Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout страница 8

Название: Woestynwysheid

Автор: Ronell Bezuidenhout

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796318213

isbn:

СКАЧАТЬ die Heilige Gees gee die Seun Homself terug aan die vrygewige Vader as sy uitdrukking van dankbaarheid. Die drie-enige God is Gewer, Geskenk en Dankbaarheid (Steindl-Rast). Hierdie beweging vanuit die Vader in die Seun deur die Heilige Gees is wat Gregorius van Nissa genoem het “die rondte dans van die Heilige Triniteit”. Dít is hoe God saam bid: deur ’n dans.” 5

      Dit was dan wat die Ortodokse teoloë met perikoresis bedoel het: die dans van harmonie. Dit help ons om ons metaforiese trio – Petrus, Paulus en Johannes – beter te begryp. Dink aan die beeld van drie Kossakmanne, hul arms oor mekaar se skouers gehaak, en saam dans hulle, al tollend en tollend, totdat jy later net een bewegende geheel sien. Nie meer drie paar voete wat voor jou oë beweeg nie, net een. Die metafoor van Petrus en Paulus en Johannes moet saam ’n eenheid vorm en nie as drie onafhanklike metafore beskou word nie. Petrus, as die vorm, hou nie op om sy unieke bydrae te lewer nie; so ook nie Paulus, met sy klem op intellektuele inhoud nie; of Johannes, die mistiese, nie. Nie een probeer die kollig oorheers nie. Nie een se danspassies is belangriker of ingewikkelder as die ander twee s’n nie. Die eenheid is die dans. Die dans van die eenheid.

      Hierdie mense wat in die eerste eeue geleef het, het dit veel beter verstaan as ons. Dit is hoekom ons vandag, mense van die 21ste eeu, weer hierdie mense se lewe bestudeer. Hulle het iets van die volheid verstaan, die méér-van-die-lewe uitgeleef.

      Ons noem hulle die woestynmoeders en -vaders.

      In die volgende paar hoofstukke plaas ons die vergrootglas oor hul lewe. Wie was hierdie mense? Wat en hoe het hulle geglo en geleef dat hulle so ’n ryk erfenis vir ons nagelaat het? Waarom is hulle vir ons, mense wat eeue ná hulle leef, so ’n inspirasie? Wat het hulle gehad wat ons vandag na soek?

      Stoepkuiers

      Voordat ons die lewe en nalatenskap van ’n paar van ons geloofsvoorouers ontdek, wil ek jou herinner dat die bedoeling van hierdie boek nie is om as ’n gemaklike en vinnige leesboek gebruik te word, wat ná die tyd weer in die boekrak moet stof vergaar nie. Alle skrywers droom seker dat hul boek nou dié boek moet wees. Helaas, nee. Hierdie boek is nie dáárdie boek nie. Dit is ook nie bedoel om ’n “grote” te wees nie. Daar is waarskynlik min wat jy in hierdie boek gaan lees wat jy in elk geval nie dalk êrens al gelees het nie. Hoe jy hierdie boek gebruik, kan egter bepaal of daar enige betekenis vir jou lewe kan wees.

      Kom ek verduidelik dit uit my eie lewe. Ek is ’n passievolle leser. Ook ’n passievolle boekkoper. Om die waarheid te sê, ek het boeke op my rak wat ek – doelbewus – gekoop het met die gedagte dat ek wel eendag sal kans kry om dit te lees. Ek het soveel boeke wat halfpad gelees is, omdat daar altyd ’n nuwe een is wat meer uitnodigend lyk. So het ek eendag besef dat ek, ook wat my leesstyl betref, kniediep in die slaggat van ’n verbruikersmentaliteit getrap het. Ook mý versameling van inligting is net as ’n verbruiker. Die vraag waarmee ek lank moes worstel, is of my lewe enigsins anders lyk danksy al die boeke wat ek al gelees het? Of lees ek omdat dit interessant is en gaan dan net op die gewone manier voort met my lewe, asof ek nie gelees het nie?

      So het ek met my ritueel van “stoepkuiers” begin. Dit is wat ek my vroegoggende se meditasietyd noem. Dit is my tyd van lees, nadink en mediteer. Dit is die tyd waar ek my Johannes kans gee om my Petrus en my Paulus aan te vul.

