Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer страница 14

Название: Elza Rademeyer Omnibus 6

Автор: Elza Rademeyer

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624057895

isbn:

СКАЧАТЬ Roelfie, jou pa het nooit vir my gesê jy is so ’n uitgegroeide lummel nie! Ek dag jy’s sommer nog so ’n opgeskote ou seuntjie!”

      “Wie is u?” wou hy verbaas ná die klapsoen en verwysing na sy pa weet.

      “Ek is jou oorle pa se halfsuster, tant Betta.” Sy’t so ’n slag om haar rondgekyk, die sweet van haar gesig met ’n sakdoek afgevee en hom summier beveel om die wagtende taxi-man te betaal en haar tasse die huis in te dra. “Ek loop solank binnetoe, want hier op die stoep gaan die son my harsings tot kaiings brand. As jy klaar my tasse gebêre het, kan jy vir ons koeldrank ingooi en dit sitkamer toe bring sodat ons kan gesels.”

      ’n Glimlaggie plooi om Rudolf se mond toe hy aan daardie dag terugdink. Hy het gedink sy pa se halfsuster het net kom kuier. Dit was eers so ’n dag of wat later dat hy agtergekom het sy het gekom om te bly omdat dit sy pa se wens was en so in sy testament staan.

      In die begin het dit maar gelol. Sy het sommer die heel eerste dag vir sy vriende vertel hulle is ’n klomp leeglêers en lieplappers en hulle summier van die werf af verjaag. Hy moes sy voet hard neersit voordat dit tot haar deurgedring het dat hý die baas van die huis is en dat sy geen seggenskap oor hom of sy vriende se doen en late het nie.

      Oom Hansie bring skielik sy rolstoel in beweging hier langs Rudolf. “Sal ons nie die bal so ’n bietjie vir mekaar rondgooi nie?”

      Rudolf sien nou eers die bal wat oom Hansie op sy skoot vashou. “Sal ek dit regkry om raak te vang? Sal my rolstoel nie omslaan nie?”

      “Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie,” sê oom Hansie. “Hier kom hy, vang!”

      En toe is daar nie meer tyd om te dink of te wonder nie. Rudolf moet net gryp en gooi, gryp en gooi . . .

      Op die Van Zyls se plaas in die Worcester-distrik pak suster Jo haar tasse met ’n gevoel van afwesigheid in die motor om terug te keer Kaap toe. Daar is trane in haar oë toe sy haar seuntjie soen en styf teen haar vasdruk. Toe klim sy in haar motor om weg te ry sonder om in Darius of Sanet se rigting te kyk.

      Eers toe sy die teerpad bereik, spuug sy die woord by haar mond uit: “Verraaiers!”

      Maar dit bring nie verligting nie. Niks kan verligting bring as iemand deur afpersing jou kind van jou af wil wegvat nie. Trane dreig weer eens om haar te verblind en sy vee dit met ’n ongeduldige gebaar weg. Haar beste, dierbare, goeie vriende het in verraaiers ontaard! Hulle wil klein Anton vir hulself vat. Hulle verwag sy moet hom weggee soos ’n sleg hond sy kleintjie sal weggooi sodat hulle hom wettig hul eie kan maak! Hoe kan sy so iets doen?

      Sy ry roekeloos vinnig van woede en frustrasie. Nóú weet sy waarom Darius en Sanet so teenoor haar verander het! Hulle het daardie tyd toe sy Anton op die plaas gaan oplaai het om Durban toe te gaan al geweet hulle gaan haar emosioneel afpers. ’n Plan wat natuurlik by hulle opgekom het toe hulle die berigte oor Rudolf Mulder se ongeluk gelees het! Daarom dat hulle nou dreig om hom in te lig oor Anton se bestaan as sy weier om hom vir aanneming beskikbaar te stel.

      Wat moet sy doen? wonder suster Jo beangs. Sy twyfel nie een oomblik daaraan dat Darius sy dreigement sal uitvoer as sy weier om Anton aan hulle af te staan nie.

      Binne-in die Du Toitskloof-tonnel word haar woede plotseling deur hartseer verdring. Hartseer oor die verraad van die mense vir wie sy so lief was en wat sy nog altyd as haar beste vriende beskou het.

      Sy hoor haarself hardop snik en skrik. Sy durf nie nou huil nie. Agter haar ry motors. Sy kom agter sy is besig om teen ’n slakkepas te kruip en ry ’n bietjie vinniger. Toe sy weer in die daglig kom, slaak sy ’n suggie. Maar dit is nie van verligting nie. Daar is geen gevoel in haar nie. Net ’n matelose verlatenheid.

