Название: Anton Goosen
Автор: Hanlie Retief
Издательство: Ingram
Жанр: Зарубежная деловая литература
isbn: 9780624089742
isbn:
Sonja Herholdt vertel in haar boek, Sonja, meisie van Nigel, hoe skaam sy vir my was, sy het met twee vriendinne gereël om by die onderhoud te wees en hulle wag my in met ’n melktert wat sy gebak het. Dit was haar eerste onderhoud, myne ook.
Ek het vir haar vertel ek skryf liedjies en sy was baie opgewonde, want sy het liedjies vir haar eerste album gesoek. Sy het by ons huis in 2de Laan kom kuier en sy vertel in haar boek hoe ons uit my en Antjie se bekers koffie gedrink het terwyl sy deur my liriekboek blaai.
Ek was ’n “stil, terughoudende man, inkennig en versigtig,” het sy oor my geskryf:
Na my mening was hierdie man ’n uitsonderlike liedjieskrywer en ek het baie van hom gehou …
… Wat’s daai een? Ek het skielik met ’n vinger na ’n titel gewys, maar Anton het vinnig omgeblaai. Nee, wag ’n bietjie, nie daai ene nie. Die vorige een, Anton, blaai terug.
Ag nee wat, het hy dit afgemaak met ’n handgebaar. Ek het dit geskryf vir ’n skooloperette.
Sing dit vir my.
Dis ’n simpel liedjie, Sonja.
Sing dit vir my. Tóé Anton.
Teësinnig het hy sy kop geskud, teruggeblaai, keel skoongemaak. Hy het ’n inleiding op sy ghitaar getokkel en sag, heserig begin: Jantjie, kom huis toe – Katryntjie wag op jou.
Ek het onmiddellik geweet. Dís my liedjie – sonder twyfel. Ek wil Jantjie opneem – dis ’n treffer.
As Sonja se manager, Corrie Rademeyer, na ons toe gekom het, het hy altyd oor die muur geklim met sy aktetas en breë rooi das wat amper onder sy gulp gehang het.
Ek en Sonja is na Pikes Cronjé se studio waar ons tot vieruur die oggend demo’s gemaak het. Dis waar ek die eerste keer gesien het hoe verskriklik hard sy kan werk. Op toere was sy die eerste een om kabels te help oprol en mikrofone in hul kassies terug te sit, nogal heel anders as die diep, donker divas wat voor die show moet rus en ná die show weer wil rus en baie upset raak as die koerante skryf oor die sweet onder hul armholtes.
Sonja was ’n trooper, maar ek kon my altyd verstom aan hoeveel handdoeke in haar hotelkamers op die vloer gelê het.
Brigadier Films was in Die Eike in Randburg, die hoofkwartier van die FAK en die Broederbond. Teen die gebou was Brigadier Films se oop hand-logo, maar die musiekafdeling se kantoor was by EMI se fabriek in Steeldale in Johannesburg. Brigadiers se mister Albie Venter het aanvanklik nie gedink “Jantjie” gaan werk nie, want dit gaan dan oor mense van kleur. Sonja het haar voetjie neergesit en gesê óf ons neem hierdie op óf ek neem nie meer by julle op nie. Mister Venter het nie eens ’n bandopnemer in sy kantoor gehad nie, Sonja se man, FC Hamman, moes syne saamvat.
Albie Venter wou die publikasieregte vir al my songs hê. “Jantjie” en die ander op Sonja se eerste album was reeds by DeeJay-musiek, Louis Combrinck se maatskappy. Louis het homself aan die man met die kurkhoed oorgegee. Ek het nooit enige uitgewersgeld vir “Jantjie” en daardie eerste songs ontvang nie. Met Sonja se tweede plaat het ek “Hanoverstraat” se uitgewerskontrak by EMI-Brigadiers geteken. Albie wou alles hê, toe reël ons ’n ete-afspraak. Ek het vasgeskop en vir hom gesê hy wil die kos uit my vrou en kind se monde vat.
“Die jong komponis Anton Goosen,” soos resensent Jakkie Groenewald my in Die Vaderland genoem het, het vyf van die liedjies op Sonja se eerste langspeler geskryf. Dis in Mei 1976 bekend gestel. Ek en Antjie het pottery-sleutelhouers as geskenke uitgedeel vir “Jantjie” se bekendstelling.
“Jantjie” was oombliklik ’n treffer. Toe is die krane oop en teen 1978 het ek byna al die musiek vir Sonja se albums geskryf. Sonja beskryf dié tyd as ’n “wonderlike goeie era, ’n skeppende era in ons lewe”. Dit was presies so.
