Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 14

Название: Fees van die ongenooides

Автор: PG du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624052616

isbn:

СКАЧАТЬ Toe sy so sing, het daar trane in haar oë gekom en Joey Drew kon nie trane in die wonder van haar oë verduur nie. Hy het haar gestop en getroos en vir die eerste keer in jare ’n mens vasgehou. Al was dit maar ’n klein bietjie mens.

      Soms het hulle gesit en gesels soos twee ou mense – al te doof om mekaar te verstaan – wat maar elkeen op sy eie met die gesprek voortgaan en sommer praat vir die pret daarvan. Kamaliel, met gebare, lag en vrae.

      Ander kere het hulle vir mekaar woorde geleer. Hulle was aangewese op die voorwerpe in hulle onmiddellike omgewing en het tweetalig geraak oor dinge soos klip, stok, muur, boom en hoendermis. Dit was al, tot Fienatjie agtergekom het jy kan die werkwoorde voorspeel. Dit was lekker.

      Joey het vir haar ’n staalkam vir haar hare gebring, maar toe hy sien dat al die Minters skielik netjieser lyk, het hy, effens jaloers, ’n bliktrommeltjie uit Hans Bester se nalatenskap vir haar gegee. Hulle het die trommeltjie onder ’n klip teen die rantjie weggesteek. Al die skatte wat hy vir haar gebring het, is daarin bewaar: knope, ’n naald, ’n sakdoek, ’n kopergespe, twee muntstukke en ander waardevolle dinge. Dit was Fienatjie se rykste tyd, en Joey Drew se gelukkigste.

      Net een keer het sy nie alleen hoenderhok toe gekom nie. Sy het ’n tolk nodig gehad en by Gertruida gaan soebat dat sy asseblief vir die Engelsman moet kom sê wat sy besig is om oor hom te droom. Gertruida het maar uit nuuskierigheid saamgestap en tolk gespeel.

      Fienatjie, moes Joey hoor, het gedroom dat hy tannie Magrieta baie keer gaan afneem en vir haar, Fienatjie, twee keer, en nog een keer ampertjies.

      Joey het vir Magrieta weer en weer afgeneem oor sy so mooi was, en vir Fienatjie wou hy afneem oor sy die wonder in haar oë gehad het. Joey het die volgende dag al vir Magrieta gevra of hy haar asseblief mag afneem – gratis, oor haar skoonheid. Sy het met Daantjie oor die voorstel gepraat en hy het dadelik gemaak of die afnemery eintlik sy idee was en aangedring om daarvoor te betaal. Joey het Magrieta na die beste moontlike lig geneem en vy oto’s geneem.

      Maar vir Fienatjie kon hy net een keer afneem, omdat hy nog net een plaat oorgehad het. Dit was toe hy daardie foto’s neem dat Joey Drew begin verander het en ’n fotograaf van die ongewone geword het. Dit moes die noodlot gewees het, het hy altyd gesê, want hy het met nuwe oë leer kyk en gesien dat net die ongewone en nie-alledaagse eintlik die moeite werd is om te fotografeer – dit was veel beter as om die een familie na die ander in starende groepe te laat versteen.

      Gertruida van Wyk het gehoor dat Joey Fienatjie net een keer afgeneem het, en sy was daarom seker dat hulle Joey weer sou sien, want Fienatjie het gedroom dat hy haar twee keer sal afneem en daarna nog een keer ampertjies. Hulle sou hom dus bepaald weer sien.

      Want Fienatjie Minter het nooit verkeerd gedroom nie. Nooit.

      Drie

      Die oorlog het in Oktober gekom.

      In die verre Brittanje het die aankondiging van nog ’n geringe oorloggie nie veel gevoelens gaande gemaak in onbetrokke kringe nie. Dié wat wel geïnteresseerd was in die dinge van die Britse Ryk kon natuurlik goed genoeg sien hoe die pers die vyand swartsmeer en die gemoedere opsweep, en hoe die politici met welgekose halwe waarhede – met die een oog op ’n loopbaan en die ander een op rede-soek – die geregtigheid buig en knak tot dit hulle pas. Uit die geringste kan ’n magtige ideaal opgetower word, en omtowering was hulle nering. Terwyl hulle agter hulle parades en blink knope skuil, het die leër-owerstes wat die tekens geken het, met wis-sekerheid beplan en gewoel rondom die senior aanstellings. Die geldmag het die invloed van die oorlog op die mark en die beurs bedink en so hier en daar ’n handjie bygesit om dinge bietjie aan te help. Gelukkig was daar genoeg aanstigters in Suid-Afrika.