      By ’n stilhouplekkie trek sy haar motor van die pad af. Sy staar voor haar uit. Hoe sal dit voel as sy die motor se handrem losmaak en oor die afgrond verdwyn? As sy dood is, sal Darius en Sanet gelukkig wees. En Rudolf Mulder sal verseker nooit weet dat daar in die wêreld ’n kind is van wie hy die pa is nie.

      6

      Dokter Bertus Simpson is op pad terug van sy ouerhuis op Swellendam toe hy skielik rem trap en in sy motor se truspieëltjie kyk. Hy sal sy kop op ’n blok sit dit is suster Jo se motor hier agter hom langs die pad. Hy skakel sy motor se noodligte aan en ry vinnig agteruit tot regoor haar venster. Maar haar hare hang los sodat hy nie haar gesig kan sien nie.

      Hy ry nog ’n entjie terug en hou dan agter haar stil. Maar toe hy haar venster nader, sien hy met ’n ligte skokkie dat sy huil. Snaaks, flits dit deur sy gedagtes, hy het nooit gedink sy is die huilerige soort nie. Iets drasties moes gebeur het. Sou haar motor gebreek het?

      Hy voel onseker oor wat hy moet doen. Hy weet instinktief sy gaan nie daarvan hou dat iemand haar sien huil nie. Maar los kan hy haar tog nie, sy het dalk hulp met haar motor nodig.

      Haar hare swiep soos sy haar kop swaai toe hy aan die venster klop. Sy staar hom ’n paar oomblikke lank oorbluf aan. Toe sien hy hoe sy sluk en haastig met haar mou oor haar traanbenatte oë vee voordat sy half traag die venster oopmaak.

      “Het jy probleme, Jo?” vra dokter Simpson simpatiek.

      “Pro- . . . probleme? Nee, watse probleme sal ek hê?”

      “Ek het gewonder of jou motor dalk onklaar geraak het.”

      “Nee, my motor . . . Ek het sommer ’n entjie gery . . . toe hou ek hier stil.”

      Sy opwagting blyk ongewens te wees, dink dokter Simpson, maar durf hy haar los en wegry? As hy net kon weet waaroor sy huil. As dit oor ’n man is . . . Hy weet so min van haar af.

      “Het jy nie vir my gesê jy sou tot vanmiddag by jou vriende op Worcester gaan kuier het nie?”

      “Ja, ek . . . sou, maar hulle . . . Ek kom eintlik nou van hulle af. Ek bedoel, ek is nou op pad terug huis toe, want hulle moes skielik Transvaal toe vertrek. My vriendin se ma het ernstig siek geword,” dis sy onsamehangend ’n noodleuen op.

      “Is jy seker alles is wel?” vra dokter Simpson. “Moet ek nie maar agter jou ry tot by jou huis nie?”

      Suster Jo snuit haar neus en wonder hoekom hy haar so deurdringend aankyk. Weet hy sy lieg? “Nee, dis glad nie nodig dat dokter agter my ry nie,” verras sy hom plotseling met ’n glimlag. “Dié dat ek gehuil het, dit was sommer oor ’n boek wat ek gesit en lees het. So ’n ou hartseer storietjie. Ons vroumense raak mos maar partykeer so verspot.”

      Hy weet sy jok vir hom. Daar is nêrens ’n boek of tyd­skrif in haar motor te bespeur nie. En ’n mens skrik in elk geval nie jou asem weg as iemand jou betrap dat jy oor ’n storie sit en huil nie. Maar sy laat hom geen keuse as om te maak of hy haar glo nie.

      ’n Oomblik kom daar ’n begeerte by hom op om haar wang aan te raak, maar hy onderdruk die drang vinnig. Sy is nie die soort meisie met wie jy sulke dinge waag nie.

      “Staan ons afspraak vir die vleisbraaiery by my oom nog?” vra hy.

      “Ja . . . natuurlik. Ek sal sorg dat ek seweuur gereed is wanneer jy my kom oplaai. En baie dankie dat jy stilgehou het.”

      Sy wag totdat hy klaar weggetrek het voordat sy haar motor aanskakel. Hoekom het sy nie nou die kans aangegryp en vir hom gesê sy kan nie meer saam met hom gaan nie? dink sy spytig. Sy kon gesê het sy is ontsteld oor haar vriendin se ma se siekte of СКАЧАТЬ