Название: Susanna M Lingua Gunstelinge 2
Автор: Susanna M. Lingua
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624057369
isbn:
“Ek het nie jou ellendige skaap opsetlik raak gery nie, Wouter Fouché!” val sy hom driftig in die rede. “Ek weet ook nie waarom jy so ’n kabaal opskop oor so ’n liederlike dierasie nie. Die ding se neus is so verplooi, dit lyk kompleet of hy ’n honderd jaar oud is. ’n Skaap is ook glad nie so ’n vreeslike duur ding nie. As hierdie een die gees gee, sal ek vir jou ’n ander een in sy plek koop.”
“Vir daardie ram wat jy ’n liederlike dierasie noem, het ek ’n yslike klomp geld betaal . . .”
“Is dit my skuld dat jy so onnosel is om ’n yslike klomp geld vir ’n simpel skaap te betaal? Gits, in Johannesburg betaal ons glad nie so baie vir ’n halwe skaap nie . . .”
Die mans lag hartlik en Lecia swyg verleë, maar sy kyk hulle hooghartig aan. Sy sien geen grap in die hele onsmaaklike affêre nie.
“Hoe lyk dit, dokter?” vra Wouter.
“Die ram is gelukkig nie ernstig beseer nie, en daar is ook geen bene gebreek nie,” sê Frans le Roux. “Jy kan hom oor ’n dag of twee kom haal. Ek sal maar eers die hond binnetoe neem.”
Verligting spoel soos ’n golf oor Lecia. Sy kry dit selfs reg om te glimlag toe sy sê: “Wel, noudat Wouter se skapie nie meer op die gevaarlys is nie, gaan ek ’n restaurant soek wat ordentlike koffie –”
“Jy gaan nêrens heen nie, jou klein gifangel, jy bly net hier,” val Wouter haar streng in die rede. “As jy dink ek gaan jou toelaat om hier op die dorp moleste te maak, wag daar ’n groot ontnugtering op jou. Jy bly hier waar ek ’n oog oor jou kan hou.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Kom, ek wil gaan kyk of die winkel hier langsaan al my ploegskare gekry het.”
“Wat, noem jy hierdie smouserasie ’n winkel?” Sy kyk Wouter verbaas aan.
“Ek glo nie meneer Lavinsky sal daarvan hou dat jy sy winkel ’n smouserasie noem nie,” tik Wouter haar streng op die vingers. “Dis die enigste winkel op Dennevlei waar ’n mens plaasbenodigdhede kan koop.”
“Wel, vir my lyk dit nie soos ’n winkel nie. Trouens, ek het nog nooit in Johannesburg so ’n . . . ’n winkel gesien nie. Al daardie droë velle op die stoep wat so opeengestapel is, sakke vol goed, hoenders in hokkies en die joos weet wat nog alles. Dis maar ’n bont spul . . .”
“Kom, jy is gans te puntenerig,” maak hy haar ongeërg stil. “As jy dors is, kan jy ’n koeldrank hier in die winkel drink.”
Lecia kyk hom onthuts aan en gee ’n tree van hom af weg. “Jy moet van jou wysie af wees as jy dink ek sal iets in daardie . . . daardie smerige plek drink. Ek gaan nou ’n koppie koffie in ’n ordentlike restaurant geniet, en jy kan na jou peetjie gaan as jy nie daarvan hou nie. Ek laat my nie van jou of enigiemand anders voorskryf nie –”
“Bly stil, rissie, hier kom dominee Snyders aan,” sê Wouter onderlangs met ’n kwaai frons.
Maar Lecia het nou heeltemal genoeg van Wouter se gramskap en oorheersing gehad.
“Na die duiwel met jou en die predikant,” snou sy hom onthuts toe. Sy draai om en stap met ’n hooghartige houding weg, onbewus daarvan dat die predikant haar kwaai woorde gehoor het.
Daar speel ’n geamuseerde glimlaggie om die ouerige man se mond toe hy die groep mans groet. Hy verneem belangstellend na almal se gesondheid en vervolg dan met ’n breë glimlag: “Wie is die dametjie wat jou en my so pas na die duiwel gestuur het, Wouter?”
“Dominee, ek is seker u kan raai wie sy is,” glimlag Wouter terug. “Herinner daardie rooi hare en groen oë u nie aan ’n baie bekende persoon nie?”
