Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray страница 8

Название: Ena Murray Omnibus 39

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия: Ena Murray-omnibus

isbn: 9780624065289

isbn:

СКАЧАТЬ ondanks die goeie hoop en die stank – want met niks anders kan jy dit beskryf nie – kan duidelik gesien word dat die ontluiking hom geensins daardeur laat stopsit het nie. Die duiwelsmengsel het absoluut geen uitwerking gehad nie.

      “Ek wonder as ’n mens dit baie styf vasdraai ...” begin Bokkie met haar nuwe plan van aksie. “As dit nie ruimte het nie, kan dit mos nie groei nie. Jy weet, soos die Japannese vroue hul voete verbind om nie groot voete te hê nie.”

      “Dis nogal ’n idee. Ons sal dit Maandag op die proef stel. Môre moet ons mos gaan klere koop. Ou Huizeman kry ’n floute as sy op ’n spul verbande afkom.”

      Hulle oorleef darem die naweek met balletuitvoering en al, en teen Maandagoggend is tant An oortuig dat Broekies weer sy muis uitgedra het en op ’n wonderlike manier het die slegte reuk oor die naweek uit die klaskamer verdwyn.

      Maandagmiddag het hulle weer ’n ekstra naskoolse klas in klere opvou, en dis met verligting dat hulle hul leermeesteres sien gaan. Toe word die deur goed toegedruk en hul tweede poging kom in werking.

      Tokkie voel blou in die gesig toe Bokkie met haar klaar is. Sy kan kwalik asemhaal. Teen die volgende middag voel dit vir hulle hul longe sit soos ’n paar ekstra mangels in hul keel vas en weer is hulle verplig om deur hul monde asem te haal. Hulle begin ook bleek lyk en Henk begin oortuig raak dat daar wel iets met sy kinders se gesondheid skort. Hul monde bly oophang en hulle eet omtrent niks meer nie. Toe hy fyner kyk, sien hy dat hulle ook snaaks en stokkerig beweeg asof hulle ’n laaistok ingesluk het.

      Werklik bekommerd roep hy Estelle se hulp in. “Daar skort iets groots met die tweeling. Ek dink hulle moet maar dokter toe.”

      “Ja, ek het opgemerk dat hulle die afgelope paar dae beslis nie hul gewone self is nie. Ek sal hulle neem, as jy wil.”

      Dis eers toe juffrou Huizeman met hulle voor die dokter se spreekkamer stilhou dat hulle hond se gedagte kry.

      “Kom saam,” is die kortaf bevel en hulle kyk haar met groot oë aan.

      “Hoekom?”

      Sy draai na hulle en nou is daar geen teken van die soetsappige glimlaggie waarmee sy die tweeling gewoonlik wil versmoor, veral wanneer Henk in die nabyheid is nie. “Kyk, dis tyd dat ons mekaar goed verstaan. Wanneer ek julle ’n bevel gee, word daar nie gevra hoekom nie. Julle doen dit net. Verstaan? Julle het gans te lank jul eie besluite geneem. Van nou af neem ek dit. Verstaan julle dit ook? Dokter Gerber moet kyk of daar iets met julle skort, maar ek dink ek weet wat julle kortkom,” voeg sy dreigend by, en hulle moet haar maar gedwee volg.

      Teen die end moet hulle hulle maar uittrek, en gelukkig laat die ontvangsdame hulle alleen. Dis ’n groot verligting om van die stywe lakenrepe ontslae te raak. Bokkie kyk wanhopig rond, op soek na ’n plek waar hulle dit kan wegsteek. Ten einde raad word dit onder die een punt van die mat ingebondel en ’n stoel daaroor getrek, waar die skoonmaakster dit die volgende oggend sal kry en nie die vaagste benul sal hê wat die betekenis van die lakenstukke is nie.

      Toe hulle eindelik terug is in die motor, is die tweeling stil en is dit juffrou Estelle wat praat.

      “Kyk, dokter sê daar skort absoluut niks met julle nie. Nes ek natuurlik vermoed het. Julle wil net aandag trek. Nou wil ek julle vooraf waarsku. Ek gaan geen twak verder van julle verdra nie. As julle my dogtertjies is ...”

      Tokkie kan dit nie meer verdra nie. “Ons is nie juffrou se dogtertjies nie, en ons sal dit nooit raak nie.”

      Bokkie wens in stilte dat hul pa nou die gawe juffrou Estelle kan sien. Hy sal onmiddellik van sy derde wind afgaan as hy nou in daardie blitsende oë moet kyk.

