Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 13

Название: Fees van die ongenooides

Автор: PG du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624052616

isbn:

СКАЧАТЬ het maklik gepraat en makliker gespog. Sy besittings, sy perd, die mooiste vrou – alles was die beste en moes sigbaar die beste wees. Agter sy rug het hulle hom Blink-Daantjie genoem. En oor die familietafel daardie middag kon hy sy blink patriotisme uitstal. Hy het, soos ’n volksredenaar, met die diepste moontlike stem gepraat en die gesegdes van die politieke sprekers nageboots. Sy tirade was vol van “vryheid kosbaarder as die lewe self” en “dié land so duur gekoop met … . ja, geheilig, deur die bloed van ons vaders en benat met die smartlike trane van ons moeders”. Met al dié geykte woorde het Daantjie tog gesê waarin hy geglo het, want die woorde het in hom ingegroei totdat daar rondom hom uiteindelik ’n geheiligde volk in ’n heilige vaderland was – met hom in die middelpunt. Teen die einde van sy belydenis het hy met ’n sagter, gepynigde stem die swakheid van sommige volksgenote betreur – dié wat so máklik, só maklik, dit wat heilig is kan weggee, sonder om bereid te wees om die offer te bring. Die óffer te bring.

      “Ek is nie een van hulle nie, jy kan maar ophou,” het Wynand, wit om die mond, tussenin gesê.

      Martie van Wynand was nie ’n imposante vrou nie. Sy was kort en geset, maar wat sy nie besit het aan gestalte nie, het sy voor opgemaak in opvlieëndheid. Sy’t alles wat Daantjie aan die sê was van harte geglo, en sy en Wynand het al dikwels woorde gehad oor sy vredeliewendheid, maar wat Daantjie in die rigting van haar man geskimp het, was te erg. In haar oë was weifeling al klaar ontrouheid, en ontrouheid die eie-broer van die grootste doodsonde denkbaar: verraad. Sy moes iets sê: “Dorothea, sê vir hierdie seuntjie van jou hy moet sy groot bek van Wynand af hou.”

      “Daantjie wys nie vinger nie, Martie …”

      “Ek het dit nie só bedoel nie, oom Wynand …” het Daantjie begin terugkrabbel, want sy pa se blik was swaar op hom.

      ’n Stilte het oor die familietafel kom broei. Oupa Daniël het ’n enkele keer in die rigting van vergewensgesindheid en broederlike liefde geskimp. Dit het nie gehelp nie. Net die messegoed het op borde geklik.

      Dit was in dié stilte dat die klavier sy enkele noot laat val het. ’n Vuurhoutjie van ’n noot.

      Die twee dogtertjies, Sussie en Driena, het gevra of hulle, terwyl die grootmense in die eetkamer eet, buite op die stoep hulle eie speelmaaltyd kon hê. Maar die kos was gou op en hulle het moeg geraak vir die speletjie. Sussie wou vir Driena tante Gertruida se klavier gaan wys en hulle het stil by die eettafel verbygeskuif tot voor die klavier. Sussie het die flap saggies oopgemaak, die vilt-bedekking oor die klawers weggetrek, en al wat sy wou maak, was om een noot stadig en dus sonder ’n geluid af te druk. Maar daar was ’n geluid en die noot het die gelade stilte ingevaar.

      Gertruida het hulle sag vermaan: “Kom weg van die klavier af, kinders.”

      “Driena, kom weg van daardie ding af!” het Martie skerper as wat sy gewoonlik met haar dogter praat, gesê.

      Sussie het agtergekom dat daar iets groots verkeerd was tussen die grootmense en sy het flap saggies probeer toemaak. Maar haar hand het die klawers geraak en ’n vals akkoord het deur die vertrek geklink.

      Martie het haar na haar skoonvader gedraai en hard, sodat die hardhorende ou man kan hoor, vir hom gesê: “My arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa. Hoor Pa my? Ek sê, my arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa.”

      “Nou hoekom sal sy nou só ’n ding doen?”

      “Nooit-nooit-ooit sou sy dit toegelaat het nie. Nóóit!”

      Oupa Daniël was uit die veld geslaan: “Die-wat-nou sou sy nie wou toelaat nie?”