      Alles was dus normaal, soos alles normaal was met die baie oorloggies teen die inboorlinge, die minderes, die kultuurloses, die onbeskaafdes, die barbare. Die Boere was nie meer as daardie stamme en volkies nie, kyk maar in die pers, en alles was deel van die groot opmars van die beskawing en die lig wat versprei moes word: van die leer van christelike liefde, goeie administrasie, Victoriaanse maniere en moraliteit, en die behoorlik-winsgewende selfverryking uit ander mense se grondstowwe. Ná 200 oorloggies raak ’n mens gewoond daaraan, alhoewel die lokaas hierdie keer die grootste goudveld in die wêreld was – dié dinge kos geld – en nie net nog ’n stuk rooi aarde wat moes help keer dat die son nêrens oor die Empire ondergaan nie.

      Die vallende blare van die Britse laatherfs het wel getoon dat die jaar besig was om te sterf, maar dit was nie waarna die mense gekyk het nie – dit was die kalender met sy syfers wat aangekondig het dat ’n ou eeu maak plek vir ’n nuwe.

      In die ooptes van die Vrystaat en Transvaal het die ploeë al reggestaan om die grond te skeur vir die eerste oes van die nuwe eeu. Die vroeë donderbuie van ’n vars seisoen het begin om hulle seëninge oor die veld en lande te giet. In die boorde om die huise was bloeiseltyd amper verby en het die vruggies aan die dra-takkies begin bult. Die winterlammers het al die smaak van nuwe groen leer ken, en die beeste het uit hulle skraal winter gesteier na die vettigheid van ’n nuwe somer.

      Daardie lente was gemaak vir vrede en vir boer, nie vir afwesighede oorlog toe nie. Die Boere het geboer, die seisoene was hulle bestaan, hulle leeftog en hulle bemoeienis, hulle gewoonte en hulle bekommernis. Dit was ’n ongeleë tyd om te gaan oorlog maak.

      Veldkornet Willemse het met die boodskap gekom dat dit oorlog is en dat elke weerbare man by sy kommando moet aansluit – gewapen en berede, met mondprovisie vir agt dae.

      Danie het onmiddellik vir Joey aangesê om die volgende oggend, en nie ’n oomblik later nie, te gaan.

      Voor aandete daardie aand het Gertruida hom na die eetkamer toe gevat en ’n kaart uit die groot buffet gehaal. Sy het aan hom verduidelik hoe hy by Bloemfontein of Kimberley kon uitkom. Joey was verbaas oor hoe ver wes en suid hy na Hans Bester se dood op sy swerftog gevorder het. Hans se graf moet honderde myle van daar af wees.

      Vroegoggend was sy kar al ingespan en sy goed opgepak. In die kombuis het Dorothea hom ’n laaste ontbyt laat toekom, hom soutvleis en beskuit vir padkos saamgegee, hom stram gegroet en in die huis verdwyn.

      Joey Drew het gegaan. ’n Klein figuurtjie het vir hom van die bywonershuisie af gewaai. ’n Entjie van die plaashek af het hy die perde ingehou, opgestaan op die kar, en met al twee arms teruggewuif. Die afskeid was vir hom swaar. Hy het gewens hy het ’n manier gehad om Fienatjie so te fotografeer – só, waar sy, oorgegee aan die afskeid, met albei arms en ’n jubelende lyfie net vir hom waai.

      Hy’t die pad Kimberley toe gevat, want Bloemfontein het te veel na daardie skraperige taal geklink.

      Later, soos Gertruida voorspel het, het hy die grootpad gekry en daarmee saam groepe Boere wat op pad was na die front in die suide. Elke groep het hom gestop, sy goed deurgesoek, hom ondervra deur tolke van wisselende vermoëns en hom dan laat gaan.

      Dit het mettertyd vir Joey duidelik geword dat hy met ’n soort paspoort sit: die kamera en ’n baie besige professionele houding. Die meeste groepe wou, wanneer hulle verneem wat sy nering is, hulle historiese oomblik laat verewig op Joey se geheimsinnige swart plaatjies, en wanneer hulle nie gevra het nie, het hy aangebied om hulle te fotografeer. Die bestellings vir afdrukke is geneem, die geringe vooraf-geldjie is betaal en aflewering sou ná die oorlog geskied by die apteek in Kimberley. Joey het die groepe met groot sorg gerangskik, baie te sê gehad oor die beskikbare lig, en dan sy “hold it, hold it, hold it, h-o-o-o-old” met oortuiging laat hoor voor hy sy onderwerpe met ’n leë kamera fotografeer. As daar te veel versoeke vir foto’s was, het Joey begin weier – omdat die koste daaraan verbonde so hoog is, het hy verduidelik, en omdat daar met die koms van die oorlog onsekerheid is oor die verdere beskikbaarheid СКАЧАТЬ