Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer страница 18

Название: Elza Rademeyer Omnibus 6

Автор: Elza Rademeyer

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624057895

isbn:

СКАЧАТЬ van die arbeidsterapeute kom hy agter dat die lewe ook voortgaan vir diegene wat feitlik al hul lewensfunksies verloor het. Sy medepasiënte se humorsin en spitsvondige sêgoed verstom hom. Hy het te lank in sy eie kokon van verbittering en selfbejammering toegespin gebly, is die slotsom waartoe hy kom toe hulle terugkeer saal toe. Sy medepasiënte is nie anders as hy nie. Hulle het ook groot toekomsdrome gehad waarvan hulle skielik ontneem is. Hulle koester dieselfde vrees vir die toekoms as hy, maar hul wil om iets van hul menswaardigheid terug te win, maak hulle anders. Dit gee aan hulle lewensvreugde en, ja, ook diepte. Nie een van daardie gestremde persone wat saam met hom die werkersklas bygewoon het, sal ooit weer oppervlakkig na die lewe kyk nie.

      Die middag toe Julia by hom besoek kom aflê, betrap ook sy hom met die Bybel in die hand.

      “Het jy nou ’n Christen geword?” vra sy met bedekte spot.

      “Ja,” sê Rudolf onomwonde. “Of laat ek dit só stel, ek is op pad om ’n Christen te word. Miskien weet ek nog te min van Christenskap om myself ’n volwaardige Christen te noem, maar ek hoop ek kan binnekort, want ek leer vinnig.”

      Die erns op sy gesig oortuig haar dat daar wel ’n inkeer in sy lewe plaasgevind het. Dit neem die wind uit haar seile, want sy hou nie van ernstige dinge nie. Sy vertoef dus nie lank nie, want sy voel ongemaklik in sy teenwoordigheid. Dit is asof hulle skielik niks vir mekaar te sê het nie.

      Maar op pad terug huis toe oordink sy die saak. Om Rudolf prys te gee net omdat hy skielik tot bekering gekom het, kan haar tot nadeel strek. Sy het reeds nie meer ’n werk nie, sy moes haar woonstel prysgee, sy moet haar skuldeisers ontduik, en die bietjie oorblywende spaargeld is boomskraap. Nee, sy kan nie vir Rudolf Mulder prysgee nie. Inteendeel, sy sal vinnig ’n plan moet maak om mevrou Mulder te word, want anders is sy werklik in die pekel! Daar is niemand anders wat haar nou kan help nie. Haar ouers is dood en die man wie se minnares sy soveel jare lank was, het haar tog op die ou einde verwerp om terug te keer na sy vrou en kinders.

      Dokter Bertus Simpson aarsel toe hy op pad hospitaal toe deur Pinelands ry. Dan draai hy tog af in die straat na suster Jo se huis. Sy ken hom mos al goed genoeg om te weet van sy voortdurende koffielus, dink hy met ’n skelm laggie.

      Suster Jo is meer verbaas as verras om hom te sien. Sy trek ietwat senuweeagtig aan haar ou huisdra-rokkie en verwens haarself omdat sy so gedraai het en nog nie haar diensuniform aangetrek het nie. Sy voel gestroop van haar waardigheid.

      Sy voel egter meer op haar gemak toe hy vir haar sê sy lus vir koffie het hom laat besluit om by haar in te loer. En terwyl sy die koppies op ’n skinkbord sit, loer sy vlugtig na Anton se geraamde foto teen die muur, dankbaar dat sy dit van die sitkamer na die kombuis verskuif het.

      Dokter Simpson merk dat die geraamde foto weg is van die sitkamermuur. Om homself te oortuig dat die lawwe idee dat dit dalk haar eie kind kan wees sommer onsin is, vra hy haar na die foto toe sy weer die sitkamer binne­kom.

      “O, dit . . . e . . . is weggeneem. Ek het dit vir ’n verandering in my slaapkamer opgehang,” stamel suster Jo onkant betrap en baie bewus daarvan dat hy intens na haar kyk. En om te verhoed dat hy haar verder uitvra, verander sy vinnig die gesprek deur hom na een van die nuwe pasiënte se siektetoestand uit te vra.

      Haar antwoord oortuig hom nie. Hy is nou nog sekerder as die vorige keer dat daar iets geheimsinnigs agter die foto skuil. Sy sou tog nie bloos en hakkel oor die verskuiwing van ’n doodonskuldige foto nie.

      Toe hy opstaan om te ry, slaak suster Jo innerlik ’n suggie van verligting, want sy’t agtergekom sy oë bly dwaal na die kaal kol teen die muur waar die portret gehang het. Dalk weet hy sy het vir hom gejok. Hoe gouer hy ry, hoe skraler die moontlikheid dat hy haar weer kan begin uitvra.

