Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten страница 20

Название: Die versoeking van Thomas Maas

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798181174

isbn:

СКАЧАТЬ vlieg al Sondag.” Hy sal graag meer wil weet oor haar kort en treurige lewe saam met Nicolás. “Konferensie in Kaapstad.”

      “Oukei, sien jou oor twee weke.”

      En uit is sy, skielik haastig, asof sy pas onthou het van nog ’n afspraak.

      KANTNOTA

      Vir die chronologie van gebeure tydens die Kaapse besoek was Ella verplig om wéér swaar op Thomas Maas se onbetroubare mededelings te leun. Natuurlik kon Donna beperkte leemtes invul, maar Jan Enslin en Frans Marais wou niks weet nie, glo uit persoonlike, kollegiale en professionele lojaliteit.

      En Matias en Gabriela Torres was onopspoorbaar, asof weggeraap.

      Frans Marais van Bloemfontein kon sy nog in ’n mate verstaan. Maar Jan Enslin? Sielkundige, traumaberader, Thomas Maas se boesemvriend en vertroueling, al uit studentedae. En boonop was hulle huisvriende, die Mase en Enslins.

      Daaroor het Ella gewonder: Is dit dan nie juis logies dat Jan Enslin graag sal wil help om weer vrede, vergifnis, genade en algemene lankmoedigheid tussen Thomas en Donna te herstel nie?

      Maar hy wou Ella nie eens sien nie, het haar deur sy assistent van sy deur weggehou. Die truuk om haar as pasiënt voor te doen kon sy nie weer probeer nie, Thomas Maas sou sy vriend teen die sluwe private speurdertjie gewaarsku het.

      Eers baie later, uit ’n onverwagte oord, het sy broksgewys die feitelike bewyse begin kry waarna sy so hard gesoek het. Whatsapps met tekste en foto’s wat haar oplaas in staat gestel het om Thomas Maas se eensydige relase te begin toets.

      Maar toe was dit al amper te laat, toe was daar al ’n dooie liggaam.

      Thomas se weergawe

      Kaapse rendezvous | Sondag 8 November

      Hy vlieg Sondagaand Kaap toe en bel vir Donna toe hy in sy hotelkamer in die Southern Sun kom. Dit is die reël wanneer hy van die huis af weg is: om hulle daaglikse saamtyd selfs telefonies te probeer volhou. Sy klink rustig, in die kombuis besig met aandete, Rolf en Antonie speel skaak, Patty en Florie besig om vir die eksamen te leer. Dit is hoe hy daarvan hou, van rus en vrede in sy huis, veral as hy nie self daar kan wees nie.

      Die res van die aand handel hy e-posse en praktykadmin af waarop puntenerige Annie wag. Middernag en Donna seker lankal aan die slaap, stuur hy ’n laaste whatsapp vir haar:

      Mis jou al klaar. Mooi drome xxx

      Maandag word deur registrasie en ’n bespreking van huisreëls in beslag geneem. Die aand is die amptelike opening.

      Dinsdagoggend begin die konferensie in alle erns. Hy en Jan Enslin en Frans Marais van Bloemfontein gaan eet die aand in ’n restaurant by die Waterfront. Hulle kuier nie laat nie, want hy wil nog op die internet ’n paar verwysings nagaan. Hulle besluit dat negeuur ’n betaamlike tyd is om terug te gaan.

      In die foyer, op pad na die hysbakke, steek Thomas vas.

      Jan draai om. “Kom jy?”

      In die skemerkroeg daar links herken Thomas enkele gesigte van kollegas. Maar hulle is net terloops op die periferie van sy gesigveld, sy blik ingezoem op ’n ander gesig.

      “Uh, dink ek sien ’n ou vriend. Gaan julle maar solank.”

      Jan en Frans kry koers hysbakke toe en hy bly staar na die twee vroue in die skemering van sagte lig by ’n tafeltjie. Eintlik na die een met die swart hare en arm vol armbande. Kan dit wees, só ’n toeval?

      Toe, asof sy die blik op haar voel, lig sy haar gesig in sy rigting. Hulle oë ontmoet. Sy glimlag en fladder vingers. Hy lig sy hand en merk tegelyk die man wat uit die rigting van die toilette aankom en by Amalia-hulle gaan sit.