      Wynand het Martie geken en probeer keer wat daar te kere was: “Martie, los die mense uit …”

      “Nee, Wynand, ek het my sê en ek gaan hom sê.” Daar was ’n verbetenheid in haar stem en sy wou voortgaan, maar Gertruida het haar voorgespring: “Nou sê dan jou sê, maar ek kan nou al vir jou sê wat jy gaan sê: die klavier is Satan se instrument, dis wat jy wil sê. En hy’s hier omdat ek in die Kaap loop skoolgaan het tussen die Engelse, is dit nie? En dis hoekom ek nooit ’n man gekry het nie – soos jy agter my rug vir die Bothas gaan loop en vertel het, en oor my aanstellerigheid oor ek dink niemand hier is goed genoeg vir my nie! Dis wat jy wil sê!”

      “Al wat ek vandag vir jou kan sê, Gertruida van Wyk, is dat my oorlede skoonmoeder nooit daardie wêreldlike ding in hierdie huis sou toegelaat het nie!”

      “Gertruida speel net stigtelike musiek op die klavier, Martie,” het oupa Daniël sake probeer kalmeer.

      “Moenie dit vir my probeer vertel nie … Vader. En om te dink sy’t die kosbare liefdesgeld wat haar moeder vir haar nagelaat het op hierdie duiwelsding verspil! Net sonde en versoeking kan uit daardie ding uit kom! Ek gaan hoed opsit.”

      Daarmee is Martie die kamer uit. Wynand het sy kop geskud: “Sy word deesdae so. Dis seker maar oor die oorlog in almal se binnewerke rondkarring. Ek het die Here al so baie keer gevra dat Hy Martie moet verlos van dié godsdienstige ding … Wat lag jy, Gertruida?”

      Gertruida wou nie verduidelik oor die Liewenheer se penarie met so ’n teenstrydige gebed nie, en het ná ’n “ag, sommer” stilgebly.

      Wynand-hulle het dus nie oorgeslaap soos die plan was nie, maar dadelik begin aanstaltes maak. Hulle wou nie te diep-donker by die huis kom nie, was Wynand se verskoning.

      Buite, waar Greeff besig was om Wynand se perde in te span, het Danie op sy beurt verskonend na die middag se woorde verwys: “As ’n vader is ek trots op Daantjie se warm gevoelens vir ons volk, Wynand. Hy is nog jonk en voortvarend …”

      “Grootbekkigheid gaan ons nêrens bring nie.” Met dié woorde het Wynand heel onnodig om die kar na die ander kant van die perde gestap en daar aan ’n gespe gaan trek. Danie het geweet hoeveel dinge sy broer gelyk sê en toe maar eenkant bly staan tot die kar gereed was.

      Voor hulle ry, wou Martie gou gaan verneem wat Fienatjie Minter oor die oorlog gedroom het. Sy het die kind agter die hoenderhok gekry waar sy en die skeel fotograaf besig was met ’n soort speletjie.

      Maar die kind kon haar niks vertel nie, want toe sy Fienatjie vra wat sy deesdae droom, het die kind gesê sy droom van miere, baie-baie miere, en sy droom dat die miere die kinders laat sing. Sy huil altyd as sy van die miere droom, het Fienatjie bygesê, want sy droom sy sing saam met die ander kinders.

      Aan sulke onsinnighede kon ’n grootmens haar tog nie steur nie. Dit het gelyk of die kind die talent wat sy met haar helm-geboorte gekry het, aan die verloor was. Martie het Fienatjie agter die hoenderhok by die vyand se verteenwoordiger gelos en op die kar gaan klim om te wag dat Wynand klaar groet sodat hulle kon ry.

      Joey Drew het goed genoeg geweet dat die speletjies waarmee hy en Fienatjie agter die hoenderhok besig was vir ander mense vreemd sou lyk.

      Partykeer het hy en Fienatjie ooreengekom dat hulle sal maak of hulle mekaar verstaan. Nie dat dit juis ’n ooreenkoms genoem kan word nie, want hulle het nog nie genoeg woorde tussen hulle gehad om iets so abstrak soos ’n ooreenkoms bymekaar te praat nie. Dit was sommer ’n saamstem dat hulle sal speel hulle verstaan mekaar.

      In daardie tye kon Joey Drew haar vertel van al sy wedervaringe, waar hy al orals was, die plekke waar hy grootgeword het, die mense wat hy geken het, die myn, en hoe hy met Hans Bester saam die Vrystaat in is. En Fienatjie kon hom vertel hoe sy nog altyd elke keer die waarheid gedroom het, en wat sy deesdae droom en hoekom sy wakker word met ’n skreeu, en hoekom sy huil oor СКАЧАТЬ