      Buite op die stoep talm hy. “Jo, sal jy volgende week weer een aand saam met my uitgaan? Moenie sommer nee sê nie.”

      Die afwagting op sy gesig maak dat sy nie summier kan weier nie. Dus laat sy hom daar wegry met die vae belofte van: “Ons kyk maar eers hoe my diensrooster lyk.”

      Hy ry stadig hospitaal toe en oordink sy kuiertjie by haar. Iets omtrent daardie foto is nie pluis nie. Die kind op die foto lyk boonop na haar. Of is dit maar net die donker hare van die kind wat maak dat hy hom allerhande dinge verbeel?

      Hy doen eers ’n ondersoek op oom Thysie toe hy in saal B4 kom, en gesels daarna ’n rukkie met Rudolf. Maar deurentyd bly die raaisel omtrent die foto in sy onderbewussyn. Selfs die kuiltjie in Rudolf se ken en sy donker oë herinner hom aan die foto wat in suster Jo se sitkamer gehang het.

      En by haar huis is suster Jo reeds op pad na haar motor om hospitaal toe te ry, toe haar telefoon lui. Die oomblik toe sy hoor dit is Darius, verwens sy haarself dat sy die gelui nie geïgnoreer het nie, want hy wil onomwonde weet of sy al die nodige vorms vir Anton se aanneming ingevul het.

      “Nog nie, ons is baie besig by die hospitaal,” probeer sy tyd wen.

      “Die sperdatum kom vinnig nader, jy weet, nè?”

      As Darius klink soos hy nou klink, sal pleit of soebat nie help nie, flits dit deur haar gedagtes. “Ja, ek besef dit,” sê sy dus gelate. “Ek sal kyk of ek môre daarby kan uitkom.”

      “Moenie draai nie. Ek en Sanet raak nou haastig om dinge agter die rug te kry.”

      Toe hy sonder omhaal die verbinding verbreek, bewe sy van kop tot tone van ontsteltenis. Daar bly vir haar net een uitweg oor, besluit sy dan. Sy sal Anton soos ’n skelm ongemerk op die plaas moet gaan haal en stilletjies verdwyn. Maar waarheen? En hoe ver gaan hulle met haar spaargeldjies kom?

      Oom Thysie se weggesonke ogies mis niks nie. Toe suster Jo die aand langs sy bed kom staan om te groet, wil hy dadelik weet wat skort. “Jy is baie bleek. Jy word dan by die dag maerder, my kind.”

      “Ag, oom verbeel jou sommer. Ek makeer regtig niks nie!”

      Haar en oom Thysie se gesprek lei daartoe dat Rudolf ook met meer aandag na haar kyk toe sy hom kom groet. “Oom Thysie het reg,” sê hy. “Jy lyk moeg, soos iemand wat al sy sprankel verloor het. Wat skort?” En nie in sy wildste drome verwag hy die uitbarsting waartoe sy vraag lei nie!

      “Jý het nog die vermetelheid om te sê ek het my sprankel verloor!” sis sy haar ontsteltenis uit. “Natuurlik het ek my sprankel verloor! Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . .” Sy besef plotseling wat sy kwytraak en vlieg kortom om tot Rudolf se verstomming haastig die saal te verlaat.

      In die linnekamer ruk suster Jo tot stilstand. Wat het haar besiel! Sy stamp hard met haar kop teen een van die rakke van skone ergernis omdat sy haar nie kon beteuel nie. Maar deur haar ergernis heen begin die trane ook vloei en sy kry dit om die dood nie gestop nie. Hoe meer sy probeer om op te hou huil, hoe vinniger vloei die trane. Toe gee sy haar maar oor en huil haar hart uit – oor die dilemma waarin sy verkeer; oor Rudolf Mulder nie eens kan onthou dat hy haar ses jaar gelede geken het nie; oor dokter Simpson haar nie wil uitlos nie; oor sy nie genoeg geld het om uit die land te vlug met haar kind nie; en les bes, oor sy so bitter alleen op die aarde voel.

      Rudolf lê lank en peins oor die woorde wat sy hom toegesnou het. Dit het so beskuldigend geklink, asof sy wou beweer dis sy skuld dat sy haar sprankel verloor het! Wat wou sy sê van ses jaar gelede, wonder hy. Ses jaar gelede . . .

      Ses jaar gelede was hy dan in Amerika. Sou hy dalk iemand na aan haar te na gekom het? Watter kant toe hy ook al dink, haar hewige aanval op hom bly ’n raaisel. Maar in sy geestesoog sien hy weer daardie twee vuurspuwende groen oë van haar, herinner dit hom aan die droom wat hy СКАЧАТЬ