons wegneemetes. Dit is goed vir ons gemoed om daagliks twintig minute sonlig te kry, tog kies ons om ure in neonverligte winkelsentrums te drentel. Ons beskou onsself as bevoorreg wanneer ons met sonsopkoms teen vyftien kilometer per uur in die wildtuin voortkruie, soekend na “lewe”, maar laat ons nou net – óók ’n vroegoggend, óók teen ’n uiterse slakkepas – in die stadsverkeer aansukkel met opsigtelike lewe om ons …

      Die meeste van ons leef ’n baie gewone lewe – sommige sal dit selfs as saai beskryf. Gebeur daar niks in ons lewe nie, voel ons vaal en vervelig. Doen ons te veel, voel ons oorstuur en buite beheer. Ons dink graag aan onsself as individualiste, tog meet die meeste van ons onsself (en mekaar) aan die standaard wat ander stel. Die meeste mense wat ek ken, is bolangs heel gelukkig, maar krap so bietjie aan die oppervlaklagie, dan is daar by baie ’n ontevredenheid. Ons wil graag ’n betekenisvolle lewe leef, maar ou leefpatrone is soms so gevestig dat ons aanhou wens dinge kon anders wees, sonder om die ongemak aan te durf van nuwe gewoontes aan te leer om sinvolheid te ervaar. Ons weet dat die lewe oor meer gaan as eet-en-drink-en-’n-lekker-tyd-hê, maar min sal dieselfde hoeveelheid energie aan “dieper dinge” bestee teenoor om die alledaagse bloot in stand te hou.

      Inderdaad ’n vreemde wêreld. Met nog vreemder mense wat daarop woon.

      ’n Soeke na … méér

      Sou dit waar wees dat mense se grootste potensiaal nie opgesluit is in hul intellektuele vermoëns nie, maar wel in hul verbeeldingskrag? Dalk is dit wat Richard Forster dan bedoel as hy in sy klassieke boekie, Celebration of Discipline, skryf dat die wêreld nie ’n behoefte aan slimmer of begaafder mense het nie. Daarvan is daar baie! Die wêreld het ’n dringende behoefte aan “dieper” mense. Ons wil graag vooruitgaan (en dit is waarvoor stewige dosisse intellek nodig is), maar vooruitgang is nie ons dringendste nood nie. Die wêreld se sug is – dringender en dringender – na verdieping. Om ’n vriend aan te haal: “Ons het genoeg kundigheid om baie staalbrûe in ons land te bou, maar ons kort kundiges om ons te help om die afgebreekte brûe tussen gemeenskappe te herstel.”

      Kyk ek om my dan weet ek dit is waar. Oppervlakkigheid is die strik waarin ons almal se enkels verstrengel raak; kitsbevrediging is die struikelblok waarteen ons met toe oë onsself nerfaf stamp. Kits-kos; kits-winkeldienste; kits-antwoorde; kits-verligting. Ons hou van vinnige, maklike, gerieflike, selfhelp-idees. Dit moenie te moeilik wees nie, want dan verloor ons belangstelling: “Tien maklike treetjies hemel toe” (Dit is nou as ’n mens nog aan die hemel glo, bygesê). Sukses moet gewaarborg wees, want deursettingsvermoë en geduld is nie juis ons sterk punt nie. Allermins blink ons in sukkel uit! “Eet wat jy wil en verloor gewig” is veel meer bemarkbaar aan ’n ek-wou-dit-gister-al-gehad-het verbruiker as “Verander jou leefstyl … langsamerhand … permanent.”

      Hoog vlieg! Hard leef!

      Tussendeur word ons gebombardeer met suikerlagie-beloftes van gemaklik, lekker, suksesvol, dinamies. Tog, daar is oral protesterende stemme wat ons waarsku dat hierdie leefstyl nie op die lange duur vir ons (en vir die wêreld waarin ons leef) volhoubaar is nie. ’n Leefstyl van selfgerigtheid en selfverryking hou sy eie ondergang in hom opgesluit. Wat ons vooruitgang noem, is subtiele ondergang. Iemand gaan die een of ander tyd die prys van ons selfgerigte leefstyl betaal – al is dit dan die geslagte ná ons wat swaar gaan dra aan “die sondes van vandag se vaders en moeders”.

      In my spreekkamer hoor ek mans én vroue, volwassenes én tieners, welaf én hulpbehoewend, gereeld sinne gebruik soos:

      “Dit voel asof ek myself nie ken nie.”;

      “Bolangs dink my kollegas ek is so kalm, maar as hulle net weet … ”;

      “My deurmekaar lewe is eintlik net ’n metafoor van my deurmekaar binneste.”;

      “Ek voel buite beheer.”

      Alles gaan eintlik oor ’n enkele sug: Daar moet tog méér wees aan die lewe as dít! Wanneer iemand met soveel klem daardie woordjie “dít” uitspreek, weet ons gewoonlik instinktief wat die persoon bedoel, al het ons nie dadelik ’n naam daarvoor nie. Ons almal ken die “dít”; ons almal kla daaroor. Iets … “dít” … is besig om, soos ’n parasiet, die lewe uit ons te suig. Wat die “méér as dit” moet wees, daaroor krap ons kop! Die wete dat ons nie die “méér as dit” het nie, laat ons met ’n leë, onvervulde gevoel. Ons voel verneuk. Iets skort en ons kan net nie ons vinger daarop plaas nie. Luister bietjie na hoeveel keer mense om jou hul ontvlugtingsbehoeftes verwoord: “Dalk moet ons platteland toe trek?” Kom mense op die platteland, dan sit “dít” hulle en inwag op die voorstoep. “As ek maar net ’n jaar kon afvat om by myself uit te kom.” Asof jy ooit van jouself af weg was om nou by jouself te moet uitkom?

СКАЧАТЬ