      “Ek wil nie jou parmantigheid hê nie, dametjie. Jy praat nie weer so met my nie.” Haar glimlag is glad nie mooi vir die tweeling nie. “Moenie so seker wees nie. Ek kan dalk nog jul ma word en ... dan sal ons sien. Julle behoort in ’n kosskool gesit te word waar julle dissipline kan leer, en dit is presies wat gaan gebeur as ...”

      Sy swyg en met ’n laaste blitsende kyk skakel sy die motor aan. Die tweeling staar mekaar woordeloos aan. Hier is sommer ’n groot lollery aan die kom. Hul enigste hoop lê nou in SOEK EN VIND. Mag dit gebeur dat hulle gou sal vind, anders ...

      ’n Hele klompie kilometer van Jagershoek af is daar ’n ander soort krisis aan die gang.

      “As ek net iets kan kry, hoe gering ook al, waarin sy weer belangstelling sal toon,” laat Thelma Kirsten teenoor haar man hoor terwyl haar blik na buite dwaal waar ’n vrou, onder ’n reisdeken toegemaak, belangeloos oor die pragtige tuin sit en uitstaar.

      “Dit sal seker mettertyd regkom, my vrou,” laat Bert hoor. “Jy moet onthou dat sy ’n geweldige skok en ’n ontsaglike verlies gehad het. Dit sal tyd verg om weer die lewensdrade saam te vat en opnuut te begin lewe.”

      “Nogtans, Bert. Sy is darem nou al twee maande uit die hospitaal en die ongeluk het al vier maande gelede gebeur. Sy moes in hierdie tyd tog al besef het sy sal moet aanvaar wat gebeur het en alleen vorentoe stap. Haar absolute belangeloosheid begin my eintlik paniekerig maak. Ek is bang dat sy haar verstand nog gaan verloor.”

      “Ag nee, kom nou, my vrou. Daarvoor is Lara ’n te intelligente en gebalanseerde mens. Hou maar moed. Op ’n dag gaan daar iets gebeur wat haar weer nuwe belangstelling in die lewe sal gee.”

      Sy vrou sug. “Ek hoop jy is reg, Bert. Ek hoop van harte jy is reg en dat dit gou sal gebeur.” Sy tel ’n pak tydskrifte op. “Dis ’n klomp tydskrifte wat Lenie hier aangebring het. Ek sal dit vir haar gaan gee. Miskien blaai sy darem daarin.”

      “Ja. Ek moet gaan. Ek gaan laat wees vir die vergadering. Tot siens, skat.”

      Thelma kyk haar man agterna, en dan dwaal haar blik weer terug na die vrou in die tuinstoel. Haar oë verteder. Hoe sou sy gereageer het as sy Bert en die kinders op een dag, in een aaklige oomblik, verloor het? Sou sy die moed en die geloof gehad het om weer die lewe aan te pak ... alleen?

      Sy sug weer saggies en stap dan uit. “Hier is ’n paar tydskrifte om te lees, sus. Kan ek nie vir jou nog ’n koppie tee bring nie?”

      Die bleek gesig draai skaars na haar, die oë leeg, amper leweloos.

      “Nee, dankie.”

      “Nou maar goed. Ek gaan net gou na die kos kyk. Hier.” Sy sit die tydskrifte op haar skoonsuster se skoot neer en sien hoe sy dit belangeloos optel.

      Sy bid byna hardop toe sy terug in die kombuis is. Iets, iets moet gebeur wat Lara weer belangstelling in die lewe sal gee. Sy kan nie so voortgaan nie. Elke dag is haar blik net na binne gekeer, lewe sy alleen in ’n wêreld van herinnering en smart. Hulle wat haar liefhet, doen enigiets om dit vir haar makliker te maak, maar dis of alles, die hele lewe, ver buite haar verbystroom. Sy is net nie meer deel daarvan nie.

      En buite, op die stoep, neem die bewende vingers die boonste tydskrif op, maar haar oë sien nie eens watter tydskrif dit is nie. Ook sy bid, bid met woordelose, stom lippe. Ook in haar lê die besef hier diep binne waar dit so dood en gevoelloos geword het: sy kan nie so voortgaan nie. Die een of ander dag sal sy moet opstaan, weer moet begin lewe. Want dis Daan en die tweeling wat op slag dood is. Sy lewe nog. Sy het alleen agtergebly ... en sy sal alleen moet voortlewe ... Die een of ander dag ... maar nie vandag nie. Nog nie vandag nie! Sy het nog nie die moed en die krag om alleen verder te stap nie. Sy wil nog net vandag sit en staar ... en staar ... Nog net vandag die lewe buite haar sien verbystroom СКАЧАТЬ