      Ek wil jou nooi na my stoepkuiers: Dit is waar hierdie boek vorm aangeneem het. By die tafel op my stoep, met die kerse aangesteek, want menige oggend is dit nog donker wanneer ek gaan aanskuif saam met ’n skrywer van ’n boek; omring deur God, met ’n pen in my hand op my notaboek. So begin my dag.

      Trek vir jou ’n stoel nader. Ek laat jou lees aan sommige gedagtes waaroor ek in my lewe nadink. Dan word jy ’n getuie van my lewe en kan ons mekaar medeverantwoordelikes van ons lewensreis maak. Dalk word iets in jou wakker gemaak om met jou eie reis-na-binne te begin: die nadenke oor jou eie lewe; die soeke na jou eie diepgang.

2308.jpg

      Stoepkuiers

      Ek haal hier ’n paar dae se inskrywings aan, my nadenke oor wat ek geleer het by Kerkvader Irenaeus en die teoloog Walter Brueggemann.

      “God word verheerlik wanneer iemand werklik leef.”

      Koffie op die stoep, ongemaklik warm, selfs al is dit so vroeg in die oggend. Dit moet begin reën. Alles is droog.

      Ek dink deesdae baie oor wat ek by Brueggemann leer. Of ons nou wil of nie, ons word “geskryf”. Die kultuur waarin ons leef, skryf ons storie. Ons word soos die “dominante storie” wat ons geskryf het.

      Al wat die dominante storie kan uitdaag, skryf Brueggemann, is ’n alternatiewe storie.

      Wat sou die “oorspronklike storie” wees? Seker dat God ’n verhoudings-God wil wees. Net soos God, skep ons verhoudings om mee te leef. Ons manier en God se manier verskil egter. Ons skep vir ons stories om ons gebrokenheid te kamoefleer. Ons skep stories met ons eie reëls, ons vergeet van God s’n. Ons bou verhoudings om ons, ja, (omdat ons – as God se beeld – die vermoë daartoe het) maar ons verhoudings is mure, dit is nie deure nie. Ons het voorwaardes oor wie deel van daardie verhoudings mag wees.

      Wat is die voorwaardes wat ek stel in die verhoudings waaraan ek bou? Wie sluit ek uit? Op watter manier koop ek in op die “dominante storie”? Op watter manier daag ek die storie uit?

detail.jpg

      Ek kan nie slaap nie!

      Brueggemann hou my kop besig. Hy sê ons word soos die gemeenskap waarbinne ons leef. Wat ’n gedagte!

      Ek kyk na die voorblaaie van tydskrifte en dit ontnugter my. Ons bemark volmaaktheid. Ons is gefassineer met die ideale: plooiloos, jeugdig; vetloos; suksesvol, dinamies. Sien mens ooit op ’n interieur-tydskrif ’n shack? Gestremdheid word net op ’n voorblad van ’n tydskrif “gevier” as dit ’n Olimpiese “blade runner”-ster is. Andersins voel die meeste van ons te ongemaklik met gebrokenheid. Ons skep vir ons illusies van volmaaktheid – wat gewoonlik teen ’n asemsnakkende prys uit ’n botteltjie bemark word.

      Dit is die gemeenskap waarbinne ek leef. En hierdie gemeenskap het ’n invloed op my: Dit vorm my, so suutjies en subtiel dat ek dit nie eers agterkom nie. Wat nog van bevraagteken.

      Hoe ontmasker ons hierdie valsheid?

      Daar is veral een plek waar ons die “ideale” prentjie wil voorhou, dit is in ons geloof. Ons wil darem so graag die ideale en gelukkige prentjie voorhou; diepgelowige mense, en ons maak ons eie standaarde van wat ons as diep beskou. So sien ons nie kans om eerlik oor ons twyfel en ongeloof te gesels nie. Gemaskerdes. Êrens het ek gelees dat die woordjie vir persoon of persoonlikheid dieselfde woord in Latyn vir “masker” is. Toneelspelers het destyds maskers gedra. Nie veel anders as die meeste van ons nie. Ons neem verskillende rolle aan, na gelang van wat die situasie van ons vra.

      Mensig, dit is diep goed hierdie. СКАЧАТЬ