      Fred?

      Hy mik vir die hysbakke, sien dan hoe sy wink. Hy steek weer vas. Wat nou? Haar uitnodiging kan hy kwalik ignoreer. Veral as sy hom aan Fred wil voorstel. Vir wie sy wil los. Maar wat sy in Kaapstad kom ontmoet. Van sy oorsese vlug. Saam met wie sy nou skemerkelkies drink. In die Southern Sun waar hy, toevallig, tuisgaan.

      Hy vee ’n voorvinger oor sy bolip en stap die kroeg binne. Die plek is gepak. Bo die ruising van stemme is Billy Joel skaars hoorbaar. I am an innocent man, oh yes I am …

      Sy hou haar hand vir hom. “Dis ’n lekker verrassing.” En stel hom as “meneer Maas” voor aan Matias en Gabriela Torres, “my goeie Argentynse vriende”. En sê: “Sit. Shiraz?”

      Gabriela, van die Finzikonsert?

      “Ek het ’n lang dag môre,” sê hy staande, “eintlik moet ek in die bed kom.” En ’n whatsapp vir Donna stuur om lekker te slaap. Al kan hy hier van bo af kwalik sy oë van die hemelse boesem afhou, die bloes een of twee knope te laag oop.

      “Moenie ongeskik wees nie, Tomás,” sê sy. “Kom sit, drink ietsie saam.” En klop op die stoel langs haar.

      Hy skuifel langs haar in, soek plek vir sy voete en raak bewus van die hitte van haar bobeen teen syne, van haar aroma wat bedwelmend na sy neus aangesweef kom soos die feromone van ’n wyfiemot. Hy is ook bewus van Gabriela se starende blik op hom. Sou Amalia iets oor hom gesê het in die oomblikke vandat sy hom daar in die voorportaal opgemerk het tot met sy aankoms by hulle tafel? Dalk: Moenie omkyk nie, maar daar’s die kopkwak wat my huwelik probeer red. Hy’t my opgemerk en dis nou te laat om te maak of ek hom nie gesien het nie. Gee julle om as ek hom maar vir ’n glasie wyn nooi?

      Hy vermoed dit word van hom verwag, as nuwe aankomeling, om praatjies te maak. Hy kyk na Matias. “Is julle hier vir vakansie?”

      Hy skud sy kop en sê: “Nee,” in Engels.

      Matias lyk nie na ’n boer nie, maar Thomas vra: “Ook betrokke by beeste of perde, Matias?”

      Dié loer na Amalia en sy sê iets in Spaans.

      “Hy verstaan Engels, maar praat dit sleg,” sê Amalia. “Matias was ’n sokkerspeler. Die meeste van die tyd in Europa waar die groot geld is, voor sy aftrede by Athletic Bilbao.”

      Matias knik bevestigend.

      “Ons bly in een van Amalia se woonstelle,” sê Gabriela, haar Engels heel skaflik.

      “Dis ’n groot verrassing om jou hier te sien,” sê Thomas, sy aandag terug by Amalia. “Het jy hier in Kaapstad ook ’n perdryskool?”

      “Net twee woonstelle. Een vir myself, en een vir vriende en familie. Jy moet sê as jy jou vrou en kinders wil bring. Die gaste-een is in Fresnaye.”

      “So, jy kom dikwels Kaap toe. Vir jou en Fred se besigheidsbelange? Terloops, is hy al terug?” Hy besef ineens dat hy meer van haar Argentynse agtergrond weet as van haar lewe in Suid-Afrika.

      “Ek wil regtig nie vanaand oor hom gesels nie, los hom maar vir ons sessies. Ek’s hier om bietjie saam met Matias en Gabriela te kuier. Hulle is nog ’n rukkie in die Kaap, maar ek vlieg die naweek terug Johannesburg toe.” Hy voel ineens haar palm onder die tafel op sy bobeen, miskien bloot gemoedelik saam met die vraag: “Tot wanneer is jou konferensie?”

      “Vrydag.” СКАЧАТЬ