“Dis waar, sy lyk op ’n haar na wyle Isak Brank,” lag die ander man goedig. “Is sy . . .?”
“Sy lýk nie net soos oom Isak nie, dominee, sy áárd ook na hom,” lig Wouter hom met ’n ondeunde glimlaggie in. “Oom Isak was haar oom. Ek dink ek moet liewer nou gaan kyk waar daardie klein rooikop haar bevind en wat sy aanvang. Ek het al agtergekom: as sy nie moeilikheid soek nie, soek die moeilikheid háár. Dus sê ek dan maar tot siens, dominee.”
’n Kort stilte heers tussen die groepie daar op die sypaadjie, toe sê Ben Viljoen: “Ek dink Wouter gaan daardie rooikop tem.”
“Wat, ’n Brank tem?” kom dit van Kas Groenewald. “Nee, Ben, ek glo nie daar is ’n man wat daardie rooikop sal kan tem nie. Die Branks van Blouberg was nog altyd ontembaar.”
“Ek is geneig om met Ben saam te stem,” sê Andries Kleinhans. “Wouter is feitlik self ’n Brank, en net ’n Brank sal weet hoe om ’n ander Brank te tem . . . Nee, ek dink daardie rooikop gaan haar moses in Wouter teëkom.”
Onderwyl die groep mans oor die jongste en laaste lid van die Branks van Blouberg bespiegel, tref Wouter haar in die dorp se enigste restaurant aan. Hy kom langs haar staan en vra sag: “Het jy al vir jou iets te drinke bestel, kleinding?”
Sy kyk hom behoedsaam aan, maar merk dadelik op dat hy nou weer in ’n gemoedelike stemming verkeer.
“Nee,” sê sy vriendelik, “ek het nog geen kelner met ’n oog gesien nie. Die bediening in hierdie plek is maar swak . . .”
“Ek sal ons bestelling by die toonbank gaan plaas,” sê hy voordat sy nog meer kritiek oor die plek en sy bediening kan kwytraak. Hy ken die Branks as uitgesproke mense wat nie altyd omgee of hulle ander mense te na kom nie, en as hy dit kan verhelp, sal Lecia nie in die voetspoor van haar voorvaders volg nie. Sy is so ’n aantreklike en aangename meisie – hy sal graag wil hê dat sy deur die gemeenskap bemin word vir haarself en nie vir haar posisie as mede-eienaar van Blouberg nie.
Terwyl Wouter hul bestelling plaas, beskou Lecia hom met goedkeuring. Hy is vir haar die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy kyk na die keurige snit van die grys langbroek wat hy aanhet, die wit hemp, mooi das en netjiese swart skoene. Dan wonder sy waarom hy op vier en dertigjarige leeftyd nog ongetroud is. Hy is so vervlaks aantreklik . . . Sy wonder wie die meisie is wat sy hart in die holte van haar hand hou.
Toe Wouter van die toonbank af wegdraai, kyk Lecia haastig weg. Sy wil nie hê hy moet weet dat sy na hom gesit en kyk het nie. Hy is gans te skerpsinnig na haar sin.
Wouter neem teenoor haar plaas. Hy kyk haar ernstig aan en sê bedaard: “Jy het my nog nie vertel hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Ek bedoel nou, toe jy daardie duur stoetram van my raak gery het.”
“Wouter, dit was regtig nie my skuld nie. Ek het dit ook nie opsetlik gedoen nie –”
“Jy het dit al gesê, en ek glo jou, Lecia,” val hy haar gerusstellend in die rede. “Ek glo dat jy my enigiets sal aandoen, maar ek glo nie dat jy vir my leuens sal vertel om jouself te regverdig nie.”
“Dankie, Wouter, dit is nie my gewoonte om agter leuens te skuil nie. Laat ek jou vertel wat gebeur het . . .” Sy vertel hom hoe die ongeluk plaasgevind het en sluit met ’n ongelukkige uitdrukking in haar oë af: “Ek weet werklik nie waarom hierdie dinge nou juis met my moet gebeur nie. Jy het gelyk – as dit so aangaan, sal ek jou heeltemal uitroei en . . . Wel, ek wil nie graag hê dat so iets met jou moet gebeur nie. Dan sal dit veel beter wees dat ek jou liewer in vrede СКАЧАТЬ