Название: Ena Murray Omnibus 39
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
Серия: Ena Murray-omnibus
isbn: 9780624065289
isbn:
Tant An het ook intussen haar stories oor die radio klaar geluister en sy en tant Sofie, haar buurvrou, staan sommer oor die draad tussen die twee erwe en gesels.
“Nee, mens, ek sê jou, ek weet self nie van wanneer af dié vryery aan die gang is nie. Sy is net so geheimsinnig. Laat niks blyk nie. En Henk het natuurlik die tweeling die dood voor oë gesweer as hulle hieroor uit hul beurt praat. Maar dat sy darem ’n agtermekaar vrou is, is seker. Henk is self ’n agtermekaar man, maar hy kan sy ou skoene agternagooi om haar te kry. En so ’n liewe mens! Nee, vrou, ek weet glad nie wanneer die trouery sal plaasvind nie, maar seker darem nie meer oor lank nie. Hy praat al ’n hele rukkie in daardie rigting, maar ek wis mos niks van hierdie vrou af nie. Dog hy praat van juffrou Huizeman.”
“Maar, An, vir wat sal die man dan nooit eens haar naam vir jou genoem het nie? As sy dan so ’n pragtige mens is, hoekom wou hy haar half wegsteek, soos dit lyk?”
“Ag, Sofie, moet nou nie weer stertjies aansit nie! Hoekom sou hy haar wou wegsteek? Jy is laf. Elke man sal trots wees om Lara as nooi te hê. Nee, man, dis maar nes Henk is. So ken ek hom al die jare wat ek hier by hulle bly. Praat mos nie. Hy is mos nie ’n man wat met sy hart op sy mou rondloop nie. Nee. Hou maar alles diep binne homself.”
“Ja, dis waar. Ek onthou nog soos die dag van gister hoe hy daar langs sy oorle vrou se ope graf gestaan het. Doodstil en wasbleek. Foei tog, ek is bly hy het nou weer ’n lewensmaat gekry. Die twee arme wesies sal nou ook weer ’n ma hê.”
So gaan die gesels die hele dorp deur en almal stem heelhartig met tant Sofie saam: dis goed dat Henk Beukes weer ’n lewensmaat gaan kry, en die twee wesies ’n ma.
Toe hulle tuis kom, keer Lara die tweeling in hul slaapkamer vas. Daar is ’n ligte fronsie tussen haar wenkbroue.
“Ek wil net graag duidelikheid oor ’n sekere puntjie kry, julle twee. Mevrou Van Wyk het vir my iets snaaks kwytgeraak. Wat het sy bedoel dat juffrou Huizeman al maande lank probeer om van julle iets te maak? Wat presies is juffrou Huizeman van julle?”
“Ons klasonderwyseres, tannie. Ons het mos ...”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Is sy en jul pa baie goed bevriend?”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.