Die eerste keer wat ek “Jantjie” op die lug gehoor het, was oor die luidsprekers van die landbouskou op Steynsrus waar ek en Antjie ’n pottery-stalletjie gehad het. Sonja sing dit presies reg, het ek nog gedink. Op daardie skou is pryse vir die beste stalletjie toegeken. Ons het tweede gekom, die trekkerstalletjie het gewen.
Ek het al baie keer terugverlang na daardie tyd, voordat fame jou tref. Jy kon nog in die hoek by die bar sit en na die praatjies luister en niemand herken jou nie. Eintlik wou ek net die een ná die ander trefferliedjie skryf, dit was vir my genoeg.
4
Liedjieboerdery
As onderwysstudent het ek met my kleurbaadjie oor die skouer en musiek-tape in my hand Johannesburg toe geryloop, vol verwagting en hoop. Eers 15 jaar later, op 33, is my eerste liedjie opgeneem. Dit geld seker nie vir almal nie, maar ek glo dat jare se volharding wel ook jare se wysheid bring – wysheid en rypheid wat jy nodig het om jou gedagtes musikaal oor te dra. Woorde en musiek is vir my ’n eenheid, die een kom nie noodwendig voor die ander nie, maar ek veronderstel dit kan wel anders gebeur.
Ek probeer soveel tyd moontlik afstaan aan die ontwikkeling van ’n lied of tema. Soms is dit jare, natuurlik met tussenposes, want jy moet jou gedagtes blaaskans gee. Ek probeer myself soveel moontlik ontvanklik hou vir gebeurtenisse en situasies, soos ’n musiekjoernalis dit behoort te doen.
Ek skryf grootliks tematies. As liedjieskrywer hoor ek spontaan ’n tema in my kop – soms die musiek, soms die woorde, maar meestal saam soos “Waterblommetjies” en “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie-boeredans”. Dis die beste manier om liedjies te skryf, het ek gevind. As jy gaan sit en doelbewus ’n liedjie probeer uitdink, is hulle gewoonlik nie so goed nie. Maar selfs met dié wat uit die hart kom, moet jy by ’n tafel gaan sit en sweet, soms nagte lank, want ’n liedjie is so goed soos die swakste skakel. Moet nooit in jou aanvanklike opgewondenheid vergeet om ’n ruk daarna nugter hersiening te doen nie. Skryf oor dinge wat jou gehoor sal verstaan en waarvan hulle hou.
“Waterblommetjies” het ek binne vyftien minute geskryf nadat ek Esmé Euvrard die woord oor die radio hoor sê het. Een aand het ek na ’n TV-program oor die trein na Matjiesfontein gesit en kyk en dadelik gedink dis ’n heerlike titel vir ’n liedjie. Ek en Antjie het gereeld bargains by die Indiërwinkels in Fietas, soos Vrededorp destyds genoem is, gaan soek. As die een winkel nie iets gehad het nie, was daar altyd ’n uncle in ’n ander winkel wat dit wel aangehou het. Toe word 14de Straat in Fietas die inspirasie vir “Kyk hoe dans ek”, my liedjie vir Sonja. Dis polities dubbelsinnig, soos ’n vrolike liedjie oor iemand wat hartseer is: Bye bye love, bye bye happiness. Kyk hoe happy is ons Indiërs in 14de Straat, al jaag julle ons hier weg. Ek het hierdie tema ook in “Jantjie” gebruik en in my songs oor Distrik Ses en gedwonge verskuiwings soos “Atlantis” en “Hanoverstraat”, en dis ook hoekom die engel in “Waterblommetjies” trane in sy oë kry oor die Kaap.
Die reël “dina kanakia” in “Hanoverstraat” kom uit ’n ou tradisionele song. Brigadiers het my gedwing om dit te verander na “môre ga’ ons seaside toe” want die gehoor sou dit kwansuis nie verstaan nie. Met ghantang het ek my voet neergesit, die Maleise woord wat my ma so graag gebruik het vir ’n vryersklong. Daar is nou nog mense wat my vra wat ’n ghantang is, en dit wys net weer as ’n vreemde woord opspring gaan dit mense nie keer om van die liedjie te hou nie.
Tussen 1976 en 1978 is seker so vyftig van my liedjies deur sangers opgeneem en teen 2019 trek dit seker verby 500, maar ek tel nie. Ek sê al sedert 1979 vir joernaliste wat vra dis 500. Ek weet nie hoeveel nie. Dit maak nie saak nie. Kwantiteit heers nie oor kwaliteit СКАЧАТЬ